YouVersion Logo
Search Icon

I KRONIEKE 16

16
1NADAT hulle die ark ingebring en dit neergesit het binne-in die tent wat Dawid daarvoor opgeslaan het, het hulle brandoffers en dankoffers gebring voor die aangesig van God.
2Toe Dawid gereed was met die brandoffer en die dankoffers, het hy die volk in die Naam van die Here geseën.
3En hy het aan elkeen van Israel, manne sowel as vroue, aan elkeen 'n broodjie en 'n stuk vleis en 'n rosynekoek uitgedeel.
4En hy het uit die Leviete dienaars aangestel voor die ark van die Here, en dit om die Here, die God van Israel, te roem en te loof en te prys:
5 Asaf, die hoof, en Sagaría, die tweede in rang ná hom; Jeï-el en Semíramot en Jéhiël en Mattítja en Elíab en Benája en Obed-Edom en Jeï-el met harp- en siterinstrumente, terwyl Asaf met die simbale musiek gemaak het,
6en Benája en Jahásiël, die priesters, gedurigdeur met trompette voor die verbondsark van God.
Dawid se psalm.
7OP dieselfde dag, toe vir die eerste maal, het Dawid aan Asaf en sy broers opgedra om „loof die Herete sing.
8 Loof die Here, roep sy Naam aan, maak onder die volke sy dade bekend!
9Sing, psalmsing tot sy eer, spreek van al sy wonders.
10Beroem julle in sy heilige Naam; laat die hart van die wat die Here soek, bly wees.
11Vra na die Here en sy sterkte; soek sy aangesig altyddeur.
12Dink aan sy wonders wat Hy gedoen het, aan sy wondertekens en die oordele van sy mond,
13o nageslag van Israel, sy kneg, o kinders van Jakob, sy uitverkorenes!
14Hy, die Here is onse God; oor die ganse aarde is sy oordele.
15Dink vir ewig aan sy verbond, aan die woord wat Hy ingestel het vir duisend geslagte —
16 die verbond wat Hy met Abraham gesluit het, en sy eed aan Isak;
17wat Hy ook vir Jakob as insetting bekragtig het, vir Israel as 'n ewige verbond,
18met die woorde: Ek sal aan jou die land Kanaän gee, julle afgemete erfdeel.
19Toe julle min mense was, min en vreemdelinge daarin,
20en hulle getrek het van nasie tot nasie, en van die een koninkryk na die ander volk,
21het Hy niemand toegelaat om hulle te verdruk nie; ook het Hy konings om hulle ontwil gestraf en gesê:
22Raak my gesalfdes nie aan en doen my profete geen kwaad nie.
23 Sing tot eer van die Here, o ganse aarde! Verkondig sy heil van dag tot dag.
24Vertel onder die nasies sy eer, onder al die volke sy wonders.
25Want die Here is groot en baie lofwaardig, en Hy is gedug bo al die gode.
26Want al die gode van die volke is afgode, maar die Here het die hemele gemaak.
27Majesteit en heerlikheid is voor sy aangesig, sterkte en blydskap is in sy woonplek.
28Gee aan die Here, o geslagte van die volke, gee aan die Here eer en sterkte.
29Gee aan die Here die eer van sy Naam, bring offers en kom voor sy aangesig, aanbid die Here in heilige gewaad.
30Beef voor sy aangesig, o ganse aarde! Ook staan die wêreld vas, sodat dit nie wankel nie.
31Laat die hemele bly wees en die aarde juig, en laat hulle onder die volke sê: Die Here is Koning!
32 Laat die see en sy volheid bruis, laat die veld juig en al wat daarin is.
33Dan sal die bome van die bos jubel voor die aangesig van die Here; want Hy kom om die aarde te oordeel.
34Loof die Here, want Hy is goed, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid;
35en sê: Verlos ons, God van ons heil, en versamel ons en red ons van die nasies, dat ons u heilige Naam kan loof en ons beroem in u lof!
36 Geloofd sy die Here, die God van Israel, van ewigheid tot ewigheid! En die hele volk het gesê: Amen! en: Prys die Here!
Die ou tabernakel bly in Gíbeon.
37EN hy het daar voor die verbondsark van die Here Asaf en sy broers laat staan om gedurigdeur te dien voor die ark na die eis van elke dag;
38en ook Obed-Edom met hulle broers, agt-en-sestig, en Obed-Edom, die seun van Jedútun, en Hosa as poortwagters;
39maar Sadok, die priester, met sy broers, die priesters, voor die tabernakel van die Here, op die hoogte wat in Gíbeon is,
40om gedurigdeur smôrens en saans op die brandofferaltaar brandoffers aan die Here te bring, en dit volgens alles wat geskrywe is in die wet van die Here wat Hy Israel beveel het;
41en saam met hulle Heman en Jedútun en die ander uitgesoektes wat met hulle name aangewys was om die Here te loof dat sy goedertierenheid tot in ewigheid is;
42en by hulle, Heman en Jedútun, was trompette en simbale vir die musikante en instrumente vir die liedere tot eer van God; maar die seuns van Jedútun was by die poort.
43 En toe die hele volk elkeen na sy huis gegaan het, het Dawid omgedraai om sy huisgesin te seën.

Currently Selected:

I KRONIEKE 16: AFR53

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy