YouVersion Logo
Search Icon

I KORINTHIËRS 11

11
1 WEES my navolgers, soos ek dit ook van Christus is.
Oor die gedrag van die vrou in die gemeente.
2EN ek prys julle, broeders, dat julle in alles aan my dink en aan die leringe vashou soos ek dit aan julle oorgelewer het.
3Maar ek wil hê dat julle moet weet dat Christus die hoof is van elke man, en die man die hoof van die vrou, en God die hoof van Christus.
4Elke man wat bid of profeteer met iets op sy hoof, doen sy hoof oneer aan;
5maar elke vrou wat bid of profeteer met onbedekte hoof, doen haar hoof oneer aan; want dit is een en dieselfde asof haar hoof geskeer is.
6Want as 'n vrou se hoof nie bedek is nie, laat sy dan ook haar hare afsny; maar as dit vir 'n vrou lelik is om haar hare af te sny of te skeer, laat sy haar hoof bedek.
7Want 'n man moet die hoof nie bedek nie, omdat hy die beeld en heerlikheid van God is; maar die vrou is die heerlikheid van die man.
8Want die man is nie uit die vrou nie, maar die vrou uit die man.
9Want die man is ook nie ter wille van die vrou geskape nie, maar die vrou ter wille van die man.
10Daarom moet die vrou 'n aanduiding van gesag op die hoof hê ter wille van die engele.
11En tog, in die Here is die man nie sonder die vrou nie, en die vrou ook nie sonder die man nie.
12Want soos die vrou uit die man is, so is ook die man deur middel van die vrou; maar alles is uit God.
13Oordeel self: Is dit betaamlik dat 'n vrou met onbedekte hoof tot God bid?
14Of leer ook die natuur self julle nie dat as 'n man lang hare dra, dit vir hom 'n oneer is nie;
15maar as 'n vrou lang hare dra, dit vir haar 'n eer is, omdat die lang hare vir haar gegee is as 'n bedekking?
16Maar as iemand meen om twisgierig te wees, ons het nie so 'n gewoonte nie, en ook die gemeentes van God nie.
Ongereeldhede by die liefdemaal. Hoe die heilige nagmaal gevier moet word.
17MAAR terwyl ek dit beveel, kan ek dit nie prys nie dat julle saamkom, nie ten goede nie maar ten kwade.
18Want in die eerste plek hoor ek dat, as julle saamkom in die gemeente, daar skeuringe onder julle is, en gedeeltelik glo ek dit.
19Want daar moet ook partyskappe onder julle wees, sodat die beproefdes onder julle openbaar kan word.
20As julle dus saamkom, dan wil dit nie sê dat julle die nagmaal van die Here eet nie.
21Want as julle eet, gebruik elkeen eers sy eie ete; en die een het honger en die ander is dronk.
22Het julle dan geen huise om in te eet en te drink nie? Of verag julle die gemeente van God, en maak julle dié beskaamd wat nie het nie? Wat sal ek vir julle sê? Sal ek julle prys? Hierin prys ek julle nie.
23Want ek het van die Here ontvang wat ek ook aan julle oorgelewer het, dat die Here Jesus in die nag waarin Hy verraai is, brood geneem het;
24en nadat Hy gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: Neem, eet; dit is my liggaam wat vir julle gebreek word; doen dit tot my gedagtenis.
25Net so ook die beker ná die ete, met die woorde: Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed; doen dit, so dikwels as julle daaruit drink, tot my gedagtenis.
26Want so dikwels as julle hierdie brood eet en hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom.
27Wie dan op onwaardige wyse hierdie brood eet of die beker van die Here drink, sal skuldig wees aan die liggaam en bloed van die Here.
28Maar die mens moet homself beproef en só van die brood eet en uit die beker drink.
29Want wie op onwaardige wyse eet en drink, eet en drink 'n oordeel oor homself, terwyl hy die liggaam van die Here nie onderskei nie.
30Daarom is daar onder julle baie swakkes en sieklikes, en 'n aantal het ontslaap.
31Want as ons onsself beoordeel het, sou ons nie geoordeel word nie.
32Maar as ons geoordeel word, word ons deur die Here getugtig, sodat ons nie saam met die wêreld veroordeel mag word nie.
33Daarom, my broeders, as julle saamkom om te eet, wag vir mekaar;
34en as iemand honger het, laat hom by die huis eet, sodat julle nie tot 'n oordeel saamkom nie. Die ander sake sal ek reël wanneer ek kom.

Currently Selected:

I KORINTHIËRS 11: AFR53

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy