YouVersion Logo
Search Icon

Johannes 10

10
Die Goeie Herder
1Jesus het vir die Fariseërs gesê: “Ek sê vir julle, en dit is seker: 'n Dief of 'n skelm kom nie in by die hek van die skaapkraal nie. Hy kom in by 'n ander plek. 2Die skaapwagter, die herder, kom in by die hek. 3Die man by die hek maak die hek vir die wagter oop. Die skape hoor die herder se stem. Hy roep elke skaap se naam en dan bring hy hulle uit die kraal uit. 4Wanneer hy al sy eie skape uit die kraal gebring het, dan loop hy voor die skape. Die skape gaan saam met die herder, want hulle ken sy stem. 5Die skape sal nie saam met iemand gaan as hulle hom nie ken nie. Hulle sal weghardloop van hom, want hulle ken nie ander mense se stemme nie.”
6Jesus wou vir die Fariseërs iets verduidelik toe Hy oor die herder gepraat het. Maar hulle het nie verstaan wat Hy vir hulle wou sê nie.
Jesus is die Goeie Herder
7Jesus het ook gesê: “Ek sê vir julle, en dit is seker: Ek is die hek vir die skape. 8Die mense wat gekom het voordat Ek gekom het, het net ingebreek en gesteel. Maar die skape het nie na hulle geluister nie. 9Ek is die hek vir die skape. God sal die mense red wat in My glo. Hulle sal soos skape wees wat ingaan en uitgaan by 'n hek en wat gras kry om te eet. 10'n Dief kom net om die skape te steel en te slag en dood te maak. Ek is nie so nie. Ek het gekom sodat die skape kan lewe, sodat hulle regtig kan lewe. 11Ek is die Goeie Herder. Die Goeie Herder sal sterf sodat sy skape kan lewe. 12Iemand wat geld kry om die skape op te pas, sal nie doen wat die Goeie Herder doen nie. Iemand wat geld kry om die skape op te pas, is nie regtig 'n herder nie, en dit is nie sy skape nie. Wanneer hy sien 'n wolf kom, dan los hy die skape en hy hardloop weg. Dan vat die wolf die skape weg en hy jaag hulle na al die kante toe. 13Ja, iemand wat geld kry om die skape op te pas, is nie regtig bekommerd oor die skape nie.
14“Ek is die Goeie Herder. Ek ken my skape en my skape ken My, 15soos die Vader My ken en soos Ek die Vader ken. Ek sal sterf sodat my skape kan lewe. 16Ek het ook ander skape wat nie in hierdie kraal is nie. Ek moet ook voor hulle loop. Hulle sal ook na my stem luister. Al my skape sal eendag in een trop wees en Ek sal die hele trop se herder wees. 17Die Vader is lief vir My, want Ek sal sterf sodat my skape kan lewe. Ek sal sterf sodat Ek weer kan lewe. 18Dit is nie iemand anders wat besluit dat Ek moet sterf nie. Nee, Ek het self besluit dat Ek sal sterf. Ek kan self besluit dat Ek sal sterf en weer begin lewe. Dit is wat my Vader gesê het Ek moet doen.”
19Toe die Jode hoor wat Jesus alles sê, het hulle baie met mekaar gestry. 20Party Jode het gesê: “Dit is 'n duiwel wat hom so laat praat. Hy is mal, julle moenie luister na hom nie!”
21Ander Jode het gesê: “Nee, wanneer 'n duiwel iemand laat praat, dan sal hy nie praat soos Jesus praat nie. 'n Duiwel kan ook nie blinde mense laat sien nie.”
Die Jode wil Jesus nie aanvaar nie
22Dit was tyd vir die Fees van die Tempelwyding in Jerusalem. Dit was winter en 23Jesus het in die tempel geloop in die Pilaargang van Salomo. 24Party Jode het rondom Jesus kom staan. Hulle het vir Hom gesê: “Hoe lank moet ons nog wag en onseker wees? As jy die Christus is, dan moet jy dit vir ons reguit sê.”
25Jesus het vir hulle gesê: “Ek het dit klaar vir julle gesê, maar julle glo My nie. Ek doen die dinge wat my Vader gesê het Ek moet doen. Daardie dinge wys wie Ek is. 26Julle glo My nie, want julle is nie my skape nie. 27My skape luister na my stem. Ek ken my skape, en hulle volg My. 28Ek gee vir hulle die ewige lewe. Hulle sal nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle wegvat uit my hand nie. 29Die mense wat my Vader vir My gegee het, is die belangrikste van al die mense. Daarom kan niemand hulle wegvat uit die Vader se hand nie. 30Ek en die Vader doen dieselfde dinge, Ons is Een.”
31Die Jode het toe weer klippe opgetel om Jesus dood te gooi. 32Jesus het vir hulle gesê: “Die Vader het gesê Ek moet baie dinge doen, goeie dinge, en Ek het dit gedoen. Julle moet vir My sê oor watter goeie ding wil julle My doodgooi met klippe.”
33Die Jode het vir Jesus gesê: “Ons wil jou nie met klippe doodgooi omdat jy 'n goeie ding gedoen het nie. Ons wil jou doodgooi omdat jy verkeerde dinge sê teen God. Jy is 'n mens, maar jy maak of jy God is.”
34Jesus het vir hulle gesê: “In die Ou Testament is geskryf:
“ God het gesê: Julle is gode.
35“Dit beteken: Die Ou Testament sê mense met wie God praat, is gode. Ons mag dit nie verander nie. 36God het My gekies om 'n spesiale werk te doen. Hy het My na die wêreld gestuur. Hoekom sê julle Ek praat verkeerd teen God wanneer Ek sê Ek is die Seun van God? 37Die Vader het vir My gesê wat Ek moet doen. As Ek dit nie doen nie, dan moet julle nie in My glo nie. 38Maar as Ek die dinge doen wat die Vader vir My gesê het, dan moet julle glo wat Ek doen, ook as julle nie in My wil glo nie. Dan sal julle regtig weet die Vader is by My en Ek is by die Vader.”
39Toe het die Jode weer probeer om Jesus te vang, maar hulle kon nie, want Hy het weggegaan. 40Jesus het weer oor die Jordaan-rivier gegaan, na die plek waar Johannes voorheen die mense gedoop het. Jesus het daar gebly. 41Baie mense het na Jesus toe gegaan. Hulle het gesê: “Johannes het nooit 'n wonderteken gedoen nie, maar alles wat hy oor Jesus gesê het, is waar.”
42Baie mense het daar in Jesus begin glo.

Currently Selected:

Johannes 10: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy