YouVersion Logo
Search Icon

Rigters 10

10
Tola
1Ná Abimelek het Tola die Israeliete gered. Hy was die seun van Pua, seun van Dodo, van die Issaskar-stam, en hy het gewoon in die stad Samir in die Efraim-berge. 2Hy was 23 jaar lank die leier van die Israeliete. Hy het gesterf, en hulle het hom in Samir begrawe.
Jaïr
3Ná Tola was Jaïr van Gilead 22 jaar lank die leier van die Israeliete. 4Hy het 30 seuns gehad wat op 30 donkies gery het. Hulle het 30 stede gehad, en die mense noem die stede vandag nog die Jaïr-kampe. Die kampe is in die land Gilead. 5Jaïr het gesterf, en hulle het hom begrawe in die stad Kamon.
Jefta
6Die Israeliete het weer dinge gedoen waarvan die Here nie hou nie. Hulle het die Baäls en die Astartes gedien en ook die gode van die Arameërs, die Sidoniërs, die Moabiete, die Ammoniete en die Filistyne. Hulle het opgehou om die Here te dien. 7Die Here het toe kwaad geword vir die Israeliete. Hy het die Filistyne en die Ammoniete gestuur om die Israeliete te oorwin. 8Die Filistyne en Ammoniete het die Israeliete in dieselfde jaar oorwin en hulle het wrede dinge gedoen aan die Israeliete. Hulle het die Israeliete 18 jaar lank verdruk, die Israeliete wat anderkant die Jordaan-rivier gewoon het, in die land van die Amoriete, in Gilead. 9Die Ammoniete het ook oor die Jordaan-rivier gekom om oorlog te maak teen die stamme van Juda en Benjamin en Efraim. Die Israeliete het baie swaar gekry 10en hulle het gebid en gevra dat die Here hulle moet help. Hulle het gesê: “Ons het sonde gedoen teen U, ja, ons het opgehou om ons God te dien en ons het die Baäls gedien.”
11Maar die Here het vir die Israeliete gesê: “Toe die Egiptenaars of die Amoriete julle verdruk het, of die Ammoniete of die Filistyne 12of die mense van Sidon of die Amalekiete of die mense van Maon, toe het julle gevra Ek moet julle help en toe het Ek julle gered. 13Maar julle het elke maal opgehou om My te dien en julle het ander gode gedien. Daarom wil Ek julle nie weer red nie. 14Gaan bid tot die gode, julle het hulle gekies. Vra vir hulle om julle te red wanneer julle swaarkry.”
15Die Israeliete het vir die Here gesê: “Ons het sonde gedoen. U kan met ons doen wat U wil doen, maar red ons asseblief vandag.”
16Die Israeliete het toe die gode van ander volke weggegooi en die Israeliete het die Here gedien. Die Here was weer vir hulle jammer omdat hulle so swaar kry.
17Die Ammoniete het hulle manne bymekaargeroep en hulle het in Gilead hulle tente opgeslaan. Die Israeliete het ook bymekaargekom en hulle tente opgeslaan in Mispa. 18Die leiers van die Israeliete in die land Gilead het vir mekaar gesê: “Ons moet iemand kry wat sal begin om teen die Ammoniete oorlog te maak. Hy moet die hoof word van al die mense wat in Gilead woon.”

Currently Selected:

Rigters 10: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy