YouVersion Logo
Search Icon

Josua 7

7
Akan steel gewyde goed en hy sterf
1Die Israeliete was nie gehoorsaam aan die Here nie. Hulle was ontrou met die goed wat gewy was. Akan seun van Karmi seun van Sabdi seun van Serag was van die Juda-stam. Akan het van die goed gevat wat gewy was, en die Here het kwaad geword vir die Israeliete.
2Josua het mans gestuur van Jerigo na die stad Ai, naby die stad Bet-Awen, oos van die stad Bet-El. Josua het vir hulle gesê hulle moet gaan kyk hoe die plek is. Die mans het gegaan en hulle het gekyk hoe die stad Ai is. 3Hulle het teruggekom na Josua toe en vir hom gesê: “Jy moenie al die manne laat gaan nie, omtrent 2 000 of 3 000 manne is genoeg om Ai te oorwin. Daar is nie baie mense in Ai nie, jy moenie al die manne moeg maak nie.”
4Daar het toe omtrent 3 000 manne gegaan, maar die manne van Ai het hulle oorwin en hulle het weggevlug van die manne van Ai. 5Die manne van Ai het omtrent 36 Israeliete doodgemaak. Hulle het die Israeliete gevolg en gejaag van die poort van Ai tot by die klowe in die berge en hulle het die Israeliete doodgemaak toe hulle daar afgaan. Die Israeliete het moedeloos en baie bang geword. 6Josua het sy klere geskeur en hy het tot die aand voor die kis van die Here gaan lê met sy gesig teen die grond, hy en die leiers van Israel. Hulle het stof op hulle koppe gegooi. 7Josua het gebid en gevra: “Ag, Here, my Here, hoekom het U hierdie volk oor die Jordaan-rivier laat kom? Hoekom het U ons vir die Amoriete gegee sodat hulle ons almal kan doodmaak? Dit sou beter gewees het as ons anderkant die Jordaan-rivier gebly het. 8Asseblief, Here, wat kan ek nou sê? Die Israeliete het gevlug vir hulle vyande! 9Die Kanaäniete en die ander mense in die land sal hoor wat gebeur het, en hulle sal ons aanval en vang en ons doodmaak sodat niemand in die land sal onthou dat ons hier was nie. Wat sal U dan doen sodat mense kan aanhou om U te respekteer?”
10Toe sê die Here vir Josua: “Staan op, hoekom lê jy hier met jou gesig teen die grond? 11Die Israeliete het sonde gedoen, hulle het ook verkeerd gedoen teen my verbond wat Ek met hulle gemaak het. Hulle het van die gewyde goed gevat, hulle het dit gesteel en hulle het dit skelm by hulle eie goed gesit. 12Daarom kan die Israeliete nie teen hulle vyande veg nie, hulle sal weer verloor en vlug vir hulle vyande, want hulle is nou self gewy en hulle sal moet sterf. Julle moet die goed wegvat wat gewy is. As julle dit nie doen nie, dan sal Ek nie meer by julle wees nie. 13Jy moet opstaan en vir die volk sê: ‘Julle moet julleself wy vir môre, want die Here, die God van Israel, sê: “Julle het goed by julle wat gewy is, en julle sal nie teen julle vyande kan wen nie, julle moet eers die goed wegvat.” 14Julle moet môre-oggend nader kom, elke stam apart. Die Here sal 'n stam kies, en dan moet elke familie van daardie stam nader kom. Die Here sal 'n familie kies, en dan moet elke huisgesin van daardie familie nader kom. Die Here sal 'n huisgesin kies, en dan moet elke man in daardie huisgesin nader kom. 15Die Here sal wys wie is die man wat die gewyde goed gevat het, en dan moet julle hom verbrand, hom en al sy mense. Want hierdie man het verkeerd gedoen teen die verbond van die Here, hy het 'n dwase ding gedoen tussen die Israeliete.’ ”
16Josua het vroeg die oggend opgestaan en hy het die stamme van die Israeliete laat nader kom. Die Here het die Juda-stam gekies. 17Toe het hy die families van die Juda-stam laat nader kom, en die Here het die Serag-familie gekies. Uit die Serag-familie het die Here die huisgesin van Sabdi gekies. 18Toe het Josua die huisgesin van Sabdi laat nader kom, en die Here het vir Akan seun van Karmi seun van Sabdi gekies.
19Toe sê Josua vir Akan: “My seun, jy moet die Here, die God van Israel, respekteer. Jy moet Hom prys en sê dat Hy doen wat reg is. Sê asseblief vir my wat jy gedoen het, moenie dit vir my wegsteek nie.”
20Akan het geantwoord: “Ja, ek het sonde gedoen teen die Here, die God van Israel. Dit is wat ek gedoen het: 21Ek het tussen die goed wat ons gevat het, 'n mooi bo-kleed gesien uit die land Sinar, en ook 200 sikkels silwer en 'n staaf goud wat 50 sikkels weeg. Ek wou dit graag hê en ek het dit gevat. Ek het dit in my tent begrawe. Die silwer is onder al die ander goed.”
22Josua het mense gestuur en hulle het na die tent gehardloop. Daar kry hulle toe die goed wat in die tent begrawe is, die silwer was onder al die ander goed. 23Hulle het die goed uit die tent geneem en hulle het dit na Josua en al die Israeliete toe gebring. Hulle het dit daar voor die kis van die Here neergesit. 24Josua en al die Israeliete het vir Akan seun van Serag geneem en hulle het hom na die Akor-vallei gebring. Hulle het ook alles wat aan Akan behoort het, na die Akor-vallei gebring: die silwer en die bo-kleed en die goud, en Akan se kinders, sy beeste, sy donkies, sy skape en bokke. 25Josua sê toe vir Akan: “Jy het die dood oor ons gebring, baie van ons het gesterf. Vandag sal die Here die dood oor jou bring, jy sal sterf.”
Al die Israeliete het toe vir Akan en sy kinders en sy diere met klippe doodgegooi en verbrand. 26Hulle het 'n groot hoop klippe oor hulle gepak. Dit is nou nog daar. Die Here was toe nie meer kwaad nie. Die plek se naam is nou nog Akor-vallei.

Currently Selected:

Josua 7: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy