YouVersion Logo
Search Icon

Psalms 139

139
U moet my lei op die pad na U toe
1Vir die leier van die koor: Van Dawid. 'n Psalm.
Here, U het tot diep in my gekyk,
U ken my baie goed.
2U weet alles wat ek doen, net U weet dit,
U is ver, maar U weet wat ek dink.
3U weet hoe ver ek loop en hoe lank ek slaap.
U weet wat ek doen, oral waar ek gaan.
4Ja, Here, ek het nog nie begin om iets te sê nie,
dan weet U klaar alles wat ek wil sê.
5U is agter my en U is voor my,
U hand beskerm my.
6Ek verstaan nie hoe U alles weet nie,
dit is vir my baie moeilik, ek kan dit nie verstaan nie.
7Waarnatoe kan ek gaan waar U nie is nie?
Waarnatoe kan ek wegvlug van U?
8As ek opklim na die hemel, dan sal U daar wees.
As ek in die doderyk my slaapmat oopgooi
en gaan lê, dan sal U dáár ook wees.
9As ek ver na die ooste vlieg
of as ek ver in die weste gaan woon,
10dan sal U ook dáár vir my lei en my vashou.
11As ek sê die donker moet my toemaak,
die lig rondom my moet donker word,
12dan is dit nie donker vir U nie.
Vir U is die nag so lig soos die dag
en donker is vir U soos lig.
13Ja, dit is U wat my gemaak het,
'n mens wat kan voel en dink.
U het my hele liggaam gemaak voordat ek gebore is.
14Ek wil vir U dankie sê, want ek word bang
wanneer ek sien hoe wonderlik U my gemaak het.
Alles wat U doen, is wonderlik,
ek weet dit baie goed.
15U het geweet van elke been in my liggaam
toe U my gemaak het waar niemand dit gesien het nie,
toe U my gemaak het
in die liggaam van my ma.
16U het my gesien
voordat ek gebore is.
Ek was nog nie een dag oud nie,
toe het U klaar in u boek geskryf hoe lank ek sal lewe.
17O God, die dinge waaraan U dink,
is vir my baie moeilik, ek kan dit nie verstaan nie,
en U dink aan so baie dinge.
18As ek dit alles probeer tel,
dan is dit meer as sand,
en wanneer ek geslaap het en wakker word,
dan dink ek nóg aan U.
19O God, ek bid dat U die mense moet doodmaak
wat verkeerd doen.
U moet die moordenaars laat weggaan van my.
20Hulle is u vyande,
hulle sê slegte dinge teen U,
en hulle is opstandig teen U.
21Ek haat die mense wat vir U haat,
ek hou niks van mense wat opstandig is teen U nie.
22Ek haat hulle met my hele hart,
hulle is my vyande.
23O God, U moet diep in my kyk,
U moet weet wat binne-in my hart is,
U moet my toets,
U moet weet wat ek dink.
24En U moet help dat ek nie so lewe
dat ek seerkry nie,
U moet my lei op die pad na U toe.

Currently Selected:

Psalms 139: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy