YouVersion Logo
Search Icon

I KORINTHIËRS 1

1
Opskrif, seëngroet en danksegginge.
1PAULUS, 'n geroepe apostel van Jesus Christus deur die wil van God, en die broeder Sósthenes,
2aan die gemeente van God wat in Korinthe is, aan die geheiligdes in Christus Jesus, die geroepe heiliges, saam met almal wat die Naam van onse Here Jesus Christus in elke plek aanroep, hulle sowel as onse Here:
3 Genade vir julle en vrede van God onse Vader en die Here Jesus Christus!
4 Ek dank my God altyd oor julle vir die genade van God wat aan julle in Christus Jesus gegee is,
5dat julle in alle opsigte in Hom ryk gemaak is, in elke woord en alle kennis;
6soos die getuienis aangaande Christus bevestig is onder julle,
7sodat julle in geen enkele genadegawe agterstaan nie, terwyl julle wag op die openbaring van onse Here Jesus Christus,
8 wat julle ook sal bevestig tot die einde toe, om in die dag van onse Here Jesus Christus onberispelik te wees.
9 God is getrou, deur wie julle geroep is tot die gemeenskap met sy Seun Jesus Christus, onse Here.
Die onenighede in die gemeente van Korinthe.
10MAAR ek vermaan julle, broeders, in die Naam van onse Here Jesus Christus, om almal eenstemmig te wees, en dat daar geen skeuringe onder julle moet wees nie, maar dat julle verenig moet wees in dieselfde gesindheid en in dieselfde mening.
11Want dit is aan my deur die huisgenote van Chloë bekend gemaak aangaande julle, my broeders, dat daar twiste onder julle is.
12Ek bedoel dit, dat elkeen van julle sê: Ek is van Paulus, en ek van Apollos, en ek van Céfas, en ek van Christus.
13 Is Christus verdeel? Is Paulus miskien vir julle gekruisig? Of is julle in die naam van Paulus gedoop?
14Ek dank God dat ek niemand van julle gedoop het nie, behalwe Crispus en Gajus,
15sodat niemand kan sê dat ek in my naam gedoop het nie.
16Ek het ook nog die huisgesin van Stéfanas gedoop. Verder weet ek nie of ek iemand anders gedoop het nie.
Die wysheid van God en die wysheid van die wêreld.
17WANT Christus het my nie gestuur om te doop nie, maar om die evangelie te verkondig, nie met wysheid van woorde nie, sodat die kruis van Christus nie verydel mag word nie.
18Want die woord van die kruis is wel dwaasheid vir die wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God;
19want daar is geskrywe: Ek sal die wysheid van die wyse mense vernietig en die verstand van die verstandige mense tot niet maak.
20Waar bly die wyse? Waar bly die skrifgeleerde? Waar die redetwister van hierdie eeu? Het God nie die wysheid van hierdie wêreld dwaas gemaak nie?
21Want aangesien in die wysheid van God die wêreld deur die wysheid God nie geken het nie, het dit God behaag om deur die dwaasheid van die prediking die wat glo, te red;
22want die Jode vra 'n teken en die Grieke soek wysheid,
23maar ons verkondig Christus wat gekruisig is, 'n struikelblok vir die Jode en dwaasheid vir die Grieke;
24maar vir die wat geroep is, Jode sowel as Grieke: Christus, die krag van God en die wysheid van God.
25Want wat dwaas is by God, is wyser as die mense; en wat swak is by God, is sterker as die mense.
26Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie;
27maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam;
28en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak,
29 sodat geen vlees voor Hom sou roem nie.
30Maar deur Hom is julle in Christus Jesus, wat vir ons geword het wysheid uit God en geregtigheid en heiligmaking en verlossing.
31Daarom, soos geskrywe is: Die wat roem, moet in die Here roem.

Currently Selected:

I KORINTHIËRS 1: AFR53

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy