YouVersion Logo
Search Icon

Levitikus 15

15
Mans en vroue wat onrein word
1Die Here het vir Moses en Aäron gesê: 2“Julle moet vir die Israeliete sê: Wanneer daar iets nat kom uit 'n man se geslagsorgaan, dan maak dit hom onrein. 3Die man is onrein wanneer daar iets nat uit sy geslagsorgaan kom, wanneer dit aanhou uitloop én wanneer dit partymaal stop. 4'n Bed waarop hierdie man slaap en 'n ding waarop hy sit, word ook onrein. 5Iemand wat aan die bed raak, moet sy klere was en hy moet homself bad. Hy is onrein tot die aand. 6Iemand wat sit op iets waarop daardie man gesit het, moet sy klere was en hy moet homself bad. Hy is onrein tot die aand. 7Wanneer iemand aan daardie man raak, dan moet hy sy klere was en hy moet homself bad. Hy is onrein tot die aand. 8Wanneer daardie man op 'n rein persoon spoeg, dan moet die persoon sy klere was en hy moet homself bad. Hy is onrein tot die aand. 9As daardie man op enige iets ry, dan word dit onrein. 10Elke persoon wat raak aan iets waarop daardie man gesit het, moet sy klere was en hy moet homself bad. Hy is onrein tot die aand. 11As daardie persoon nie sy hande afgespoel het nie en hy raak aan 'n ander persoon, dan moet die ander persoon sy klere was en hy moet homself bad. Hy is onrein tot die aand. 12Julle moet 'n kleipot breek as daardie man aan die kleipot geraak het. As hy aan iets raak wat gemaak is van hout, dan moet julle dit was. 13Wanneer daardie man gesond geword het, dan moet hy sewe dae wag. Daarna moet hy sy klere was en hy moet homself bad in vars water, dan sal hy rein wees. 14Op die agste dag moet die man twee tortelduiwe of twee makduiwe neem en hy moet gaan na die ingang van die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn. Hy moet die duiwe daar voor die Here vir die priester gee. 15Die priester moet dan die duiwe offer, een duif om 'n sonde-offer te wees en een duif om 'n brand-offer te wees. So moet die priester vir die man versoening doen voor die Here.
16“As daar saad gekom het uit 'n man se geslagsorgaan, dan moet hy homself bad. Hy is onrein tot die aand. 17Hy moet die klere of vel was waarop die saad gekom het. Hy is onrein tot die aand. 18Wanneer 'n man by 'n vrou slaap en daar kom saad uit sy geslagsorgaan, dan moet hulle altwee bad. Hulle is onrein tot die aand.
19“Wanneer 'n vrou menstrueer, dan is sy sewe dae lank onrein. Elkeen wat aan haar raak, is onrein tot die aand. 20Enige iets waarop die vrou lê terwyl sy menstrueer, word onrein, en elke ding waarop sy sit, word onrein. 21-23Elkeen wat raak aan die bed of die stoel of iets waarop die vrou gesit het, moet sy klere was en hy moet homself bad. Hy is onrein tot die aand. 24Wanneer 'n man seks het met 'n vrou wat menstrueer, dan word hy ook onrein vir sewe dae, en elke bed waarop hy lê, word onrein. 25Wanneer daar bloed uit 'n vrou kom in 'n tyd wanneer sy nie menstrueer nie, of as die bloed aanhou uitkom nadat sy gemenstrueer het, dan is sy onrein so lank soos die bloed uitkom. 26Elke bed waarop sy lê en elke ding waarop sy sit, sal onrein word, soos wanneer sy menstrueer. 27Elkeen wat raak aan die bed of die ding waarop die vrou gesit het, sal onrein word, hy moet sy klere was en hy moet homself bad. Hy is onrein tot die aand. 28Wanneer daar nie meer bloed uitkom nie, dan moet die vrou sewe dae wag, daarna kan sy rein word. 29Op die agste dag moet sy twee tortelduiwe of twee makduiwe bring vir die priester by die ingang van die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn. 30Die priester moet die duiwe offer, een duif om 'n sonde-offer te wees en een duif om 'n brand-offer te wees. So moet hy versoening doen vir die vrou nadat sy onrein was. 31Julle moet keer sodat die Israeliete nie onrein word nie, en sodat hulle nie my tempel-tent wat by hulle is, onrein laat word nie. Want dan sal hulle moet sterf. 32Dit is wat moet gebeur wanneer daar saad of iets nat kom uit 'n man se geslagsorgaan en hy word dan onrein. 33Dit is wat moet gebeur wanneer 'n vrou menstrueer, wanneer daar iets nat kom uit die geslagsorgaan van 'n man of 'n vrou, en wanneer 'n man seks het met 'n vrou wat onrein is.”

Currently Selected:

Levitikus 15: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy