YouVersion Logo
Search Icon

Galasiërs 5

5
1Christus het julle vrygemaak. Daarom moet julle vry bly. Julle moenie dat ander mense julle weer slawe van wette maak nie.
Christene moenie besny word nie
2Ek, Paulus, sê nou vir julle: As julle vir julle laat besny, dan help dit nie dat julle in Christus glo nie. 3Ek sê weer reguit vir julle: Elkeen wat hom laat besny, moet dan alles doen wat al die wette sê. 4Julle wat dink God sal julle vryspreek omdat julle doen wat die wette sê, julle is nie meer by Christus nie. Julle het God se genade verloor. 5Maar ons hoop en ons weet God sal ons vryspreek omdat ons die Heilige Gees het en in Christus glo. 6As ons aan Christus Jesus behoort, dan maak dit nie saak of ons besny is of nie besny is nie. Wat is belangrik? Dit is belangrik dat ons moet glo en dat ons lief moet wees vir God en vir ander mense.
7Julle het voorheen gedoen wat God wil hê, maar nou keer iemand vir julle en julle doen nie meer daardie dinge nie, die dinge wat mense doen wat die waarheid ken. 8Dit is nie God wat vir julle keer nie. God het julle geroep, en julle is nou sy kinders. 9Julle moet onthou 'n klein bietjie suurdeeg laat al die deeg rys. 10Ek is seker julle sal dink soos ek dink, want julle behoort aan die Here. Maar God sal die man straf wat julle koppe deurmekaar maak. Dit maak nie saak wie daardie man is nie.
11Vriende, daar is mense wat sê ek preek en sê gelowiges moet hulle laat besny, maar dit is nie waar nie. Ek het vir gelowiges gesê hulle moet hulle nie laat besny nie, dit is hoekom party mense my laat swaarkry. Want as ek vir gelowiges gesê het hulle moet hulle laat besny, dan was my boodskap oor die kruis van Christus nie vir party mense 'n probleem nie. 12Ek wens al die mense daar by julle wat julle koppe deurmekaar maak en wat sê julle moet besny word, sny hulle eie geslagsorgane heeltemal af.
Die Heilige Gees wil gelowiges se lewens regeer
13Vriende, God wil hê julle moet vry wees, maar julle moenie dink julle is vry en dan doen julle die slegte dinge wat mense graag doen nie. Nee, julle moet lief wees vir mekaar en julle moet mekaar help. 14Want die boodskap van al God se wette is: “ Jy moet lief wees vir jou naaste soos jy lief is vir jouself.” 15Maar julle doen dit nie. Julle is soos honde wat mekaar byt en hap. Julle moet oppas dat julle nie mekaar op-eet nie!
16Ek sê vir julle: Die Heilige Gees moet julle lewens regeer. Dan sal julle nie die slegte dinge doen wat mense graag doen nie. 17Want die slegte dinge binne-in julle harte wil altyd iets anders hê as wat die Heilige Gees wil hê. En die Heilige Gees wil iets anders hê as wat die slegte dinge in julle harte wil hê. Hulle is altyd teen mekaar. Daarom kan julle nie die dinge doen wat julle self wil doen nie. 18En as die Heilige Gees julle lewens regeer, dan regeer die wette nie meer oor julle nie.
19Almal weet wat die slegte dinge is wat mense graag doen: Hulle lewe onsedelik, hulle slaap by mense met wie hulle nie getroud is nie, hulle doen wat hulle wil, 20hulle dien afgode, hulle toor, hulle is vyande van ander mense, hulle haat ander mense, hulle is jaloers, hulle word maklik kwaad, hulle stry met almal, hulle maak mense kwaad vir mekaar, hulle maak mense vyande van mekaar, 21hulle wil nie hê ander mense moet meer hê as hulleself nie, hulle drink totdat hulle dronk is, hulle hou wilde partytjies, en hulle doen nog meer slegte dinge. Ek het voorheen vir julle gesê en ek sê nou weer: Mense wat hierdie dinge doen, sal nie die ewige lewe kry nie, die lewe by God, die Koning.
22Maar as die Heilige Gees mense se lewens regeer, dan doen hulle goeie dinge: Hulle is lief vir ander mense, hulle is bly, hulle maak vrede, hulle is geduldig, vriendelik en goed, hulle doen wat hulle belowe, 23hulle word nie maklik kwaad nie, hulle bly kalm. Die wette sê al hierdie dinge is goed. 24Ja, die mense wat aan Christus Jesus behoort, het opgehou om slegte dinge te doen, hulle wil dit nie meer doen nie. 25Die Heilige Gees het die ware lewe vir ons gegee. Daarom moet ons ook vir die Gees vra om ons lewe te regeer. 26Ons moenie hoogmoedig wees nie en ons moenie mekaar terg en jaloers wees op mekaar nie.

Currently Selected:

Galasiërs 5: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy