YouVersion Logo
Search Icon

Psalms 22

22
U het gedoen wat ek gevra het
1Vir die leier van die koor: Dieselfde musiek soos vir die lied “Die takbok vroeg in die môre.” 'n Psalm van Dawid.
2My God, my God, hoekom het U my gelos?
Ek roep en vra dat U my moet help,
ek kla en sug, maar U bly ver weg van my.
3My God, ek roep elke dag en nag,
maar U antwoord nie, ek kan nie rus nie.
4U is die heilige God, die Israeliete prys U.
5Ons voorvaders het in Ú geglo, net in U,
hulle het geglo en U het hulle gered.
6Hulle het tot Ú geroep, net tot U,
hulle het gevra dat U hulle moet help,
en hulle het vry weggekom.
Hulle het in Ú geglo, net in U,
en U het hulle nie teleurgestel nie.
7Maar ek, ek is 'n wurm, nie 'n mens nie.
Mense spot my, niemand dink ek is belangrik nie.
8Almal wat my sien, lag vir my,
hulle steek hulle tong uit vir my.
9Hulle sê: “Hy het gesê die Here moet hom help,
nou moet die Here hom vrymaak.
As die Here van hom hou, dan moet die Here hom red.”
10Ja, Here, dit is Ú wat by my was toe ek gebore is,
U het my veilig laat rus teen my ma se bors.
11U het vir my gesorg vandat ek gebore is,
U is my God vandat ek klein was.
12U moenie ver van my wees nie,
want dit gaan sleg met my,
en daar is niemand wat my help nie.
13Daar is baie vyande rondom my,
hulle staan om my soos bulle uit die land Basan,
14hulle is soos leeus
wat hulle bekke groot oopmaak
om te brul en om my dood te byt.
15Dit voel of ek soos water uitgegooi is,
my bene lê oral rond,
my hart is soos byewas wat binne-in my smelt.
16Dit voel of ek niks meer kan doen nie,
ek is soos 'n droë, stukkende kleipot,
ek is so dors dat my tong vassit bo-in my mond.
Dit voel of ek dood is en of U my op die grond laat lê het.
17Ja, 'n klomp slegte mense staan soos honde om my,
hulle bind my hande en my voete vas.
18Ek is so maer dat ek al die bene
in my liggaam kan sien.
My vyande staan en kyk na my,
19hulle trek lootjies om te sien wie my klere moet kry.
20Maar U, Here, U moenie ver van my wees nie.
Net U kan my sterk maak, U moet my gou kom help.
21U moet my lewe kom red van my vyande se swaarde,
U moet my red van hierdie honde.
22U moet my red uit die bekke van hierdie leeus,
uit die horings van hierdie oer-osse.
U het gedoen wat ek gevra het.
23Ek sal vir die ander mense van my volk
vertel wat U gedoen het,
ek sal U prys daar waar hulle bymekaar is.
24Julle moet die Here prys, julle almal wat Hom dien,
die nageslag van Jakob moet Hom eer,
die hele nageslag van Israel
moet bang wees vir Hom en moet Hom dien.
25Wanneer 'n mens swaarkry,
'n mens wat homself nie kan red nie,
dan het die Here nie gemaak of dit nie belangrik is nie.
Hy het nie sy gesig weggedraai van so 'n mens nie,
Hy het gehoor toe ek geroep het
en gevra het dat Hy my moet help.
26Here, U laat my 'n lied sing om U te prys
daar waar die groot gemeente bymekaar is.
Ek sal doen wat ek belowe het,
die mense wat Hom dien, sal dit sien.
27Die mense wat hulleself nie kan help nie,
sal genoeg kos kry om te eet.
Julle wat vra wat die Here wil hê,
julle sal Hom prys.
Ek bid dat dit altyd goed sal gaan met julle.
28Al die mense sal onthou dat die Here daar is,
hulle sal van oral op die aarde na Hom toe kom,
al die volke sal voor Hom kom buig.
29Ja, dit is die Here wat Koning is,
Hy regeer oor die volke.
30Al die mense sal voor Hom buig en hulle sal Hom dien,
die mense wat meer as genoeg kos het om te eet,
en die mense wat self te min kos het om te lewe,
almal wat na die doderyk moet gaan.
31Die mense wat later sal lewe, sal Hom dien,
die geslagte wat later sal lewe, sal van die Here hoor.
32Mense wat nou nog nie gebore is nie,
sal hoor dat die Here 'n God is wat reg doen.

Currently Selected:

Psalms 22: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy