YouVersion Logo
Search Icon

Matteus 13

13
Die gelykenis van die saaier
(Ook Mark 4:1-9; Luk 8:4-8)
1Daardie selfde dag het Jesus uit die huis gegaan en Hy het by die See van Galilea gaan sit. 2Baie mense het na Hom toe gekom en hulle het by Hom kom staan. Daarom het Jesus in 'n boot geklim en Hy het daarin gaan sit. Al die mense het op die strand gestaan. 3Jesus het vir hulle baie dinge geleer, Hy het vir hulle gelykenisse vertel. Hy het gesê: “'n Man het saad gaan saai, hy was die saaier. 4Toe hy die saad gesaai het, het party van die saad op die voetpad in die koringland geval. Die voëls het gekom en hulle het daardie saad opgepik.
5“Party van die saad het op vlak grond geval. Daar was klip onder die grond. Die saad het gou begin groei omdat die grond nie diep was nie. 6Maar toe die son opkom en warm word, het die plante doodgebrand, omdat dit nie sterk wortels gehad het nie.
7“Party van die saad het tussen die dorings geval. Die dorings het grootgeword en dit het die ander plantjies heeltemal toegegroei.
8“Party van die saad het in vrugbare grond geval. Dit het gegroei en daar was baie koring. Een plant het 100 maal meer gegee as die saad, 'n ander plant het 60 maal meer gegee, en 'n ander plant 30 maal meer. 9As iemand verstaan wat Ek sê, dan moet hy doen wat Ek sê!”
Jesus sê hoekom Hy gelykenisse vertel
(Ook Mark 4:10-12; Luk 8:9-10)
10Die dissipels het na Jesus toe gekom en vir Hom gevra: “Hoekom vertel U gelykenisse wanneer U met die mense praat?”
11Jesus het vir hulle gesê: “God het vir julle gehelp om die geheim te verstaan dat Hy wat in die hemel is, die Koning is en dat Hy regeer. Maar God het die ander mense nie gehelp om dit te verstaan nie. 12As iemand hierdie geheim net 'n klein bietjie verstaan, dan sal God hom help om dit nog beter te verstaan. Dan sal hy dit baie goed verstaan. Maar as iemand hierdie geheim nie verstaan nie, dan sal God hom niks laat verstaan nie. 13Ek vertel vir die mense gelykenisse, want hulle kyk, maar hulle sien niks. Hulle hoor, maar hulle verstaan nie wat hulle hoor nie. 14Die profeet Jesaja se woorde is waar wat hy oor hulle geskryf het. Hy het geskryf:
“ Julle sal hoor en hoor,
maar julle sal niks verstaan nie.
Julle sal kyk en kyk,
maar julle sal niks sien nie.
15Hierdie volk het hardkoppig
geword.
Hulle het opgehou luister
sodat hulle nie kan verstaan nie.
Hulle het hulle oë toegehou
sodat hulle nie kan sien nie
en nie kan verstaan nie.
Ek wil hulle gesond maak,
maar hulle wil nie verander
en lewe soos Ek wil hê nie.”
16Jesus het ook gesê: “Julle is gelukkige mense, want julle oë kan sien en julle ore kan hoor en julle kan verstaan. 17Ek sê vir julle, en dit is seker: Baie profete en mense wat gehoorsaam was aan die wette van die Here, wou baie graag sien wat julle nou sien, maar hulle het dit nie gesien nie. En hulle wou baie graag hoor wat julle nou hoor, maar hulle het dit nie gehoor nie.”
Jesus sê wat die gelykenis van die saaier beteken
(Ook Mark 4:13-20; Luk 8:11-15)
18“Julle moet nou luister na wat die gelykenis van die saaier beteken.
19“Weet julle wat dit beteken wanneer die saad op die voetpad in die koringland geval het? Dit is wanneer iemand die boodskap hoor dat God Koning is, maar nie die boodskap verstaan nie. Die duiwel kom na hom toe en hy vat die woorde weg wat God in sy hart gesaai het. 20Wanneer die saad in vlak grond val waar daar klippe onder die grond is, dan is dit soos wanneer iemand die boodskap hoor en glo en bly is daaroor, 21maar hy is soos 'n plant wat nie diep wortels het nie en net 'n kort tydjie lewe. Hy hoor die boodskap en hy glo dit, maar wanneer die mense hom daaroor verdruk, en hy begin swaarkry, dan hou hy op om te glo.
22“En wanneer die saad tussen die dorings val, is dit soos wanneer iemand die boodskap hoor, maar hy is bekommerd oor die dinge van die wêreld en hy dink hoe hy kan ryk word. Daarom kan die boodskap nie sy lewe verander nie, soos die saad wat nie vrugte dra nie. 23Wanneer die saad in vrugbare grond val, dan is dit soos wanneer 'n mens die boodskap hoor en dit verstaan. Die boodskap verander sy lewe, soos die saad wat vrugte dra. By party mense is die vrugte 100 maal meer as die saad wat die man gesaai het. By party mense is die vrugte 60 maal meer, en by party mense is dit 30 maal meer.”
Die gelykenis van die onkruid tussen die koring
24Jesus het vir hulle nog 'n gelykenis vertel. Hy het gesê: “Wanneer God Koning is, God wat in die hemel is, dan is dit soos wanneer 'n man goeie saad in die grond gesaai het. 25Een nag het sy vyand gekom en gewag totdat al die mense slaap. Toe het hy onkruid tussen die koring gesaai en daarna het hy weggegaan. 26Die koringplantjies het mooi begin groei en die koring-are het uitgekom. Die werkers kon toe die onkruid ook sien. 27Hulle gaan toe na die man toe en sê vir hom: ‘Meneer, jy het goeie saad gesaai in die grond. Van waar kom die onkruid?’ 28Die man het vir hulle gesê: ‘My vyand het die onkruid gesaai.’ Die werkers vra toe vir die man: ‘Moet ons die onkruid gaan uittrek?’ 29Die man het vir hulle gesê: ‘Nee. As julle nou die onkruid uittrek, dan sal julle miskien party van die koringplantjies ook uittrek. 30Die onkruid en die koring moet saam groei totdat die koring ryp is. Dan sal ons dit afsny. Dan sal ek vir die werkers sê: Maak eers die onkruid bymekaar en bind dit vas en verbrand dit. Maak dan die koring bymekaar en bring dit na my stoorkamer.’ ”
Die gelykenis van die mosterd-saad en die suurdeeg
(Ook Mark 4:30-32; Luk 13:18-21)
31Jesus het vir hulle nog 'n gelykenis vertel. Hy het gesê: “Wanneer God Koning is, God wat in die hemel is, dan is dit soos wanneer 'n man 'n mosterd-saad in sy grond geplant het. 32Dit is die kleinste saadjie van al die soorte saad, maar wanneer die plantjie klaar gegroei het, dan is dit groter as die ander plante in die tuin en dit word 'n boom. Dan kom die voëls en hulle maak neste in die boom se takke.”
33Jesus het vir hulle nog 'n gelykenis vertel. Hy het gesê: “Wanneer God Koning is, God wat in die hemel is, dan is dit soos wanneer 'n vrou 'n klein stukkie suurdeeg neem en dit meng met drie sea meel. Die meel word dan deeg, en die suurdeeg laat al die deeg rys en groter word.”
Hoekom Jesus gelykenisse vertel het
(Ook Mark 4:33-34)
34Jesus het al hierdie dinge vir baie mense gesê. Hy het gelykenisse vertel wanneer Hy met die mense gepraat het. Hy het altyd gelykenisse gebruik wanneer Hy met die mense gepraat het. 35So het die woorde waar geword wat die profeet in die Ou Testament gesê het. Hy het gesê:
“ Ek sal gelykenisse gebruik
wanneer Ek met hulle praat.
Daar is dinge wat mense
nie geweet het nie,
dit was 'n geheim.
Ek sal dit vir almal vertel.”
Jesus sê wat die gelykenis van die onkruid tussen die koring beteken
36Jesus het toe weggegaan van die mense en Hy het huis toe gegaan. Sy dissipels het na Hom toe gekom en hulle het gesê: “Verduidelik asseblief vir ons wat beteken die gelykenis van die onkruid in die koringland.”
37Jesus het vir hulle gesê: “Die Persoon wat die goeie saad saai, is Ek, die Seun van die mens. 38Die koringland is die wêreld. Die goeie saad is die goeie mense, God regeer oor hulle. Die onkruid is die slegte mense, die slegte een, die duiwel, regeer oor hulle. 39Die vyand wat die onkruid saai, is die duiwel. Die tyd wanneer die koring ryp is en die werkers dit afsny, is die tyd wanneer dit die einde van die wêreld sal wees. Die werkers wat die koring-oes bymekaarmaak, is die engele. 40Hulle maak die onkruid bymekaar en gooi dit in die vuur. Dit sal dieselfde wees wanneer die einde van die wêreld kom. 41Die Seun van die mens sal dan sy engele stuur, en hulle sal die sondaars bymekaarmaak en wegvat daar waar God regeer. Hulle sal die mense wegvat wat ander mense verlei het om sonde te doen en die mense wat nie gedoen het wat God se wette sê nie. 42Die engele sal al daardie sondaars in die vuur gooi. Daar in die vuur sal hulle huil en hulle sal hard op hulle tande byt van pyn. 43Dan sal die mense wat gehoorsaam is aan die wette van die Here, blink soos die son. Hulle sal daar wees waar hulle Vader Koning is. As iemand verstaan wat Ek sê, dan moet hy doen wat Ek sê!”
Die gelykenisse van die geldkis en die pêrel
44Jesus het ook gesê: “Waar God wat in die hemel is, Koning is, is dit soos wanneer iemand sy duur goed in die veld begrawe het. Eendag het 'n ander man die goed gekry. Hy het dit dadelik weer toegemaak. Hy was baie bly, en daarom het hy weggegaan en alles verkoop wat hy gehad het. Toe het hy daardie stuk grond gaan koop.
45“Waar God wat in die hemel is, Koning is, is dit ook soos wanneer 'n man duur pêrels gesoek het en dit wou koop. 46Toe hy 'n baie duur pêrel sien, het hy alles verkoop wat hy gehad het en toe het hy die pêrel gaan koop.”
Die gelykenis van die visnet
47“Waar God wat in die hemel is, Koning is, is dit ook soos wanneer vissermanne 'n visnet in die see gooi, en hulle vang baie soorte visse. 48Wanneer die visnet vol visse is, dan trek die vissermanne dit uit die see tot op die sand. Dan gaan sit hulle en gooi die goeie visse bymekaar in bakke, maar hulle gooi die visse weg wat hulle nie kan eet nie. 49Dit sal dieselfde wees wanneer die einde van die wêreld kom. Die engele sal kom en hulle sal al die slegte mense wegvat, weg van die mense wat gehoorsaam is aan die wette van die Here. 50En die engele sal dan al die slegte mense in die vuur gooi. Daar in die vuur sal hulle huil en hard op hulle tande byt van pyn.”
Die gelykenis van die eienaar van die huis
51Jesus vra toe vir sy dissipels: “Verstaan julle al hierdie dinge?”
Hulle sê vir Hom: “Ja.”
52Toe sê Jesus vir hulle: “Elke skrifgeleerde wat 'n dissipel word van God, die Koning wat in die hemel is, is soos iemand wat 'n huis het en wat nuwe goed en ook ou goed uithaal uit sy stoorkamer wanneer hy dit nodig het.”
Die mense van Nasaret glo nie in Jesus nie
(Ook Mark 6:1-6; Luk 4:16,22,24)
53Toe Jesus hierdie gelykenisse klaar vertel het, het Hy weggegaan. 54Hy het in Nasaret gekom, die stad waar Hy grootgeword het. Hy het vir die mense in hulle sinagoge geleer. Hulle was baie verbaas oor wat Hy vir hulle geleer het. Hulle vra toe: “Waar het hy hierdie wysheid gekry? Hoe kan hy hierdie wonderwerke doen? 55Ons weet hy is die seun van die man wat houtwerk doen. Sy ma se naam is Maria, en sy broers is Jakobus, Josef, Simon en Judas. 56Sy susters is ook almal by ons. Hoe kan Jesus dit alles doen?”
57Die mense het glad nie gehou van wat Jesus gesê en gedoen het nie. Jesus het vir hulle gesê: “Die mense in ander stede luister na 'n profeet en hulle respekteer hom. Maar die mense in die stad waar hy grootgeword het en die mense in sy eie huis respekteer hom nie.”
58Jesus het nie baie wonderwerke daar gedoen nie, want die mense het nie in Hom geglo nie.

Currently Selected:

Matteus 13: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy