YouVersion Logo
Search Icon

Lukas 1

1
'n Brief aan Teofilus
1Geagte Teofilus, baie mense het al geskryf oor alles wat gebeur het toe Jesus op die aarde gelewe het. 2Hulle het alles uitgevind by die mense wat van die begin af by Jesus was en wat self alles gesien het. Hulle het ook die mense uitgevra wat die goeie boodskap oor Jesus gebring het. 3Ek het ook alles uitgevind wat die mense weet oor Jesus se lewe op die aarde en ek het lank daaroor gedink. Nou het ek besluit om alles vir jou te skryf soos dit gebeur het, alles wat ek weet. 4Daarom kan jy seker wees dat die dinge wat jy geleer het, waar en reg is.
'n Engel sê Johannes die Doper sal gebore word
5 Herodes was die koning van Judea. In daardie tyd was daar 'n priester, Sagaria. Hy was een van die priesters van Abia se groep. Hulle het by die tempel gewerk wanneer dit hulle beurt was. Sagaria was getroud met Elisabet. Sy was van die nageslag van Aäron.
6Sagaria en Elisabet het gelewe soos God wou hê, en hulle was gehoorsaam aan al die wette van die Here. 7Maar hulle het nie kinders gehad nie, omdat Elisabet onvrugbaar was. Hulle altwee was ook al baie oud. 8Dit was eendag die beurt van Abia se groep priesters om die werk in die tempel te doen. 9Die priesters het altyd lootjies getrek om te sien wie moes ingaan om die wierook-offer te bring. Dit was toe Sagaria wat moes ingaan in die gewyde kamer van die tempel van die Here. 10Toe Sagaria ingaan om die wierook-offer te bring, het al die mense buite gebly en gebid. 11'n Engel van die Here het gekom en hy het aan Sagaria verskyn. Die engel het regs van die wierook-altaar gestaan. 12Sagaria het groot geskrik toe hy die engel sien en hy het baie bang geword. 13Maar die engel het vir hom gesê: “Sagaria, jy moenie bang wees nie, God het geluister na jou gebed. Jou vrou Elisabet sal 'n seun kry, en jy moet hom Johannes noem. 14Jy sal baie bly wees en baie ander mense sal bly wees wanneer hy gebore word, 15want hy sal belangrik wees vir die Here. Hy mag nie wyn of bier drink nie. Die Heilige Gees sal in hom wees vandat sy ma swanger geword het. 16Hy sal baie Israeliete laat terugkom na die Here hulle God. 17Johannes sal 'n profeet van God wees. Hy sal dapper en sterk wees, soos Elia. Hy sal vrede maak tussen pa's en hulle kinders. Hy sal ongehoorsame mense laat doen wat God wil hê. Dan sal hulle 'n volk wees wat reg is om God te dien.”
18Sagaria het vir die engel gesê: “Hoe sal ek weet dat dit sal gebeur? Ek is 'n ou man en my vrou is ook baie oud.”
19Die engel het vir hom gesê: “Ek is die engel Gabriël, ek werk vir God. God het my gestuur om met jou te praat en vir jou hierdie goeie boodskap te bring. 20Die boodskap wat ek vir jou gebring het, is waar. Dit sal gebeur. Maar jy het my nie geglo nie, en daarom sal jy stom wees en jy sal nie kan praat nie, tot die dag wanneer hierdie dinge sal gebeur.”
21Die mense het buite gewag vir Sagaria en hulle het gewonder hoekom hy so lank in die tempel bly. 22Toe Sagaria uitkom, kon hy nie met die mense praat nie, en hulle het besef God het iets met hom laat gebeur in die tempel. Hy het vir hulle met sy hande gewys dat iets met hom gebeur het, en hy het stom gebly. 23Toe die priesters van Abia se groep klaar gewerk het by die tempel, het Sagaria teruggegaan na sy huis. 24Kort daarna het sy vrou Elisabet swanger geword, en sy het vyf maande lank nie uit die huis gegaan nie. Sy het gesê: 25“Die Here het my gehelp, Hy het gesien ek is hartseer. Hy het geweet die mense spot my omdat ek nie kinders het nie. Nou het Hy dit verander, niemand sal my nou meer spot nie.”
Die engel Gabriël sê Jesus sal gebore word
26Toe Elisabet ses maande swanger was, het God die engel Gabriël gestuur na die stad Nasaret in Galilea. 27God het hom gestuur na 'n meisie wat verloof was aan Josef. Josef was 'n man van die nageslag van koning Dawid. Die meisie se naam was Maria, en sy was 'n maagd. 28Die engel het na Maria toe gegaan en gesê: “Ek groet jou. God is goed vir jou. Ja, die Here is by jou.”
29Maria het baie groot geskrik toe sy hoor wat die engel vir haar sê en sy het gewonder wat dit beteken. 30Die engel het vir haar gesê: “Maria, jy moenie bang wees nie, want God is goed vir jou. 31Jy sal swanger word en jy sal 'n seun kry. Jy moet Hom Jesus noem. 32Hy sal baie belangrik wees, die Hoogste God sal Hom sy Seun noem. Die Here God sal Hom laat regeer soos sy voorvader Dawid. 33Jesus sal altyd regeer oor die nageslag van Jakob. Hy sal nooit ophou om Koning te wees nie.”
34Maria het vir die engel gesê: “Hoe kan ek 'n kind kry? Ek het nog nooit by 'n man geslaap nie.”
35Die engel het vir haar gesê: “Die Heilige Gees sal op jou kom en die krag van die Hoogste God sal soos 'n skaduwee oor jou wees. Daarom sal God sê die Kind wat gebore word, is heilig, Hy is die Seun van God. 36Maria, daar is 'n vrou, Elisabet, in jou familie, sy is oud en sy kon nooit kinders kry nie, maar sy sal ook 'n seun kry. Sy is nou ses maande swanger. 37God kan alles doen, daar is niks wat Hy nie kan doen nie.”
38Maria het gesê: “Ek sal doen wat die Here wil hê. Die Here kan met my doen wat jy gesê het.”
Toe het die engel weggegaan van haar.
Maria besoek Elisabet
39Nie lank daarna nie het Maria haastig na 'n stad in Judea gegaan, na 'n plek op die berge. 40Sy het in Sagaria se huis ingegaan en vir Elisabet gegroet. 41Toe Elisabet hoor dat Maria haar groet, het die baba wat binne-in haar was, geskop. Die Heilige Gees het in Elisabet gekom 42en sy het opgewonde gesê: “Maria, die Here seën jou, meer as vir al die ander vroue. Hy seën ook die kind wat in jou is. 43Dit is vir my wonderlik dat jy na my toe gekom het, jy, die ma van my Here. 44Toe jy my groet en ek jou stem hoor, was die kind binne-in my baie bly, en hy het geskop. 45Jy sal gelukkig wees, want jy het geglo dat die Here sal doen wat Hy vir jou belowe het.”
Maria prys die Here
46Toe het Maria gesê:
Ek prys die Here
met my hele hart.
47My hart is bly oor God
wat my red.
48Hy het my gesien en gehelp,
vir my, sy nederige dienaar.
Van nou af sal al die mense sê
ek is baie gelukkig,
49want God wat alles kan doen,
het wonderlike dinge
vir my gedoen.
Sy Naam is heilig.
50Hy sal altyd goed wees
vir die mense wat Hom eer.
51Hy het gewys Hy is sterk.
Hy het die hoogmoedige mense
weggejaag na al die kante toe.
52Hy het konings laat ophou regeer,
maar Hy het mense
wat nie belangrik is nie,
belangrik gemaak.
53Hy het vir honger mense
genoeg kos gegee,
maar vir die ryk mense
het Hy niks gegee nie.
54Hy het sy volk Israel gehelp,
Hy het onthou dat Hy belowe het
om goed te wees vir hulle,
55vir ons voorvaders,
vir Abraham en sy nageslag,
vir altyd.
56Maria het omtrent drie maande by Elisabet gebly, en toe het sy teruggegaan na haar huis.
Elisabet kry 'n seuntjie
57Toe Elisabet se baba later gebore is, was dit 'n seuntjie. 58Haar bure en familie het gehoor dat die Here goed was vir haar en hulle was baie bly saam met haar. 59Op die agste dag het die mense gekom om die kindjie te besny. Hulle wou hom Sagaria noem. Dit was ook sy pa se naam. 60Maar sy ma het gesê: “Nee, sy naam moet Johannes wees.”
61Die mense het vir haar gesê: “Daar is niemand in jou familie wat die naam Johannes het nie.”
62Hulle het met gebare vir Sagaria gevra wat hy die seuntjie wil noem. 63Sagaria het gesê hulle moet vir hom 'n skryfbordjie gee en hy het daarop geskryf: “Sy naam is Johannes.”
Almal was verbaas. 64Sagaria kon dadelik weer praat, en hy het God geprys. 65Al die mense wat daar naby gewoon het, was verbaas en bang. Al die mense het gepraat oor alles wat gebeur het, ook die mense wat in die berge in die provinsie Judea gewoon het.
66Almal wat daarvan gehoor het, het daaroor gedink en gesê: “Ons wonder wat sal hierdie seuntjie eendag doen.”
Almal kon sien die Here was by Johannes.
Sagaria prys die Here
67Die Heilige Gees het gekom in Sagaria, Johannes se pa. Sagaria het gepraat soos die profete en hy het gesê:
68Ons prys die Here,
die God van Israel,
want Hy het na sy volk toe gekom
en Hy het hulle vrygemaak.
69Hy het vir ons
'n sterk Redder gestuur,
'n Man van die nageslag
van koning Dawid, sy dienaar.
70Die Here het belowe
Hy sal dit doen.
Sy gewyde profete
het dit lank gelede gesê.
71Die Here red ons van ons vyande
en van die mense wat vir ons haat.
72Hy het nou gedoen wat Hy
vir ons voorvaders belowe het
toe Hy gesê het Hy sal
goed wees vir hulle.
Hy het onthou dat Hy
'n gewyde verbond
gemaak het met hulle.
73Die Here het vir ons
voorvader Abraham belowe
74dat Hy ons sal red
van ons vyande.
Hy het gesê ons sal nie
bang wees nie,
ons sal Hom aanbid,
75ons sal net vir Hom dien
en altyd lewe soos Hy wil hê.
76En jy, kindjie, jy sal 'n profeet
wees van die Hoogste God.
Jy sal die pad gereedmaak
vir die Here, en dan sal Hy kom.
77Jy sal vir sy mense vertel
dat God hulle sonde vergewe
en dat Hy hulle so sal red.
78God sal dit alles doen
omdat Hy baie goed wil wees
vir die mense wat
aan Hom behoort.
Die Here sal na ons toe kom.
Hy sal die son wees wat uit
die hemel kom en op ons skyn.
79Sy lig sal skyn oor almal
wat in die donker is,
oor almal wat in die diep
donker is.
Die Here sal ons lei,
en daar sal vrede wees.
80Johannes het groot geword, sy liggaam en sy gees het sterk geword. Hy het in die woestyn gewoon totdat hy begin preek het vir die mense van Israel.

Currently Selected:

Lukas 1: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy