YouVersion Logo
Search Icon

I KONINGS 19

19
Elía vlug vir Isébel en kom by die berg Horeb.
1EN Agab het aan Isébel meegedeel alles wat Elía gedoen het, ja, alles — hoe hy al die profete met die swaard gedood het.
2Daarop stuur Isébel 'n boodskapper na Elía om te sê: Mag die gode so doen en so daaraan toedoen — sekerlik sal ek môre sulke tyd jou siel maak soos die siel van een van hulle.
3Toe hy dit sien, het hy hom klaargemaak en ter wille van sy lewe weggegaan. En toe hy in Berséba in Juda aangekom het, het hy sy dienaar daar laat agterbly;
4maar self het hy 'n dagreis ver die woestyn ingegaan en daar onder 'n besembos gaan sit en gewens dat hy mag sterwe. En hy sê: Dit is genoeg, neem nou my siel weg, Here, want ek is nie beter as my vaders nie.
5Daarop gaan hy lê en raak onder 'n besembos aan die slaap; en kyk, daar raak 'n engel hom aan en sê vir hom: Staan op, eet!
6Toe hy opkyk, was daar aan sy koppenent 'n broodkoek, op warm klippe gebak, en 'n kruik water. En hy het geëet en gedrink en weer gaan lê.
7En die engel van die Here het weer vir die tweede maal gekom en hom aangeraak en gesê: Staan op, eet; anders is die pad vir jou te veel.
8Hy het toe opgestaan en geëet en gedrink en deur die krag van die voedsel veertig dae en veertig nagte lank geloop tot by die berg van God, Horeb.
9En hy het daar in 'n spelonk gegaan en die nag daar oorgebly. En kyk, die woord van die Here het tot hom gekom en vir hom gesê: Wat maak jy hier, Elía?
10En hy antwoord: Ek het baie geywer vir die Here, die God van die leërskare; want die kinders van Israel het u verbond verlaat, u altare afgebreek en u profete met die swaard gedood, sodat ek alleen oorgebly het, en hulle soek my lewe om dit weg te neem.
11En Hy sê: Gaan uit en staan op die berg voor die aangesig van die Here. En kyk, die Here het verbygegaan, terwyl 'n groot en sterk wind die berge skeur en die rotse verbreek voor die Here uit; in die wind was die Here nie. En ná die wind 'n aardbewing; in die aardbewing was die Here nie.
12En ná die aardbewing 'n vuur; in die vuur was die Here nie. En ná die vuur die gesuis van 'n sagte koelte.
13En toe Elía dit hoor, het hy sy gelaat met sy mantel toegedraai en uitgegaan en by die ingang van die spelonk gaan staan. En daar kom 'n stem na hom wat sê: Wat maak jy hier, Elía?
14En hy antwoord: Ek het baie geywer vir die Here, die God van die leërskare; want die kinders van Israel het u verbond verlaat, u altare afgebreek en u profete met die swaard gedood, sodat ek alleen oorgebly het; en hulle soek my lewe om dit weg te neem.
15Maar die Here sê vir hom: Gaan terug op jou pad na die woestyn van Damaskus, en gaan heen en salf Hásael as koning oor Aram.
16En Jehu, die seun van Nimsi, moet jy salf as koning oor Israel; en Elísa, die seun van Safat, uit Abel-Mehóla, moet jy salf as profeet in jou plek.
17En die een wat van die swaard van Hásael vryraak, hom sal Jehu doodmaak; en wat van die swaard van Jehu vryraak, hom sal Elísa doodmaak.
18Maar Ek sal seweduisend in Israel laat oorbly, al die knieë wat nie voor Baäl gekniel en elke mond wat hom nie gesoen het nie.
19Hy het toe daarvandaan weggegaan en Elísa, die seun van Safat, aangetref terwyl hy aan ploeë was met twaalf paar osse voor hom en hy self by die twaalfde paar was; en Elía het by hom verbygegaan en sy mantel op hom gewerp.
20Daarop het hy die osse verlaat en agter Elía aan geloop en gesê: Laat ek tog my vader en my moeder soen; daarna sal ek u volg. En hy antwoord hom: Gaan terug, want wat het ek aan jou gedoen?
21Hy draai toe agter hom om en neem die paar osse en slag dit; en met die osse se trekgoed het hy hulle vleis gekook en aan die mense gegee, en hulle het geëet; daarna het hy hom klaargemaak en Elía gevolg en hom gedien.

Currently Selected:

I KONINGS 19: AFR53

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy