YouVersion Logo
Search Icon

Jesaja 42

42
Hier is my dienaar
1Die Here sê: “Hier is my dienaar,
Ek hou hom vas,
Ek het hom gekies en Ek is lief vir hom.
Ek het my Gees in hom laat kom.
My dienaar sal vir die volke gaan sê
wat Ek wil hê hulle moet doen.
2Hy sal nie vra dat iemand hom moet help nie,
hy sal nie hard praat nie,
hy sal nie skree in die straat nie.
3Hy sal nie 'n riet breek wat klaar stukkend is nie,
hy sal nie 'n vlam doodblaas wat dof brand nie.
Hy sal seker maak dat almal weet
wat Ek wil hê hulle moet doen.
4Hy sal wees soos 'n vlam wat niemand sal doodblaas nie,
'n riet wat niemand sal breek nie,
totdat hy vir almal op die aarde gesê het
wat Ek wil hê hulle moet doen.
Ook die mense wat in die ver lande by die see woon,
wag om te hoor wat hy vir hulle sal leer.”
5God het gepraat.
Hy is die Here wat die hemeldak gemaak het
en wat dit soos 'n tent styfgetrek het.
Hy is die Here wat die aarde gemaak het
en alles wat uit die aarde kom.
Hy is die Here wat asem en lewe gee aan die mense
wat op die aarde is.
Hy het gesê:
6“Ek, die Here, het jou geroep om te doen wat Ek wil hê,
en Ek hou jou hand vas en Ek beskerm jou.
Jy moet my verbond wees met my volk,
jy moet die lig wees vir die ander volke.
7Jy moet blinde mense weer laat sien
en jy moet die mense laat uitkom wat in donker tronke is.
8Ek is die Here, dit is my Naam.
Die mense moet My eer, hulle moet niemand anders eer nie.
Hulle moet My prys, hulle moenie die beelde van gode prys nie.
9Alles het gebeur wat Ek voorheen gesê het,
en nou sê Ek wat later nog sal gebeur.
Ek sê dit vir julle voordat dit begin gebeur.”
Hulle moet 'n nuwe lied sing vir die Here
10Hulle moet 'n nuwe lied sing vir die Here,
almal in die wêreld moet Hom prys,
die mense op die see en alles in die see,
en die mense wat ver van hier langs die see woon.
11Die mense in die woestyn
en in die stede in die woestyn,
moet die Here prys,
die mense in die stede van die land Kedar.
Die mense moet juig wat in Sela woon,
hoog op die berg,
hulle moet op die berge staan en skree.
12Hulle moet die Here eer,
die mense wat ver van hier
langs die see woon, moet Hom prys.
Ek maak die pad vir hulle gelyk
13Die Here kom soos 'n soldaat wat wil oorlog maak,
Hy skree en Hy oorwin sy vyande.
14Die Here sê: “Ek het lank stilgebly,
Ek het nie gepraat nie.
Maar nou skree Ek hard,
Ek haal vinnig asem,
soos 'n vrou wat 'n baba kry.
15Ek laat al die groen plante droog word
op die berge en heuwels,
Ek laat die riviere en die riet-moerasse droog word.
16Ek laat blinde mense loop
op 'n pad wat hulle nie geken het nie,
Ek lei hulle na plekke waarvan hulle nie
geweet het nie.
Ek verander die donker voor hulle,
Ek maak dit lig,
Ek maak die pad vir hulle gelyk.
Dit is die dinge wat Ek doen,
Ek sal aanhou om dit te doen.
17Die mense wat dink dat beelde hulle kan help,
en wat vir die beelde sê: ‘Julle is ons gode,’
daardie mense sal teleurgesteld wees,
hulle sal nie weet wat om te doen nie.”
Niemand is so blind soos die dienaars van die Here nie
18“Julle wat nie wil hoor nie, julle moet luister,
julle wat nie wil sien nie, julle moet kyk en sien.
19My dienaars, my boodskapper
wat Ek stuur, is blind en doof,
niemand is so blind en so doof soos hulle nie.
Niemand is so blind soos die volk wat Ek gestraf het nie,
niemand is so blind soos die dienaars van die Here nie.
20Hulle het baie gesien en gehoor,
maar hulle het gemaak of hulle niks sien of hoor nie.
21Die Here wou hê hulle moet doen wat Hy wil hê.
Daarom is sy wette belangrik, Hy het dit vir hulle verduidelik.
22Maar hulle het 'n volk geword wat uit hulle land moes gaan,
die vyande het hulle toegesluit in gate en tronke.
Die vyande het hulle weggevat, en niemand het dit gekeer nie,
niemand het gesê dat die vyande hulle moet teruggee nie.
23Is daar iemand wat luister?
Hoor iemand wat Ek nou sê?
24Wie het gesê die vyande kan ons, die Israeliete, wegvat?
Ons is die nageslag van Jakob.
Dit is die Here wat dit gesê het.
Ons het sonde gedoen teen Hom,
ons het nie gelewe soos Hy wil hê nie,
ons het nie gedoen wat Hy vir ons geleer het nie.
25Daarom het die Here baie kwaad geword vir die Israeliete.
Hy het vyande laat kom om oorlog te maak teen sy volk.
Die vlamme het hulle gebrand van al die kante,
maar hulle het nie besef hoekom dit gebeur nie.”

Currently Selected:

Jesaja 42: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy