YouVersion Logo
Search Icon

Openbaring 13

13
1En ek het gesien 'n dier kom uit die see. Die dier het tien horings en sewe koppe gehad. Op die horings was tien krone en op sy koppe was daar name geskryf, name wat vir God gelaster het. 2Die dier wat ek gesien het, het soos 'n luiperd gelyk. Sy voete het gelyk soos 'n beer se voete en sy bek het gelyk soos 'n leeu se bek. Die draak het vir die dier gesê hy mag die draak se krag gebruik, hy mag regeer en hy mag alles doen wat die draak doen.
3En ek het gesien een van die dier se koppe het 'n groot seerplek gehad. Ek het gedink dat die dier sal doodgaan. Maar die groot seerplek het gesond geword. Al die mense in die wêreld was baie verbaas en hulle het die dier gevolg. 4Die mense het die draak aanbid, want die draak het vir die dier gesê hy kan alles doen wat die draak doen. En hulle het die dier aanbid en gesê: “Daar is niemand wat so sterk is soos die dier nie! Niemand kan teen hom oorlog maak nie.”
5God het gesê die dier mag vir God laster en die dier mag 42 maande lank regeer. 6Die dier het begin praat. Hy het vir God gelaster en hy het ook God se Naam en sy woonplek gelaster, hy het almal gelaster wat in die hemel woon. 7God het gesê die dier mag oorlog maak teen die mense wat aan God behoort en hy mag hulle wen. Ja, God het gesê die dier mag regeer oor die mense van al die stamme, volke, tale en lande. 8Al die mense op die aarde sal die dier aanbid, al die mense wie se name nie geskryf is in die boek van die lewe nie. Dit is God wat party mense se name in die boek van die lewe geskryf het. Hy het dit gedoen voordat Hy die wêreld gemaak het. Die boek van die lewe is ook die boek van die Lam, die Lam wat aan die kruis gesterf het.
9As jy hierdie woorde kan verstaan,
dan moet jy gehoorsaam wees.
10As God besluit het jy moet
tronk toe gaan,
dan sál jy tronk toe gaan.
As God besluit het mense sal jou
met 'n swaard doodmaak,
dan sál hulle jou
met 'n swaard doodmaak.
Ja, die mense wat aan
God behoort,
moet geduldig wees
wanneer hulle swaarkry,
hulle moet aanhou glo!
Die dier wat uit die aarde gekom het
11Toe sien ek 'n ander dier wat uit die aarde kom. Hy het twee horings gehad, dit was soos 'n lam se horings. Maar hy het gepraat soos 'n draak. 12En die dier uit die aarde het regeer in die plek van die eerste dier, die dier wat uit die see gekom het. Die dier uit die aarde het vir die mense op die aarde gesê hulle moet die eerste dier aanbid, die dier wat 'n groot seerplek gehad het en wat amper gesterf het, maar wat weer gesond geword het. 13Die dier uit die aarde het wonderlike dinge gedoen. Hy het vuur uit die lug laat afkom na die aarde, en die mense het dit gesien. 14God het gesê hierdie dier mag daardie wonderlike dinge doen. Die dier mag die wonderlike dinge doen in die plek van die dier wat uit die see gekom het. Die dier uit die aarde het die mense op die aarde bedrieg met daardie wonderlike dinge en hy het vir hulle gesê dat hulle 'n beeld moet maak vir die dier uit die see. Iemand het die dier uit die see met 'n swaard gesteek, en hy het 'n baie groot seerplek gehad, maar hy het gelewe. 15God het gesê die dier uit die aarde mag die beeld van die dier uit die see laat lewe. Die beeld kon toe praat, en as mense nie die beeld wou aanbid nie, dan het die dier hulle laat doodmaak.
16Die dier wat uit die aarde gekom het, het vir al die mense gesê hulle moet 'n merk op hulle regter-hand of 'n merk op hulle voorkop laat maak. Almal moes die merk kry, kinders en grootmense, ryk mense en arm mense, slawe en mense wat nie slawe is nie. 17Die dier het die merk vir mense gegee sodat niemand iets kon koop of verkoop as hy nie die merk het nie. Die merk is die naam van die dier uit die see of die nommer wat 'n mens van sy naam kan maak. 18'n Mens moet baie goed dink hieroor. As iemand dit goed verstaan, dan moet hy dink wat beteken die nommer van die dier uit die see, want dit is 'n mens se nommer. Die nommer is 666.

Currently Selected:

Openbaring 13: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy