Yesha'yahu 40
40
1“Troos, troos My volk,” sê julle God.
2“Praat sag met Yerushalayim en roep uit na haar dat haar oorlog verby is, dat haar oortreding verwyder is en dat sy uit die hand van יהוה dubbel ontvang het vir al haar sondes.”
3’n Stem roep uit: “Berei die pad van יהוה voor in die wildernis; maak die pad gelyk in die woestyn, ’n grootpad vir ons God! Mal 3:1; Mat 3:3; Mar 1:3; Luk 1:76; 3:4; Yog 1:23
4Laat elke vallei opgevul en elke berg en heuwel laag gemaak word en laat die steil grond ’n vlakte word en die rotsagtige plekke ’n breë vallei.
5Dan sal die lof, eer en waarde van יהוה openbaar word en alle vlees sal saam sien, want die mond van יהוה het gepraat.”
6’n Stem sê: “Roep uit!” Toe antwoord hy: “Wat moet ek uitroep?” “Alle vlees is gras en al sy mooiheid soos die blom van die veld.
7Die gras verdor, die blom verwelk wanneer die asem van יהוה daaroor blaas. Sekerlik is die mense gras!
8Die gras verdor, die blom verwelk, maar die boodskap van ons God staan vir ewig.” 1 Kefa 1:25
9Kry jouself bo-op ’n hoë berg, O Tziyon, verkondiger van goeie nuus; verhef jou stem met mag, O Yerushalayim, verkondiger van goeie nuus, hef jou stem op met mag; lig dit op, moenie vrees nie! Sê vir die stede van Y’hudah: “Hier is julle God!”
10Let op, die Meester, יהוה, sal kom met krag, Sy arm met mag. Let op, Sy loon is by Hom en Sy beloning is voor Hom.
11Hy sal Sy kudde versorg soos ’n herder; Hy sal die lammers in Sy arms bymekaarmaak en aan Sy bors dra; die lammerooie sal Hy saggies lei.
12Wie het die waters met die holte van Sy hand afgemeet, die hemele afgemerk met ’n span, die stof van die aarde met ’n maatbak bereken en die berge met ’n hangskaal geweeg en die heuwels met ’n weegskaal?
13Wie het vir die Gees van יהוה rigting aangewys Iyov 21:22; 1 Kor 2:16 of Hom onderrig as sy raadsman?
14Met wie het Hy raad gehou en wie het Hom insig gegee? Wie het Hom geleer aangaande die pad van regverdige oordeel en Hom ingelig oor die pad van insig?
15Let op, die nasies is soos ’n druppel vanuit ’n emmer en word beskou as ’n stoffie op die weegskaal. Let op, Hy lig die eilande op soos fyn stof.
16Selfs L’vanon is nie genoeg om te brand, of sy wilde diere genoeg vir ’n brandoffer nie.
17Al die nasies is soos niks voor Hom; hulle word deur Hom as minder as niks en nietig beskou.
18Met wie wil julle God gelykstel, of met watter gelykenis Hom vergelyk?
19Die ambagsman giet ’n afgod, ’n goudsmid trek dit oor met goud en die silwersmid maak kettings van silwer.
20Hy wat te arm is vir so ’n offer, kies ’n boom wat nie vergaan nie; hy soek vir hom ’n vaardige ambagsman om ’n afgod voor te berei wat nie sal wankel nie.
21Weet julle nie? Het julle nie gehoor nie? Is dit nie van die begin af aan julle verkondig nie? Het julle nie van die fondamente van die aarde af verstaan nie?
22Dit is Hy, wat sit bo die kring van die aarde, wat die hemele uitstrek soos ’n gordyn en hulle uitsprei soos ’n tent om in te bly en die inwoners daarvan is soos sprinkane.
23Dit is Hy wat die heersers verminder tot niks, wat die regters van die aarde nietig maak.
24Hulle sal nie geplant word nie, hulle sal nie gesaai word nie, hulle stam sal nie wortel skiet in die grond nie, maar Hy sal op hulle blaas en hulle verdor en die storm sal hulle wegvoer soos stoppels.
25“Met wie sal julle My dan vergelyk dat Ek sy gelyke kan wees?” sê die Afgesonderde Een.
26Lig julle oë op na bo en sien: Wie het hierdie dinge geskep? Die Een wat hulle leërskare uitlei volgens getal, Hy roep hulle almal by die naam, as gevolg van die grootheid van Sy mag en die sterkte van Sy krag is daar nie een van hulle weg nie.
27Waarom sê jy dan, o Ya’akov en stel jy dit o Yisra’el: “My pad is vir יהוה verborge en die reg wat my toekom gaan ongemerk by my God verby?”
28Weet jy dit nie? Het jy dit nie gehoor nie? Die Ewige God, יהוה, die Skepper van die eindes van die aarde word nie moeg of vermoeid nie; Sy insig is onbepaalbaar.
29Hy gee krag aan die vermoeide en vermenigvuldig krag vir hom wat geen krag het nie.
30Alhoewel jonges moeg en vermoeid word en fikse jongmanne sleg struikel,
31tog sal die wat op יהוה wag, hulle krag hernu; hulle sal opvaar met vlerke soos arende; hulle sal hardloop en nie moeg word nie, hulle sal loop en nie vermoeid word nie.
Currently Selected:
Yesha'yahu 40: SPC
Highlight
Copy
Compare
Share
Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in
©Kopiereg 2025 deur Die Pad van Waarheid tot die Lewe Vertalings Projek.
Kopiereg op die inhoud behoort aan die Lewende, Skepper-God, YHWH, alleen. U is welkom om dit onveranderd te gebruik in enige leer of skrywe, met erkenning: “PWL” “PadWLewe” of “Die Pad van Waarheid tot die Lewe” vertaling.
Geen deel hiervan mag onder enige omstandighede, in enige formaat, verkoop word nie.
Sy Boodskap is gratis.