YouVersion Logo
Search Icon

Jesaja 44

44
Ek sal my Gees en my seën op julle nageslag laat kom
1“Maar nou moet julle luister,
nageslag van Jakob, my dienaars,
Israeliete, Ek het julle gekies.”
2Dit is die Here wat praat,
Hy wat vir julle gemaak het,
wat vir julle liggame gegee het
voordat julle gebore is,
dit is Hy wat vir julle help.
Die Here sê:
“Nageslag van Jakob, my dienaars,
nageslag van Jesurun,
Ek het julle gekies,
julle moenie bang wees nie,
3want Ek sal dit laat reën
op die droë grond,
daar sal strome water vloei.
Ek sal my Gees na julle nageslag toe stuur
en Ek sal hulle seën.
4Hulle sal gebore word en groei
soos die gras en soos die populierbome
langs die riviere.
5Hulle sal sê: ‘Ons behoort aan die Here,’
en hulle sal dit op hulle hande skryf.
Hulle sal hulleself noem
‘die nageslag van Jakob, die volk Israel.’ ”
6Dit is die Here wat praat,
die Koning van Israel
wat hulle vrymaak,
die Here wat oor alles regeer.
Hy sê: “Ek was altyd God
en Ek sal altyd God wees,
daar is nie 'n ander God nie.
7Wie is soos Ek?
As daar 'n ander God is,
dan moet hy praat.
Hy moet vir My sê wat het gebeur
vandat Ek lank gelede
my volk gemaak het,
en Hy moet sê wat nog sal gebeur.
8Julle moenie skrik nie,
julle moenie bang wees nie,
Ek het dit lank gelede vir julle gesê,
en julle weet Ek is God.
Is daar 'n ander God?
Nee, daar is nie een nie,
nie een wat kan doen wat hy sê nie.
Ek weet daar is nie 'n ander God nie.”
Kom terug na My toe
9“Al die mense wat beelde maak,
is self niks.
Hulle is lief vir die beelde,
maar die beelde beteken niks.
Hulle sê die beelde is gode,
maar hulle sal teleurgesteld wees,
want die beelde kan nie sien nie
en hulle weet niks.
10Wie maak 'n god, 'n beeld
wat niks beteken nie?
Wie is so dom?
11Almal wat so 'n god aanbid,
sal teleurgesteld wees.
Dit is mense wat die god gemaak het,
en dan kom hulle bymekaar
en wag dat die god iets moet sê,
maar hulle hoor niks en hulle is teleurgesteld.
12Die man wat met yster kan werk,
maak die yster warm in die vuur
en hy slaan die yster met 'n hamer
en hy maak 'n beeld met sy sterk hande.
Hy word ook honger en moeg en baie dors.
13Die man wat met hout kan werk,
meet die hout en hy teken die beeld.
Hy kap en meet totdat die beeld soos 'n mens lyk,
'n mooi mens,
en dan sit hy die beeld in 'n tempel.
14Die man kap 'n sederboom af,
of hy kies 'n ander boom
en hy wag totdat die boom groot word
tussen die ander bome in die bos,
of hy plant 'n boom,
en die boom word groot as dit reën.
15Hy maak vuur met die hout
en hy maak hom warm,
maar hy bak ook brood
en hy maak 'n god
en hy buig voor die god.
16Hy maak vuur met party van die hout,
en dan braai hy vleis en eet
totdat hy genoeg geëet het.
Hy maak hom warm en hy sê:
‘Ek het lekker warm geword,
die vuur het lig gemaak,
en ek kon sien.’
17Van die hout wat oorbly, maak hy 'n god.
Hy buig voor die beeld en hy bid tot die beeld
en sê: ‘Red my, want jy is my god.’
18Mense wat dit doen, is baie dom.
Hulle oë is toe en hulle weet nie
wat hulle doen nie.
19Hulle is baie dom,
hulle het nie gedink dat hulle
vuur gemaak het met party van die hout
en brood gebak het op die kole
en vleis gebraai en geëet het,
en dat hulle 'n afgod gemaak het
van die hout wat oorgebly het,
en dat hulle nou buig voor 'n droë stuk hout nie.
20Iemand wat dit doen, kul homself,
hy kan homself nie red nie.
Hy besef nie
dat die god wat hy van hout gemaak het,
kan verbrand nie, dit beteken niks.
21 Nageslag van Jakob, Israeliete,
julle moet hieraan dink, want julle is my dienaars.
Ek het julle gemaak,
julle is my dienaars,
Ek sal julle nie vergeet nie.
22Julle was opstandig, julle het baie sonde gedoen,
maar Ek het dit alles laat verdwyn soos 'n miswolk.
Kom terug na My toe,
want Ek het julle vrygemaak.
23Die hemel moet juig,
want die Here het dit gedoen.
Diep plekke onder die aarde, julle moet skree,
berge en bosse en elke boom in die bos,
julle moet vrolik wees en juig,
want die Here het die nageslag van Jakob vrygemaak,
Hy het vir die Israeliete gewys dat Hy die Koning is.”
Ek self sal Jerusalem weer bou
24Dit is die Here wat praat.
Hy het julle vrygemaak,
Hy het vir julle liggame gegee
voordat julle gebore is.
Hy sê: “Ek is die Here,
Ek het alles gemaak,
Ek alleen het die hemeldak gemaak,
Ek het dit styfgetrek soos 'n tent.
Niemand was by My
toe Ek die aarde gemaak het nie.
25Ek wys vir die mense dat hulle niks weet nie,
die mense wat sê wat sal gebeur.
Almal sal lag vir die mense
wat dink hulle weet
wat ander mense nie kan weet nie.
26Ek sê my dienaar het die waarheid gepraat,
en alles sal gebeur wat my boodskappers gesê het.
Ek sê vir Jerusalem:
Daar sal weer mense in jou woon,
en Ek sê vir die stede van Juda:
Mense sal julle weer bou.
Jerusalem is nou net 'n hoop klippe,
maar Ek self sal Jerusalem weer bou.
27Ek sê vir die diep see en die riviere:
Julle moet droog word.
28En Ek sê vir Kores
hy moet my skape, my volk, oppas.
Hy sal doen wat Ek wil hê hy moet doen.
Hy sal vir Jerusalem sê:
Die mense moet jou weer bou,
en hy sal vir die tempel sê:
Hulle moet jou fondamente weer bou.”

Currently Selected:

Jesaja 44: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy