YouVersion Logo
Search Icon

Lukas 5

5
Jesus kies sy eerste dissipels
(Ook Matt 4:18-22; Mark 1:16-20)
1Eendag het Jesus by die see van Gennesaret gestaan en Hy het die boodskap van God vir die mense verduidelik. Baie mense het na Hom geluister en hulle het rondom Jesus gestaan en teen Hom gedruk. 2Jesus het twee bote gesien wat langs die see lê. Die vissermanne was nie in die bote nie. Hulle was besig om die visnette te was. 3Jesus het in een van die bote geklim. Dit was Simon se boot. Jesus het vir Simon gevra om 'n bietjie verder van die strand weg te roei. Jesus het gaan sit en Hy het uit die boot vir die mense geleer. 4Toe Hy klaar gepraat het, het Hy vir Simon gesê: “Roei 'n bietjie verder tot waar die see diep is en gooi julle nette in die water om vis te vang.”
5Simon het vir Jesus gesê: “Meneer, ons het die hele nag hard gewerk, maar ons het niks gevang nie. Maar as U sê ek moet dit doen, dan sal ek die nette ingooi.”
6Toe Simon die nette in die see gooi, het hulle so baie visse gevang dat die nette amper stukkend geskeur het. 7Hulle het hulle vriende in die ander boot geroep om te kom help. Hulle vriende het gekom en hulle het altwee bote vol visse gemaak. Dit was so vol, die bote het amper gesink. 8Toe Simon Petrus dit sien, het hy voor Jesus op die grond geval en gesê: “Here, gaan weg van my, want ek is 'n man wat baie sonde doen.”
9Simon Petrus en die ander mense saam met hom was baie verbaas oor die baie visse wat hulle gevang het. 10Jakobus en Johannes was ook baie verbaas. Hulle was die seuns van Sebedeus en hulle het saam met Simon gewerk en visgevang. Jesus het vir Simon gesê: “Moenie bang wees nie. Van nou af sal jy nie meer visvang nie, jy sal mense bymekaarmaak.”
11Hulle het met die bote tot by die land geroei. Hulle het alles daar gelos en saam met Jesus gegaan.
Jesus maak 'n melaatse man gesond
(Ook Matt 8:1-4; Mark 1:40-45)
12Jesus het in 'n stad gekom. Daar was 'n melaatse man. Toe die melaatse man vir Jesus sien, het hy voor Jesus op die grond geval met sy gesig teen die grond. Hy het vir Jesus gesoebat en gesê: “Here, as U wil, kan U my gesond maak.”
13Jesus het sy hand uitgesteek en aan die man geraak en gesê: “Ek wil dit doen, Ek maak jou gesond.”
Dadelik was die man nie meer melaats nie. 14Jesus het vir die man gesê: “Jy moet dit vir niemand vertel nie. Gaan wys vir die priester jy is gesond en doen dan wat Moses in die wette geskryf het. Bring die offers omdat jy rein geword het. Dan sal die priesters weet jy is rein.”
15Die mense het toe nog meer gepraat oor alles wat Jesus gedoen het. Baie mense het bymekaargekom om na Jesus te luister. Hulle wou ook hê Jesus moet hulle siektes gesond maak. 16Jesus het altyd graag na stil plekke gegaan om alleen te wees en daar te bid.
Jesus maak 'n verlamde man gesond
(Ook Matt 9:1-8; Mark 2:1-12)
17Eendag was Jesus besig om vir die mense te leer. Daar was ook Fariseërs en skrifgeleerdes wat na Hom geluister het. Hulle het gekom uit al die stede van Galilea en Judea en ook uit Jerusalem. Die Here het vir Jesus krag gegee om mense gesond te maak. 18'n Paar manne het 'n man wat verlam was, op 'n slaapmat nader gebring. Hulle het gekyk waar Jesus is, en hulle wou die man in die huis inbring en voor Jesus neersit. 19Maar hulle kon nie naby Jesus kom nie, want daar was te veel mense. Hulle het toe op die dak geklim en van die dakteëls uitgehaal. Toe laat sak hulle die verlamde man op die slaapmat deur die gat in die dak tot voor Jesus. Almal het dit gesien. 20Jesus het gesien hulle glo Hy kan die verlamde man gesond maak, en Hy het vir die man gesê: “My vriend, Ek vergewe jou sondes.”
21Die skrifgeleerdes en die Fariseërs het saggies met mekaar gepraat en gesê: “Wie is hierdie man? Hy maak of hy God is. 'n Méns kan nie sondes vergewe nie, net God kan.”
22Maar Jesus het geweet wat hulle praat. Hy het vir hulle gesê: “Hoekom sê julle dit? 23Wat is makliker om te sê: ‘Ek vergewe jou sondes,’ of ‘Staan op en loop?’ 24Ek wil nou vir julle wys dat Ek, die Seun van die mens, sondes mag vergewe op die aarde.”
Toe sê Jesus vir die lam man: “Ek sê vir jou, staan op, neem jou slaapmat en gaan huis toe.”
25Die man het dadelik opgestaan. Almal het dit gesien. Hy het die slaapmat geneem waarop hy gelê het en hy het huis toe gegaan. Hy het aangehou om God te prys. 26Al die mense was verbaas en hulle het God ook geprys. Hulle was bang en hulle het aangehou om God te eer. Hulle het gesê: “Vandag het ons wonderlike dinge gesien.”
Jesus roep vir Levi
(Ook Matt 9:9-13; Mark 2:13-17)
27Daarna het Jesus verder gegaan. Hy sien toe 'n tollenaar by die tolhek sit. Die tollenaar se naam was Levi. Jesus het vir hom gesê: “Kom saam met My.”
28Levi het opgestaan en alles daar gelos en hy het saam met Jesus gegaan. 29Toe nooi Levi vir Jesus na 'n groot ete in sy huis. Daar was ook baie tollenaars en ander mense wat saam met hulle geëet het. 30Maar party van die Fariseërs en hulle skrifgeleerdes het later by Jesus se dissipels kom kla en gevra: “Hoekom eet en drink julle saam met tollenaars en sondaars?”
31Jesus het vir hulle gesê: “Gesonde mense gaan nie dokter toe nie, net mense wat siek is, gaan dokter toe. 32Dit is hoekom Ek saam met daardie mense eet. Ek het nie gekom om mense te roep wat dink hulle is gehoorsaam aan die wette van God nie. Nee, Ek het gekom om sondaars te roep sodat hulle kan lewe soos God wil hê.”
Hoekom Jesus se dissipels nie vas nie
(Ook Matt 9:14-17; Mark 2:18-22)
33Party mense het vir Jesus gesê: “Johannes die Doper se dissipels vas baie maal en bid altyd wanneer hulle moet. Die Fariseërs se dissipels doen dit ook. Maar jou dissipels eet en drink.”
34Jesus sê toe vir hulle: “Julle kan nie vir mense by 'n troue sê hulle mag niks eet nie. Die bruidegom is dan by hulle. 35Maar daar sal 'n tyd kom wanneer die bruidegom nie meer by hulle sal wees nie. Dan sal hulle vas.”
36Jesus vertel toe vir hulle 'n gelykenis. Hy het gesê: “'n Mens skeur nie 'n lap uit nuwe klere om ou klere reg te maak nie, want dan het hy die nuwe klere ook geskeur. En 'n nuwe lap pas nie by ou klere nie. 37En 'n mens gooi ook nie nuwe wyn in ou velsakke nie. Die nuwe wyn sal die ou velsakke laat bars, en dan loop die wyn uit en die velsakke is stukkend. 38Nee, 'n mens gooi nuwe wyn in nuwe velsakke. 39Onthou ook: As 'n mens eers ou wyn geproe het, dan wil jy nie nuwe wyn drink nie, want die ou wyn smaak lekkerder.”

Currently Selected:

Lukas 5: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy