YouVersion Logo
Search Icon

Romeine 7

7
Die wette regeer nie oor die gelowiges nie
1Vriende, ek weet julle ken God se wette. Julle weet dat die wette oor 'n mens regeer terwyl hy lewe. 2Die wette sê dat 'n vrou wat getroud is, net haar eie man se vrou is terwyl hy lewe. Maar wanneer haar man gesterf het, dan is sy vry, dit sê die wette. 3Die wette sê sy pleeg egbreuk wanneer sy 'n ander man se vrou word terwyl haar man lewe. Maar wanneer haar man dood is, dan is sy vry, die wet regeer nie meer oor haar nie. As sy daarna 'n ander man se vrou word, dan pleeg sy nie egbreuk nie.
4My vriende, dit is dieselfde met julle: Christus het gesterf, en julle het saam met Hom gesterf. Daarom regeer die wette nie oor julle nie. Julle behoort nou aan Iemand Anders, julle behoort aan Christus. Christus was dood, maar God het Hom weer laat lewe. Daarom kan ons nou almal lewe soos God wil hê. 5Voorheen het ons gelewe soos mense graag lewe. Ons het God se wette geken, en daarom het ons lus geword om sonde te doen. Ons het ons liggame gebruik om dinge te doen wat ons laat sterf. 6Die wette het ons vasgehou, maar nou is ons soos mense wat dood is, ons hoor nie wat die wette sê nie. Ons dien nou vir God soos die Heilige Gees vir ons sê om te doen, nie soos ons voorheen gedoen het nie, want die wette regeer nie meer oor ons nie.
Die sonde gebruik God se wette
7Is dit reg wanneer ons sê God se wette is sonde? Nee, nooit nie! Ek ken God se wette, en daarom weet ek wat sonde is. God se wette sê: “ Jy mag nie iemand anders se goed vir jouself wil hê nie,” en daarom weet ek dat ek dit nie mag doen nie. 8Maar die sonde gebruik daardie wet en maak my dan baie lus om ander mense se goed te hê. As daar nie wette was nie, dan kon die sonde my nie lus maak om slegte dinge te doen nie. 9Voorheen, toe ek nie God se wette geken het nie, het ek gelewe, maar toe ek die wette leer ken het, het die sonde in my begin lewe, 10en ek was soos 'n mens wat gesterf het. God het die wette gegee om my te laat lewe, maar ek het uitgevind daardie wette maak my dood. 11Want die sonde het God se wette gebruik en dit het my iets laat glo wat nie waar is nie. Ja, die sonde het die wette gebruik om my dood te maak. 12Daarom, die wette is God se wette. God gee elke wet, en elke wet is reg en goed.
13Mag ons dan sê die wette wat goed is, het my doodgemaak? Nee, nooit nie! Dit is die sonde wat my doodgemaak het. Die sonde gebruik God se goeie wette om my dood te maak sodat almal kan weet wat die sonde is. Ja, die sonde gebruik die wette, en so word die sonde altyd meer.
14Ons weet dat die Heilige Gees die wette gegee het, maar ek is 'n mens, ek doen slegte dinge, ek is 'n slaaf van die sonde. 15Ek verstaan nie wat ek doen nie. Ek wil goeie dinge doen, maar dan doen ek dit nie. Ek doen slegte dinge, dinge wat ek haat. 16En wanneer ek dinge doen wat ek nie wil doen nie, dan besef ek dat die wette goed is. 17Want dit is nie ék wat die slegte dinge doen nie, dit is die sónde wat in my is. 18Ek weet daar is niks in my wat goed is nie. Ek wil graag goeie dinge doen, maar ek doen dit nie. 19Ja, ek doen nie die goeie dinge wat ek graag wil doen nie, maar ek doen die slegte dinge wat ek nie wil doen nie. 20En wanneer ek die slegte dinge doen wat ek nie wil doen nie, dan is dit nie ek wat die slegte dinge doen nie, dit is die sonde wat dit doen, die sonde wat in my is.
21Ek het iets geleer wat altyd waar is: Ek wil graag die goeie dinge doen, maar die slegte dinge is altyd in my. 22Ek dink aan die wette van God en ek is baie lief vir hulle. 23Maar daar is ook ander wette in my, en hierdie ander wette baklei teen die wette van God. Ek weet sy wette is reg. Maar die wette wat in my is, het my gevang, hulle regeer oor my en hulle laat my slegte dinge doen met my liggaam. 24Daarom, dit gaan baie sleg met my! Die lewe wat ek nou lewe, bring my by die dood! Wie sal my daarvan red? 25Dit is God wat my red, en ek sê vir Hom dankie, Hy gebruik vir Jesus Christus ons Here om my te red.
Ja, ek wil graag 'n slaaf van God wees, ek wil doen wat Hy sê. Maar ek is 'n mens, ek is 'n slaaf van die sonde, en daarom doen ek wat die sonde vir my sê.

Currently Selected:

Romeine 7: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy