YouVersion Logo
Search Icon

Lukas 22

22
Die leiers maak planne om Jesus dood te maak
(Ook Matt 26:2,4-5,14-16; Mark 14:1-2,10-11)
1Dit was amper tyd vir die Fees van die Ongesuurde Brood. Hulle het hierdie fees ook “ Paasfees” genoem. 2Die priesterleiers en die skrifgeleerdes het planne gemaak om Jesus dood te maak. Dit was geheime planne, want hulle was bang vir die mense. 3Een van die dissipels se naam was Judas. Hulle het hom ook Iskariot genoem. Die Satan het in Judas ingegaan. 4Toe gaan Judas na die priesterleiers en die offisiere van die wagte wat by die tempel gewerk het. Judas het met hulle gepraat oor hoe hy hulle kon help om Jesus te vang. 5Hulle was bly en hulle het besluit om vir Judas geld te gee. 6Judas het gesê dit is goed. Toe het hy 'n plan probeer maak en hy het gewag vir die regte tyd om Jesus te verraai. Hy moes dit doen waar daar nie ook ander mense is nie.
Die laaste Paasfees
(Ook Matt 26:17-19; Mark 14:12-16)
7Dit was die eerste dag van die Fees van die Ongesuurde Brood. Daardie dag moes die mense die paaslam slag. 8Toe stuur Jesus vir Petrus en Johannes en Hy sê vir hulle: “Gaan maak vir ons die Paas-ete gereed sodat ons dit kan eet.”
9Die twee dissipels het vir Jesus gevra: “Waar wil U hê moet ons die ete gaan gereedmaak?”
10Jesus het vir hulle gesê: “Wanneer julle in die stad ingaan, dan sal 'n man na julle toe kom wat water in 'n kruik dra. Gaan saam met hom in die huis waar hy ingaan. 11Dan sê julle vir die eienaar van daardie huis: Ons Meneer vra waar die kamer is waar Hy die Paas-ete saam met sy dissipels kan eet. 12Die eienaar sal vir julle 'n groot kamer op die dak van sy huis wys. Alles wat ons moet hê vir die ete, is daar. Julle moet alles daar gereedmaak vir die Paas-ete.”
13Die dissipels het gegaan, en dit was alles soos Jesus vir hulle gesê het. Hulle het alles gereedgemaak vir die Paas-ete.
Die nagmaal
(Ook Matt 26:20,23-29; Mark 14:17,22-25,20-21; Joh 13:26; 6:51-58)
14Toe dit die regte tyd was, het Jesus by die tafel gaan sit en die apostels, die dissipels, het saam met Hom gaan sit. 15Jesus het vir hulle gesê: “Ek wou baie graag hierdie Paas-ete saam met julle eet voordat Ek swaarkry. 16Ek sê vir julle Ek sal dit nooit weer eet nie totdat almal sal weet dat God Koning is en almal sal weet wat hierdie Paas-ete beteken.”
17Toe het Jesus 'n beker wyn geneem en Hy het vir God dankie gesê daarvoor. Hy het vir die apostels gesê: “Neem die beker wyn en drink almal daaruit, 18want Ek sê vir julle, Ek sal nie weer wyn drink nie totdat almal sal weet dat God Koning is.”
19Jesus het toe brood geneem en Hy het vir God dankie gesê daarvoor. Hy het die brood in stukke gebreek en vir sy apostels gegee. Hy het gesê: “Dit is my liggaam wat Ek vir julle gee. Elke maal wanneer julle die brood breek en eet, dan moet julle aan My dink.”
20Nadat hulle geëet het, het Jesus 'n beker wyn geneem. Hy het gesê: “Die wyn in hierdie beker is my bloed. My bloed wat vir julle sal vloei, is die bloed van die nuwe verbond. 21Maar kyk, die man wat My sal verraai, eet saam met My by hierdie tafel. 22Dit is waar dat Ek, die Seun van die mens, sal sterf soos God besluit het. Maar daardie man wat My verraai, sal baie swaar kry.”
23Die apostels het vir mekaar gevra wie van hulle so iets sal wil doen.
Wie is die belangrikste?
(Ook Matt 20:24-28; 19:28; Mark 10:41-45)
24Die apostels het toe met mekaar begin stry oor wie van hulle die belangrikste is. 25Maar Jesus het vir hulle gesê: “Die konings van die wêreld wil regeer oor hulle mense, en almal wat regeer, hou daarvan dat die mense sê hulle doen baie goeie dinge vir hulle mense. 26Maar julle moenie so wees nie. As iemand van julle belangrik wil wees, dan moet hy wees soos die jongste van julle, die een wat al die ander moet bedien. As iemand 'n leier wil wees, dan moet hy almal bedien. 27Want wie is die belangrikste: Die een wat by die tafel sit, of die een wat die mense by die tafel bedien? Natuurlik is dit die een wat by die tafel sit. Maar kyk na My, wat doen Ek? Ek is by julle soos iemand wat die mense by die tafel bedien. 28Julle het altyd by My gebly toe dit sleg gegaan het met My. 29Daarom sal Ek vir julle konings maak soos my Vader vir My 'n Koning gemaak het. 30Dan sal julle saam met My kan eet en drink by my tafel waar Ek Koning is. Julle sal op trone sit en julle sal die twaalf stamme van Israel oordeel.”
Petrus sal sê hy ken nie vir Jesus nie
(Ook Matt 26:33-34; Mark 14:29-30; Joh 13:37-38)
31Toe sê Jesus vir Petrus: “Simon, Simon, jy moet goed luister, die Satan wil julle toets en hy wil kyk of julle sal ophou om in My te glo, hy wil julle graag sif soos 'n mens koring sif. 32Maar Ek het gebid dat jy sal aanhou om in My te glo. En jy, wanneer jy verander het en lewe soos God wil hê, dan moet jy jou broers help.”
33Petrus het vir Jesus gesê: “Here, ek sal saam met U gaan, ook as U tronk toe moet gaan en moet sterf, dan sal ek saam met U gaan.”
34Jesus sê toe vir hom: “Petrus, jy sal drie maal sê jy ken nie vir My nie, jy sal dit sê voordat die haan vannag kraai.”
Die dissipels sal swaarkry
35Toe sê Jesus vir die dissipels: “Kan julle onthou, toe Ek julle na die mense toe gestuur het, het Ek gesê julle moenie 'n beursie of 'n rugsak of sandale saamneem nie? Het julle toe iets nodig gekry?”
Die dissipels het geantwoord: “Nee, niks.”
36Jesus het vir hulle gesê: “Maar nou is dit anders. As iemand 'n beursie het, dan moet hy dit saamneem. En as hy 'n rugsak het, dan moet hy dit saamneem. As hy nie 'n swaard het nie, dan moet hy sy bo-kleed verkoop en 'n swaard koop. 37Want Ek sê vir julle, nou sal waar word wat die profeet Jesaja gesê het. Hy het gesê: ‘ Die mense het gedink hy is een van die mense wat ongehoorsaam is aan God.’ Ja, al die dinge wat hulle oor my lewe geskryf het, sal nou gebeur.”
38Toe sê die dissipels: “Here, kyk ons het twee swaarde.”
Maar Jesus het gesê: “Nee, daaroor sal ons nie weer praat nie.”
Jesus in die tuin van Getsemane
(Ook Matt 26:36,39-41; Mark 14:32,35-38; Joh 18:1; 12:27)
39Jesus het uitgegaan na die Olyf-berg. Hy het dit elke aand gedoen vandat Hy in Jerusalem gekom het. Die dissipels het saam met Hom gegaan. 40Toe hulle by die Olyf-berg kom, het Jesus vir die dissipels gesê: “Julle moet bid dat julle sal aanhou om My te volg, ook wanneer julle swaarkry.”
41Jesus het 'n bietjie verder van die dissipels gaan staan, omtrent so ver soos 'n mens met 'n klip kan gooi. Hy het gekniel en gebid 42en gesê: “Vader, as U dit wil doen, neem asseblief hierdie swaarkry weg van My, moenie vir My hierdie beker gee om te drink nie. Maar U moenie doen wat Ek wil hê nie, U moet doen wat U wil hê.”
43Toe kom daar 'n engel uit die hemel. Hy het aan Jesus verskyn en vir Hom krag gegee. 44Daarna het Jesus baie bang geword en Hy het baie ernstig gebid. Sy sweet het soos bloeddruppels geword en dit het op die grond gedrup. 45Toe Jesus klaar gebid het, het Hy opgestaan. Hy het by die dissipels gekom en gesien hulle slaap vas. Hulle was moeg, want hulle was baie bekommerd oor Jesus. 46Jesus het vir hulle gevra: “Hoekom slaap julle? Staan op en bid dat niks sal gebeur wat julle sal laat sonde doen nie.”
Mense vang vir Jesus
(Ook Matt 26:47,49-50,52,55; Mark 14:43,45,47-49; Joh 18:2-3,5,10-11)
47Jesus was besig om te praat, toe kom daar 'n klomp mense by hulle. Judas, een van die dissipels, het voor geloop. Hy het nader gekom na Jesus toe om Hom te soen. 48Jesus vra toe vir hom: “Judas, verraai jy die Seun van die mens met 'n soen?”
49Die dissipels wat rondom Jesus gestaan het, het besef wat gaan gebeur, en hulle het vir Jesus gevra: “Here, moet ons die mense met ons swaarde aanval?”
50Een van die dissipels het toe met sy swaard na die hoëpriester se slaaf gekap. Hy het die slaaf se regter-oor afgekap. 51Maar Jesus het vir die dissipel gesê: “Hou op!” Jesus het aan die slaaf se oor geraak en Hy het die slaaf gesond gemaak. 52Toe vra Jesus vir almal wat gekom het om Hom te vang, die priesterleiers, die offisiere van die wagte wat by die tempel werk, en die familieleiers: “Hoekom het julle swaarde en stokke saamgebring? Dink julle Ek wil teen die regering veg? 53Ek was elke dag saam met julle by die tempel, en julle het My nie gevang nie. Maar nou is dit nag, die tyd wat die vyande van God kies om slegte dinge te doen, en julle kan nou doen wat julle besluit het om te doen.”
Petrus sê hy ken nie vir Jesus nie
(Ook Matt 26:57-58,69-75; Mark 14:53-54,66-72; Joh 18:13-18,25-27)
54Hulle het toe vir Jesus gevang en hulle het Hom na die huis van die hoëpriester gebring. Petrus het ook saamgegaan, maar hy het nie naby Jesus geloop nie. 55Die mense wat vir Jesus gevang het, het 'n vuur aangesteek op die oop stuk grond voor die huis, en hulle het daar gaan sit. Petrus het ook by hulle gaan sit. 56Een van die meisies wat daar werk, het vir Petrus gesien waar hy by die vuur sit. Sy het lank na hom gekyk en gesê: “Hierdie man was ook saam met Jesus.”
57Maar Petrus het gesê dit is nie waar nie. Hy het gesê: “Mevrou, ek ken Hom nie.”
58'n Bietjie later het iemand anders, 'n man wat ook daar werk, vir Petrus gesien en gesê: “Jy is ook een van Jesus se mense.”
Maar Petrus het gesê: “Man, ek is nie.”
59Ná omtrent 'n uur het 'n ander man ook gesê: “Maar ek is baie seker, hierdie man wás saam met Jesus se mense, want hy kom ook van Galilea.”
60Maar Petrus het gesê: “Man, ek weet nie van wie jy praat nie.”
En dadelik, terwyl Petrus praat, het die haan gekraai. 61Toe draai die Here om en Hy kyk na Petrus. Petrus het onthou wat Jesus vir hom gesê het: “Jy sal vandag drie maal sê jy ken My nie. Jy sal dit sê voordat die haan kraai.”
62Petrus het buitetoe gegaan en hy het hard gehuil.
Die wagte spot vir Jesus
(Ook Matt 26:67-68; Mark 14:65)
63Die wagte wat vir Jesus gevang het, het Hom gespot en geslaan. 64Hulle het sy oë toegebind en vir Hom gesê: “Wys vir ons jy is 'n profeet en sê vir ons wie het jou geslaan.”
65Hulle het Hom ook nog op baie ander maniere beledig.
Die Joodse Raad sê Jesus is skuldig
(Ook Matt 27:1; 26:63-65; Mark 15:1; 14:61-64; Joh 18:19-24)
66Toe dit dag geword het, het die Joodse Raad vergadering gehou. Hulle was die Sanhedrin, dit is die familieleiers, die priesterleiers en die skrifgeleerdes. Hulle het vir Jesus voor hulle laat staan. 67Hulle sê toe vir Jesus: “Sê vir ons reguit of jy die Christus is.”
Jesus het vir hulle gesê: “As Ek vir julle reguit sê wie Ek is, dan sal julle My nie glo nie. 68En as Ek vir julle iets vra, dan sal julle My ook nie antwoord nie. 69Maar van nou af sal Ek, die Seun van die mens, sit op die belangrikste plek langs God, God wat sterk is en wat oor almal regeer.”
70Al die Raadslede het toe vir Jesus gevra: “Maar is jy die Seun van God?”
En Jesus het geantwoord: “Julle sê self Ek is.”
71Toe sê die lede van die Raad: “Ons het nou genoeg gehoor. Ons het self gehoor wat hy sê.”

Currently Selected:

Lukas 22: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy