YouVersion Logo
Search Icon

Markus 2

2
Jesus maak 'n verlamde man gesond
(Ook Matt 9:1-8; Luk 5:17-26)
1'n Paar dae later het Jesus weer in die stad Kapernaum gekom. Die mense het gehoor dat Hy by die huis is. 2Daar het so baie mense bymekaargekom dat daar nie meer plek in die huis was nie, ook nie buite voor die deur nie. Jesus het begin om vir die mense te vertel van die goeie boodskap. 3Daar kom toe mense wat 'n verlamde man na Hom toe bring. Vier mense het die man gedra. 4Omdat daar so baie mense was, kon hulle nie die man tot by Jesus bring nie. Hulle het toe die dak bokant Jesus oopgebreek. Hulle het 'n gat in die dak gemaak, en toe het hulle die slaapmat waarop die verlamde man lê, deur die gat laat sak. 5Toe Jesus sien hulle glo dat Hy die verlamde man gesond kan maak, sê Hy vir die man: “My vriend, Ek vergewe jou sondes.”
6Daar het skrifgeleerdes gesit, en hulle het gewonder: 7“Hoekom praat hierdie man so? Hy maak of hy self God is! 'n Mens kan nie sondes vergewe nie, net God kan.”
8Jesus het dadelik geweet dat hulle so dink. Daarom het Hy vir hulle gesê: “Hoekom wonder julle oor hierdie dinge? 9Is dit die maklikste om vir die verlamde man te sê: ‘Ek vergewe jou sondes,’ of is dit die maklikste om te sê: ‘Staan op, tel jou slaapmat op en loop?’ 10Maar Ek wil vir julle wys dat Ek, die Seun van die mens, sondes mag vergewe op die aarde.”
Jesus sê toe vir die verlamde man: 11“Ek sê vir jou, staan op, neem jou slaapmat en gaan huis toe.”
12Die man het opgestaan en hy het dadelik sy slaapmat geneem en uitgegaan. Al die mense het dit gesien en hulle was baie verbaas. Hulle het God geprys en gesê: “So iets het ons nog nooit gesien nie!”
Jesus roep vir Levi
(Ook Matt 9:9-13; Luk 5:27-32)
13Jesus het weer na die see gegaan. Baie mense het aangehou om na Hom toe te kom, en Hy het vir hulle geleer. 14Toe Hy teruggaan en by die tolhek verbygaan, sien Hy vir Levi, die seun van Alfeus, daar sit. Jesus het vir hom gesê: “Kom saam met My!”
Levi het opgestaan en hy het saam met Jesus gegaan. 15Jesus het in Levi se huis gaan eet. Baie tollenaars en sondaars het saam met Jesus en sy dissipels geëet, want baie van hulle het gewoonlik saam met Jesus gegaan. 16Party skrifgeleerdes was ook Fariseërs. Hulle het gesien Jesus eet saam met tollenaars en sondaars. Hulle vra toe vir Jesus se dissipels: “Hoekom eet Jesus saam met tollenaars en sondaars?”
17Toe Jesus dit hoor, sê Hy vir hulle: “Gesonde mense gaan nie dokter toe nie, net mense wat siek is, gaan dokter toe. Ek het nie gekom om mense te roep wat dink hulle is gehoorsaam aan die wette van God nie, Ek het gekom om sondaars te roep.”
Hoekom Jesus se dissipels nie vas nie
(Ook Matt 9:14-17; Luk 5:33-38)
18Johannes se dissipels en die Fariseërs was besig om te vas. Party mense kom toe en vra vir Jesus: “Johannes se dissipels vas, en die Fariseërs se dissipels vas, maar hoekom vas jou dissipels nie?”
19Jesus het geantwoord: “Die vriende van die bruidegom kan nie vas wanneer die bruidegom nog by hulle is nie. Nee, wanneer die bruidegom by hulle is, kan sy vriende nie vas nie. 20Maar daar sal 'n tyd kom wanneer die bruidegom nie meer by hulle sal wees nie, en dan sal hulle vas. 21Niemand maak ou klere reg met 'n stuk lap wat nog nie gekrimp het nie. Wanneer iemand dit doen, dan sal die nuwe lap krimp en die ou materiaal sal ook skeur, en dan sal die skeur groter word. 22Niemand gooi nuwe wyn in ou velsakke nie, want dan sal die wyn die sakke laat oopbars. Dan verloor hy die wyn én die velsakke. Nee, 'n mens moet nuwe wyn in nuwe sakke gooi.”
Jesus is die Here van die Sabbatdag
(Ook Matt 12:1-4,8; Luk 6:1-5)
23Jesus en sy dissipels het op 'n Sabbatdag deur 'n koringland geloop. Terwyl hulle loop, het sy dissipels begin om koring-are te pluk. 24Die Fariseërs sê toe vir Jesus: “Kyk daar, hoekom doen jou dissipels iets wat 'n mens nie op die Sabbatdag mag doen nie?”
25Jesus het hulle geantwoord: “ Het julle gelees wat Dawid gedoen het toe hy probleme gehad het en toe hy en sy manne honger was? 26Dit was in die tyd toe Abjatar die hoëpriester was. Dawid het in die tempel ingegaan en hy het die brood geëet wat op die tafel was. Niemand mag daardie brood eet nie, net die priesters mag dit eet. Dawid het ook van die brood gegee vir die mense wat saam met hom was.”
27Jesus het vir die Fariseërs gesê: “God het die Sabbatdag vir die mens gemaak. Hy het nie die mens vir die Sabbatdag gemaak nie. 28Daarom, Ek, die Seun van die mens, is die Here wat besluit wat op die Sabbatdag mag gebeur.”

Currently Selected:

Markus 2: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy