YouVersion Logo
Search Icon

Genesis 1

1
Skepping
1 In die begin het God die hemel en die aarde geskep. 2 Die aarde was woes en leeg, en donkerte was oor die •oerwater. Maar die Gees van God het oor die water gesweef,
3 en God het gesê: “Laat daar lig wees!” En daar was lig.
4God het gesien dat die lig goed was.
God het toe die lig en die donker
van mekaar geskei.
5God het die lig dag genoem
en die donker het Hy nag genoem.
En dit was aand en dit was oggend –
dag een.
6 God het gesê: “Laat daar 'n gewelf wees tussen die waters, en laat dit skeiding maak tussen water en water.” 7God het die gewelf gemaak, en Hy het die water wat onder die gewelf was, geskei van die water wat bo die gewelf was. Dit het toe so gebeur. 8God het die gewelf hemel genoem.
En dit was aand en dit was oggend –
'n tweede dag.
9 God het gesê: “Laat die water wat onder die hemel is, op een plek bymekaarkom, sodat die droë grond sigbaar word.” Dit het toe so gebeur. 10God het die droë grond ‘land’ genoem en die versamelplek van die water het Hy ‘see’ genoem. God het gesien dat dit goed is.
11 God het gesê: “Die land moet groen plante laat uitspruit – gewasse wat saad gee, bome wat op die land vrugte dra, vrugte volgens elkeen se aard, vrugte waarin hulle saad is.” Dit het toe so gebeur. 12Die land het toe groen plante voortgebring, gewasse wat saad gee volgens elkeen se aard, en bome wat vrugte dra waarin hulle saad is, volgens elkeen se aard. God het gesien dat dit goed is.
13En dit was aand en dit was oggend –
'n derde dag.
14God het gesê: “Laat daar ligte wees aan die hemelgewelf om skeiding te maak tussen dag en nag. Hulle moet daar wees vir tekens en vir vaste tye, en vir dae en jare. 15Hulle moet daar wees as ligte aan die hemelgewelf om lig te gee op die aarde.” Dit het toe so gebeur.
16 God het die twee groot ligte gemaak,
die groot lig om te heers oor die dag,
en die klein lig om te heers oor die nag,
en ook die sterre.
17God het hulle aan die hemelgewelf geplaas om lig te gee op die aarde, 18 en om te heers oor die dag en die nag, en om skeiding te maak tussen die lig en die donker. God het gesien dat dit goed is.
19En dit was aand en dit was oggend –
'n vierde dag.
20God het gesê: “Laat die water wemel met lewende wesens, en laat voëls oor die aarde vlieg langs die hemelgewelf.” 21God het volgens hulle aard die groot seediere geskep en al die lewende wesens wat rondbeweeg, waarvan die water wemel, en alle vlieënde voëls, volgens elkeen se aard. God het gesien dat dit goed is. 22God het hulle geseën deur te sê: “Wees vrugbaar, word meer en vul die water in die seë; en laat die voëls meer word op die land.”
23En dit was aand en dit was oggend –
'n vyfde dag.
24God het gesê: “Laat die land lewende wesens voortbring volgens elkeen se aard: mak diere, kruipende diere en wilde diere van die land, volgens elkeen se aard.” Dit het toe so gebeur.
25God het die wilde diere van die aarde
gemaak volgens elkeen se aard,
die mak diere volgens elkeen se aard,
en al die diere wat op die grond kruip
volgens elkeen se aard.
God het gesien dat dit goed is.
26 God het gesê: “Laat Ons mense maak na ons beeld, as ons afbeelding, sodat hulle kan heers oor die visse van die see, die voëls van die hemel, die diere en oor die hele aarde, en oor al die kruipende diere wat op die aarde rondbeweeg.”
27God het die mens geskep na sy beeld,
na die beeld van God
het Hy hom geskep,
manlik en vroulik het Hy hulle geskep.
28 God het hulle geseën; God het vir hulle gesê: “Wees vrugbaar, vermeerder, vul die aarde en onderwerp dit. Heers oor die visse van die see, die voëls van die hemel en al die diere wat op die aarde rondbeweeg.”
29 God het gesê: “Kyk, Ek gee vir julle al die gewasse wat saad dra, wat op die oppervlakte van die hele aarde is, en al die bome waaraan daar vrugte is, wat saad dra. Vir julle sal dit as voedsel dien. 30 En vir al die diere van die aarde en vir al die voëls van die hemel en alles wat rondbeweeg op die aarde waarin lewensasem is, gee Ek al die groen gewasse as voedsel.” Dit het toe so gebeur.
31 God het na alles gekyk wat Hy gemaak het, en kyk, dit was baie goed.
En dit was aand en dit was oggend –
die sesde dag.

Currently Selected:

Genesis 1: AFR20

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy