YouVersion Logo
Search Icon

Jesaja 41

41
Wie het die man uit die ooste laat kom?
1Die Here sê:
“Al die mense wat woon
in die ver lande by die see,
al die volke,
julle moet stilbly
en julle moet luister na My!
Julle moet gereedmaak
en nader kom en praat.
Ons moet saam praat
en hoor wie is reg.
2Wie het die man uit die ooste
laat kom,
die man wat al die volke
en die konings oorwin?
Hulle val voor sy swaard
en voor sy boog,
soos stof of soos kaf
wat wegwaai.
3Hy jaag die volke,
niemand stop hom nie,
sy voete raak nie aan die grond nie.
4Wie het dit laat gebeur?
Wie het van die begin af gesê
wat in die wêreld moet gebeur?
Dit is Ek, die Here.
Ek was eerste,
en wanneer die laaste dinge gebeur,
dan sal Ek nog die Here wees.
5Al die mense wat in die ver lande
langs die see woon,
al die mense op die aarde,
het gesien wat gebeur.
Hulle het bang geword
en hulle het nader gekom.
6Hulle help mekaar
en sê vir mekaar:
‘Ons moet sterk wees.’
7Die manne wat beelde maak,
sê vir mekaar:
‘Ons het goeie werk gedoen!’
En hulle maak die beeld sterk
en hulle slaan die beeld vas met spykers
sodat dit nie omval nie.”
Ek maak julle sterk
8En Ek sê vir julle:
“My dienaars,
mense van Israel,
nageslag van Jakob
wat Ek gekies het,
nageslag van my vriend Abraham:
9Ek het Abraham uit 'n ver land
laat kom
en Ek het vir hom gesê: ‘Jy is my dienaar,
Ek het jou gekies
en jou nie vergeet nie.’
10Julle moenie bang wees nie,
want Ek is by julle.
Julle moenie bang rondkyk nie,
want Ek is julle God.
Ek sal julle sterk maak en julle help,
Ek sal julle vashou met my sterk hand.
11Kyk, almal wat iets sleg
wil doen aan julle,
sal teleurgesteld wees.
Hulle sal nie weet wat om te doen nie.
Die mense wat wil hê
dit moet sleg gaan met julle,
sal word soos niks, hulle sal sterf.
12Die mense wat oorlog maak teen julle,
sal word soos niks,
julle sal hulle soek
en julle sal hulle nie kry nie.
13Ja, Ek, julle God die Here,
Ek maak julle sterk,
Ek sê vir julle:
Moenie bang wees nie,
Ek help julle.
14“Julle is so swak soos 'n wurm,
julle is min,
maar julle moenie bang wees nie,
Ek help julle.”
Dit sê die Here, die Heilige God van Israel.
15“Kyk, Ek het julle
soos 'n nuwe dors-slee gemaak,
'n dors-slee wat skerp ysters het.
Julle sal berge en heuwels fynmaal
en julle sal dit soos kaf maak.
16Julle sal hulle in die lug opgooi,
en die stormwind sal hulle wegwaai.
Maar julle sal juig
omdat die Here julle God is,
julle sal die Heilige God van Israel prys.”
Ek sal vir hulle gee wat hulle vra
17“Die mense wat hulleself nie kan help nie
en wat arm is, soek water,
maar daar is nie water nie.
Hulle tonge word droog,
want hulle is dors.
Ek, die Here, sal vir hulle gee
wat hulle vra,
Ek, die God van Israel, sal hulle
nie alleen los nie.
18Ek sal die water in riviere laat vloei
en Ek sal fonteine oopmaak
op die plekke waar daar nou
niks plante is nie.
Ek sal die droë woestyn verander
in 'n plek waar daar baie water is
en waar riete groei.
19Ek sal bome laat groei in die woestyn:
sederbome, doringbome,
mirteboompies en olienhout,
jenewerbome, essenhoutbome en sipresbome.
20Dan sal die mense wat dit sien, weet
dat Ek, die Here, dit gedoen het,
Ek, die Heilige God van Israel.”
Nie een van die gode is regtig 'n god nie
21Die Here, die Koning van Jakob,
sê vir die gode:
“Sê vir Ons wat julle is.
Bewys vir Ons dat julle gode is.
22Sê vir Ons wat later sal gebeur,
of sê vir Ons hoekom die dinge gebeur het
wat voorheen gebeur het.
Sê dit vir Ons sodat Ons
daaroor kan dink
en kan weet wat later sal gebeur.
23Sê vir Ons wat later sal gebeur,
sodat Ons kan weet julle is gode.
Ja, doen enige iets,
doen goed of doen sleg,
sodat ons dit kan sien
en bang kan word vir julle.
24Maar julle is niks
en julle kan niks doen nie.
Die mense wat sê julle is hulle gode,
doen baie verkeerd.
25“Ek het 'n man uit die noorde
en die ooste laat kom.
Hy kom en hy aanbid My.
Hy oorwin die mense wat regeer
en hy trap op hulle soos 'n pottebakker
wat op klei trap.
26Wie het voor daardie tyd gesê dit sal gebeur
sodat Ons dit kon weet
en kon sê hy het reg gepraat?
Niemand het dit gesê nie,
nie een van julle het 'n woord gepraat nie,
niemand het gehoor julle sê iets nie.
27Dit is Ek wat eerste vir Sion,
vir Jerusalem, gesê het:
‘Kyk, julle mense kom terug,
Ek bring vir julle die goeie nuus.’
28Ek het gewag dat die gode moet praat,
maar nie een het gepraat nie.
Daar was nie een wat iets geweet het
sodat Ek vir hom kon vra
en Hy kon antwoord nie.
29Nie een van die gode
is regtig 'n god nie,
hulle kan niks doen nie,
en hulle beelde beteken niks.”

Currently Selected:

Jesaja 41: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy