YouVersion Logo
Search Icon

Psalms 119

119
Dit gaan goed met mense wat doen wat die Here sê
1Dit gaan goed met die mense wat heeltemal reg lewe,
die mense wat lewe soos die Here vir hulle geleer het.
2Dit gaan goed met mense wat doen wat die Here sê
en wat met hulle hele hart naby Hom wil wees.
3Hulle is ook mense wat nie verkeerde dinge doen nie
en wat lewe soos die Here wil hê.
4U het self vir ons gesê wat ons moet doen,
en ons moet dit presies so doen.
5Ek bid dat ek sal aanhou om te lewe soos u wette sê.
6Wanneer ek gehoorsaam is aan al u gebooie,
dan sal ek altyd weet wat om te doen.
7Wat U besluit, is altyd reg.
Wanneer ek dit geleer het,
dan sal ek vir U dankie sê met my hele hart.
8Ek sal doen wat u wette sê,
U moet my nie heeltemal alleen los nie.
9Wat moet jongmense doen
sodat hulle kan weet hoe hulle moet lewe?
Hulle moet doen wat U sê.
10Ek wil naby U wees met my hele hart,
U moet keer dat ek nie
ongehoorsaam is aan u gebooie nie.
11Ek dink altyd aan wat U gesê het,
dit keer my dat ek nie sonde doen teen U nie.
12Here, ek prys U,
U moet vir my leer wat u wette sê.
13Ek wil vir die mense alles sê wat U besluit het.
14Dit maak my bly om te lewe soos U sê,
so bly soos wanneer 'n mens alles het wat hy nodig het.
15Ek sal dink aan wat U beveel het,
ek sal goed luister na wat U wil hê.
16Ek sal altyd bly wees oor u wette,
ek sal nie vergeet wat U gesê het nie.
17As U goed is vir my, u dienaar,
dan sal ek lewe en ek sal doen wat U gesê het.
18U moet my oë oopmaak,
sodat ek kan sien hoe wonderlik
die dinge is wat U vir ons leer.
19Ek sal nie lank hier op die aarde wees nie,
U moet vir my leer wat u gebooie sê.
20My hart is seer, want ek verlang altyd
om te hoor wat U besluit het.
21U praat kwaai met die hoogmoedige mense,
U het hulle vervloek.
Hulle is die mense wat nie wil doen
wat u gebooie sê nie.
22U moet keer
dat mense my nie spot en verneder nie,
want ek doen wat U sê.
23Ook wanneer belangrike mense
saam planne maak teen my,
dan sal ek, u dienaar, altyd aan u wette dink.
24Wat U sê, maak my bly,
dit sê vir my wat ek moet doen.
25Wanneer dit sleg gaan met my,
dan moet U my laat aanhou lewe, soos U gesê het.
26Toe ek vir U vertel het van my lewe,
toe het U my geantwoord.
U moet vir my leer wat u wette sê.
27U moet my help om te verstaan wat U beveel,
sodat ek oor u wonderwerke kan dink.
28Ek smelt weg van die pyn,
U moet my regop hou, soos U gesê het.
29U moet keer dat ek nie vals lewe nie,
U moet genadig wees vir my en vir my leer.
30Ek het gekies om eerlik te lewe,
ek het onthou wat U besluit het.
31Here, ek hou vas aan wat U sê,
U moet my help om te weet wat ek moet doen.
32Ek wil graag lewe soos u gebooie sê,
want U sal my help om dit te verstaan.
33U moet vir my leer wat u wette beteken,
sodat ek altyd kan doen wat die wette sê.
34U moet my help om te verstaan,
sodat ek kan doen wat U vir my leer
en sodat ek daaraan gehoorsaam kan wees
met my hele hart.
35U moet my laat lewe soos u gebooie sê,
want dit is vir my lekker.
36U moet my help
sodat ek graag sal wil doen wat U sê
en nie sal kies om ryk te word nie.
37U moet my help sodat ek nie dinge wil hê
wat niks beteken nie,
U moet my laat lewe soos U wil hê.
38U moet vir my doen wat U belowe het,
vir my, u dienaar,
want U het dit belowe vir mense wat vir U dien.
39U moet keer dat mense my nie spot nie,
ek is bang daarvoor, want wat U besluit, is goed.
40U moet dit weet, ek wil graag hoor wat U beveel,
U sal reg doen en my laat aanhou lewe.
41Here, U moet vir my doen wat U belowe het,
U moet my red, U het dit belowe.
42Dan sal ek die mense kan antwoord wat my spot,
want ek glo dat U sal doen wat U gesê het.
43En U moet my help om altyd die waarheid te praat,
want ek glo dat U sal doen wat U besluit het.
44En ek sal aanhou doen wat U vir my leer,
altyd en altyd.
45En ek sal lewe soos 'n vry mens,
want ek het probeer doen wat U beveel het.
46En ek sal vir konings vertel wat U sê,
ek sal weet wat om te sê.
47Ek sal aanhou bly wees oor u gebooie,
ek is lief vir hulle.
48Ek respekteer u gebooie, ek is lief vir hulle,
ek sal aanhou dink oor u wette.
49U moenie vergeet wat U vir my gesê het nie,
vir my, u dienaar.
Dit het my laat hoop dat U my sal help.
50Toe dit sleg gegaan het met my,
het u woorde dinge verander vir my,
want die dinge wat U belowe het, het my laat aanhou lewe.
51Toe hoogmoedige mense my baie gespot het,
het ek nie opgehou om te doen wat U vir my geleer het nie.
52Here, wanneer ek dink aan wat U lank gelede besluit het,
dan voel ek beter.
53Die mense wat verkeerd doen, maak my kwaad,
dit is húlle wat nie doen wat U vir ons geleer het nie.
54Ek sal sing oor u wette,
so lank soos ek op hierdie aarde lewe.
55Here, ek dink ook in die nag aan u Naam,
en ek doen wat U vir ons geleer het.
56Dit het met my gebeur
omdat ek doen wat U beveel het.
57Here, ek het net vir U,
ek het belowe dat ek sal doen wat U gesê het.
58Ek soebat en vra vir U met my hele hart,
U moet genadig wees vir my, soos U belowe het.
59Wanneer ek dink aan hoe ek lewe,
dan dink ek altyd weer aan wat U gesê het.
60Ek is haastig, ek wag nie,
ek wil gehoorsaam wees aan u gebooie.
61Wanneer mense wat verkeerd doen,
vir my in hulle vangnet wil vang,
dan vergeet ek nie wat U vir ons geleer het nie.
62Ek staan in die middel van die nag op
om vir U dankie te sê, want alles wat U besluit het, is reg.
63Ek is 'n vriend van al die mense wat vir U dien
en wat doen wat U beveel.
64Here, U doen wat U belowe het,
oral op die aarde,
U moet vir my leer wat u wette sê.
65Here, U het goed gedoen aan my, u dienaar,
dit is soos U gesê het.
66U moet vir my leer om te weet
wat is reg en wat is verkeerd,
want ek glo dat u gebooie reg is.
67Voordat dit met my so sleg gegaan het,
het ek verkeerd gelewe,
maar nou doen ek wat U sê.
68U is goed en U doen goed,
U moet vir my leer wat u wette sê.
69Hoogmoedige mense lieg
en hulle praat sleg van my,
maar ek doen wat U beveel
met my hele hart.
70Hulle wil nie verstaan wat U vir ons sê nie,
maar ek geniet wat U vir ons leer.
71Dit was vir my goed dat U my laat swaarkry het,
want so het ek geleer wat u wette sê.
72Die dinge wat U vir my leer, is beter
as duisende stukke goud en silwer.
73Ú het my gemaak en Ú het my laat lewe,
U moet vir my leer sodat ek u gebooie kan ken.
74Die mense wat vir U dien, sal na my kyk
en hulle sal bly wees,
want hulle sal sien ek glo
dat U sal doen wat U gesê het.
75Here, ek weet dat U reg besluit,
en dat U my laat swaarkry het
omdat U gesê het U sal dit doen.
76U moet doen wat U belowe het,
dit sal dinge beter maak vir my.
U het dit vir my gesê, vir my, u dienaar.
77U moet jammer wees vir my sodat ek kan lewe,
want ek geniet wat U vir my leer.
78U moet die hoogmoedige mense laat verloor,
want hulle het vir my gelieg en hulle het my verlei.
Ék wil dink aan wat U beveel het.
79U moet die mense wat vir U dien,
na my toe laat kom,
sodat hulle kan leer wat U gesê het.
80Ek wil heeltemal gehoorsaam wees aan u wette,
sodat niemand my kan verneder nie.
81Ek wag en verlang daarna dat U my sal red,
ek is seker dat U sal doen wat U gesê het.
82My oë is moeg, want ek hou aan om te kyk
wanneer U dit weer goed sal laat gaan met my
soos U belowe het.
83Ja, ek het geword soos 'n velsak
wat in die rook hang,
maar ek vergeet nie u wette nie.
84Ek is u dienaar.
Hoe lank sal ek nog lewe?
Wanneer straf U die mense
wat my volg en jaag?
85Die hoogmoedige mense het gate gegrawe
sodat ek daarin moet val,
húlle is die mense wat nie doen
wat U vir ons geleer het nie.
86Al u gebooie staan vas, dit verander nooit.
Ek het niks verkeerd gedoen nie,
maar mense volg my en jaag my.
U moet my help.
87Ek het gedoen wat U beveel het,
maar hulle het my amper doodgemaak.
88U moet my laat aanhou lewe, soos U belowe het,
sodat ek kan doen wat U sê.
89Here, die dinge wat U vir ons gesê het,
is altyd waar,
dit staan vas in die hemel, dit verander nooit.
90U bly dieselfde vir elke geslag.
U het die aarde gesit waar dit is,
en dit is nog altyd daar.
91Alles is vandag nog daar, soos U besluit het,
want almal doen wat U sê.
92Ek het geniet wat U vir ons leer.
As dit nie so was nie,
dan het ek gesterf, want ek kry swaar.
93Ek sal nooit vergeet wat U beveel het nie,
want U het my so laat lewe.
94Ek behoort aan U, en U moet my red,
want ek probeer om te doen wat U beveel.
95Die mense wat verkeerd doen,
is gereed om my dood te maak,
maar ek dink net aan wat U gesê het.
96Ek het gesien dat niks vir altyd aanhou nie,
alles het 'n einde,
maar u gebooie is oral en altyd daar.
97Ek is baie lief vir die dinge wat U vir my leer,
ek dink die hele dag daaroor.
98U gebooie gee vir my wysheid,
meer wysheid as wat my vyande het,
want ek onthou altyd u gebooie.
99Ek is verstandiger as almal
wat vir my geleer het,
want ek dink aan wat U gesê het.
100Ek is slimmer as mense wat ouer is as ek,
want ek doen wat U beveel het.
101Ek doen niks wat verkeerd is nie,
ek wil doen wat U gesê het.
102Ek hou aan om te doen wat U besluit,
want U self leer vir my.
103Dit is lekker om te praat oor die dinge
wat U belowe het,
dit is lekkerder as heuning.
104Ek verstaan wat U beveel het,
daarom haat ek alles wat vals is.
105Die dinge wat U vir ons gesê het,
is vir my soos 'n lamp
wanneer ek in die donker loop,
dit wys vir my hoe ek moet lewe.
106Ek het belowe, en ek sal dit doen:
Ek sal doen wat U besluit, want U besluit reg.
107Dit gaan baie baie sleg met my,
U moet my laat aanhou lewe, soos U gesê het.
108Here, die dinge wat ek vir U sê,
is offers wat ek graag vir U bring.
U moet dit asseblief aanvaar en U moet vir my leer
om te verstaan wat U besluit.
109Daar is altyd mense wat my wil doodmaak,
maar ek vergeet nie wat U vir ons geleer het nie.
110Die mense wat verkeerd doen, wil my vang
soos 'n mens voëls vang in 'n vangnet,
maar ek hou aan om te doen wat U beveel.
111Ek wil altyd onthou wat U sê,
want dit maak my baie bly.
112Ek het besluit om altyd te doen
wat u wette sê, so lank soos ek lewe.
113Ek hou nie van mense wat skynheilig is nie,
maar ek is lief vir wat U vir ons geleer het.
114By U is ek veilig, U beskerm my,
ek weet U sal doen wat U gesê het.
115Slegte mense moenie naby my kom nie,
sodat ek kan doen wat die gebooie
van my God sê.
116U moet my regop hou, soos U belowe het,
dan sal ek aanhou lewe,
U moet my help, sodat ek kan aanhou hoop.
117Wanneer U my regop hou, dan is ek veilig
en dan kyk ek altyd wat u wette sê.
118U hou nie van mense wat ongehoorsaam is
aan u wette nie,
want hulle is vals, hulle wil mense bedrieg.
119U los al die mense
wat verkeerd doen, hulle is soos skuim
wat niks beteken nie.
Daarom is ek lief vir wat U sê.
120Ek is bang vir U, ek bewe,
ek is bang vir wat U besluit.
121Ek het reg gedoen aan mense
en ek het gelewe soos U wil hê.
U moenie vir my los sodat mense my verdruk nie.
122U moet vir my, u dienaar, belowe
dat U dit goed sal laat gaan met my.
U moenie dat hoogmoedige mense my verdruk nie.
123My oë is moeg, want ek hou aan om te kyk
wanneer U my sal red.
Ek hou aan om te luister na wat U sê,
want wat U sê, is reg.
124U moet vir my, u dienaar, doen wat U belowe het,
U moet vir my leer wat u wette sê.
125Ek is u dienaar, U moet my verstandig maak
sodat ek kan verstaan wat U sê.
126Here, U moet nou iets doen aan die mense
wat nie doen wat U vir ons geleer het nie.
127Waarlik, ek is meer lief vir u gebooie
as vir goud, ja, goeie goud.
128Waarlik, ek probeer altyd om alles te doen wat U beveel,
ek hou nie van iets wat vals is nie.
129Wat U sê, is wonderlik,
daarom doen ek wat U sê.
130Wanneer mense verstaan wat U gesê het,
dan is dit vir hulle soos 'n lig,
dit wys vir jongmense wat hulle moet doen.
131Ek is honger vir u gebooie,
so honger soos 'n dier wat sy bek wyd oopmaak
omdat hy honger is.
132U moet luister en genadig wees vir my,
soos U altyd doen vir die mense
wat lief is vir u Naam.
133U moet my help, sodat ek kan aanhou
om te lewe soos U sê.
U moenie dat sonde oor my regeer nie,
nie een sonde nie.
134U moet keer, mense moenie vir my verdruk nie,
dan sal ek kan doen wat U beveel.
135U moet naby my wees,
naby my, u dienaar,
en U moet vir my leer wat u wette sê.
136My trane loop soos strome water
omdat mense nie doen wat U vir ons geleer het nie.
137Here, U doen reg, U besluit reg.
138Alles wat U gesê het, is reg,
mense kan dit altyd glo.
139Ek word baie kwaad wanneer my vyande
vergeet wat U gesê het.
140Die dinge wat U sê, is baie waar.
Ek, u dienaar, is lief vir wat U sê.
141Ek is klein en onbelangrik
maar ek het nie vergeet wat U beveel het nie.
142U doen reg en U sal altyd reg doen,
die dinge wat U vir ons geleer het,
bly dieselfde.
143Toe ek swaargekry het
en toe dit sleg gegaan het met my,
was dit vir my lekker om u gebooie te hou.
144Wat U sê, is altyd reg,
U moet my help om dit te verstaan,
sodat ek kan aanhou lewe.
145Here, ek roep en ek vra
dat U my moet help,
ek vra dit met my hele hart.
U moet my antwoord,
ek wil doen wat u wette sê.
146Ek roep en ek vra
dat U my moet red,
sodat ek kan doen wat U sê.
147Ek staan op voordat die son opkom
en ek vra dat U my moet help,
ek weet U sal doen wat U gesê het.
148Ek bly die hele nag wakker,
sodat ek kan dink aan wat U belowe het.
149Here, U doen wat U belowe het
en wat U besluit het.
U moet luister na wat ek vra,
U moet my laat aanhou lewe.
150Die mense is naby wat my volg en jaag
om my seer te maak,
maar hulle is ver van wat U vir ons geleer het.
151Here, U is naby en u gebooie verander nie.
152Ek weet van die begin af wat U gesê het,
want u woorde bly altyd waar.
153U moet kyk hoe sleg dit met my gaan
en U moet my red,
want ek het nie vergeet wat U vir ons geleer het nie.
154U moet my help wanneer mense my beskuldig,
U moet my vrymaak, soos U belowe het,
U moet my laat aanhou lewe.
155U sal nie die mense red wat verkeerd lewe nie,
want hulle probeer nie om te doen wat u wette sê nie.
156Here, U is baie genadig, U het so besluit,
U moet my laat aanhou lewe.
157Daar is baie vyande wat my volg en jaag,
maar ek hou aan om te doen wat U sê.
158Wanneer ek sien hoe ontrou mense is,
dan wil ek naar word.
Hulle is mense wat nie doen wat U sê nie.
159Here, U moet kyk
hoe lief is ek vir wat U beveel,
U moet my laat aanhou lewe,
soos U belowe het.
160Alles wat U gesê het, bly dieselfde,
alles wat U besluit, is altyd reg.
161Ek het niks verkeerd gedoen nie,
maar belangrike mense volg my en jaag my.
Ek is nie bang vir hulle nie,
ek is bang vir wat U gesê het.
162Ek is so bly oor wat U belowe het,
so bly soos wanneer ek baie goed kry
wat ek vir my kan vat.
163Ek haat dit wanneer mense vals is,
ek hou niks daarvan nie.
Ek is lief vir wat U vir ons geleer het.
164Ek prys U sewe maal elke dag
omdat alles wat U besluit, reg is.
165Dit gaan baie goed met mense
wat lief is vir wat U vir ons geleer het.
Daar gebeur niks wat sleg is met hulle nie.
166Here, ek weet U sal my red
en ek doen wat u gebooie sê.
167Ek hou aan om te doen wat U sê,
ek is baie lief daarvoor.
168Ek hou aan om te doen wat U beveel
en wat U sê,
want U sien altyd hoe ek lewe.
169Here, U moet hoor wat ek bid,
U moet my help om te verstaan wat U sê.
170U moet luister wanneer ek tot U bid,
U moet my red, soos U belowe het.
171Ek sal aanhou om U te prys,
want U leer vir my u wette.
172Ek sal sing oor wat U belowe het,
want al u gebooie is reg.
173U moet my help,
want ek het gekies om te doen wat U beveel het.
174Here, ek verlang daarna dat U my moet red,
ek geniet wat U vir ons geleer het.
175U moet my laat aanhou lewe,
sodat ek U kan prys.
Die dinge wat U besluit het, moet my help.
176Ek het verdwaal soos 'n skaap wat weggeraak het,
U moet my soek, vir my, u dienaar,
want ek het nie u gebooie vergeet nie.

Currently Selected:

Psalms 119: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy