YouVersion Logo
Search Icon

I SAMUEL 15

15
Saul en Ámalek. Sy sonde en straf.
1TOE sê Samuel vir Saul: Die Here het my gestuur om jou as koning te salf oor sy volk, oor Israel; luister dan nou na die stem van die woorde van die Here.
2So sê die Here van die leërskare: Ek het terdeë gelet op wat Ámalek Israel aangedoen het, dat hy hom in die weg gestaan het by sy optog uit Egipte.
3Gaan nou en verslaan Ámalek, en julle moet met die banvloek tref alles wat hy het; en jy mag hom nie verskoon nie, maar jy moet om die lewe bring man sowel as vrou, kind en suigling, bees en kleinvee, kameel en esel.
4Daarop het Saul die manskappe opgeroep en hulle gemonster in Teláim: tweehonderdduisend voetgangers en tienduisend man van Juda.
5En toe Saul by die stad van Ámalek aankom en in die dal 'n hinderlaag opstel,
6sê Saul vir die Keniete: Gaan weg, verwyder julle, trek af onder die Amalekiete uit, dat ek julle nie met hulle saam wegruim nie; want julle het guns bewys aan al die kinders van Israel by hulle optog uit Egipte. Toe het die Keniete hulle verwyder onder die Amalekiete uit.
7En Saul het die Amalekiete verslaan van Háwila af in die rigting van Sur wat oos van Egipte lê.
8En Agag, die koning van Ámalek, het hy lewendig gevang, maar die hele volk deur die skerpte van die swaard met die banvloek getref.
9Maar Saul en die manskappe het Agag gespaar, en die beste van die kleinvee en beeste, en die naas-bestes en die lammers en alles wat van waarde was — dit wou hulle nie met die banvloek tref nie; maar al die goed wat veragtelik en vervalle was, dit het hulle met die banvloek getref.
10En die woord van die Here het tot Samuel gekom en gesê:
11 Ek het berou gekry dat Ek Saul koning gemaak het, want hy het van My afvallig geword en my woorde nie uitgevoer nie. Toe het Samuel kwaad geword en die hele nag deur die Here aangeroep.
12Maar die môre vroeg het Samuel hom klaargemaak om Saul te ontmoet. En aan Samuel is meegedeel en gesê: Saul het in Karmel aangekom, en kyk, hy het vir hom 'n gedenkteken opgerig; en hy het weggedraai en verbygegaan en afgetrek na Gilgal.
13Toe Samuel by Saul kom, sê Saul vir hom: Mag u geseënd wees deur die Here: ek het die woord van die Here uitgevoer.
14Daarop vra Samuel: Maar wat vir 'n geblêr van kleinvee is dit in my ore en 'n gebulk van beeste wat ek hoor?
15En Saul sê: Van die Amalekiete het hulle dit gebring, want die manskappe het die beste kleinvee en beeste gespaar om aan die Here u God te offer; maar die ander het ons met die banvloek getref.
16Toe sê Samuel vir Saul: Hou op, dat ek jou kan meedeel wat die Here vannag met my gespreek het. En hy antwoord hom: Spreek.
17En Samuel sê: Is jy, hoewel jy klein was in jou eie oë, nie tog die hoof van die stamme van Israel nie? En die Here het jou as koning oor Israel gesalf.
18En die Here het jou op die pad gestuur en gesê: Gaan heen en tref die sondaars, die Amalekiete, met die banvloek en veg teen hulle totdat hulle vernietig is.
19Waarom het jy dan nie na die stem van die Here geluister nie en op die buit afgestorm en gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here?
20Toe sê Saul vir Samuel: Ek het na die stem van die Here geluister en gegaan op die pad waar die Here my op gestuur het, en Agag, die koning van Ámalek, gebring; maar die Amalekiete het ek met die banvloek getref.
21Maar die manskappe het van die buit kleinvee en beeste geneem, die beste van die bangoed, om aan die Here u God in Gilgal te offer.
22Daarop sê Samuel: Het die Here behae in brandoffers en slagoffers soos in gehoorsaamheid aan die stem van die Here? Kyk, om gehoorsaam te wees is beter as slagoffer, om te luister beter as die vet van ramme.
23Want wederstrewigheid is 'n sonde van waarsêery, en eiesinnigheid is afgodery en beeldediens. Omdat jy die woord van die Here verwerp het, het Hy jou as koning verwerp.
24Toe sê Saul vir Samuel: Ek het gesondig, omdat ek die bevel van die Here en u woorde oortree het, want ek was bevrees vir die manskappe en het na hulle geluister.
25Vergeef dan nou tog my sonde en kom met my saam terug, dat ek die Here kan aanbid.
26Maar Samuel sê vir Saul: Ek sal nie met jou saam teruggaan nie, omdat jy die woord van die Here verwerp het, en nou het die Here jou verwerp om koning oor Israel te wees.
27Toe Samuel hom omdraai om weg te gaan, gryp hy die slip van sy mantel, maar dit het afgeskeur.
28En Samuel sê vir hom: Vandag het die Here die koningskap oor Israel van jou afgeskeur en dit aan jou naaste gegee wat beter is as jy.
29 En ook lieg die Roem van Israel nie, en Hy ken geen berou nie; want Hy is geen mens, dat Hy berou sou hê nie.
30En hy sê: Ek het gesondig; eer my tog nou voor die oudstes van my volk en voor Israel, en kom saam met my terug, dat ek die Here u God kan aanbid.
31Samuel het toe teruggegaan agter Saul aan, en Saul het die Here aanbid.
32Daarop sê Samuel: Bring Agag, die koning van Ámalek, na my toe. Terwyl Agag dan opgeruimd na hom gaan, sê Agag: Waarlik, die bitterheid van die dood het gewyk.
33Maar Samuel het gesê: Soos jou swaard vroue kinderloos gemaak het, so sal jou moeder onder die vroue kinderloos wees. Daarop het Samuel Agag in stukke gekap voor die aangesig van die Here in Gilgal.
34Daarna gaan Samuel na Rama, en Saul het opgegaan na sy huis, na Gíbea van Saul.
35En Samuel het Saul tot die dag van sy dood nie meer gesien nie, want Samuel het getreur oor Saul; en die Here het berou gehad dat Hy Saul koning gemaak het oor Israel.

Currently Selected:

I SAMUEL 15: AFR53

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy