YouVersion Logo
Search Icon

Jesaja 57

57
Julle is opstandig teen die Here
1Die mense wat doen
wat die Here wil hê, sterf.
Dit is slegte mense
wat hulle laat sterf.
2Mense wat reg lewe,
het vrede wanneer hulle sterf
en in hulle graf lê.
3Maar julle wat dink julle weet
wat ander mense nie kan weet nie,
julle wat by ander mans
se vroue slaap,
kom hiernatoe.
4Vir wie spot julle,
vir wie steek julle tong uit?
Oor wie is julle bly
omdat dit sleg gaan met hulle?
Julle is opstandig teen die Here
en julle is vals.
5Julle dien afgode
onder die groot bome,
onder elke groen boom.
Julle slag julle kinders
en offer hulle in die berge
onder die rotse wat oorhang.
6Julle dink die gladde klippe in die valleie
sal julle gelukkig maak,
en julle bring vir hulle drank-offers
en koring-offers.
Die Here vra: “Moet Ek daarmee tevrede wees
en niks doen nie?
7Julle het vir julle beddens gemaak
op die hoë berge
en julle het daarnatoe opgeklim
om offers te bring.
8Julle het beelde
agter die deure in julle huise gesit.
Julle het weggegaan van My
en julle het ander gode gedien.
Julle is soos 'n slegte vrou
wat haar klere uittrek
en by 'n ander man in die bed klim,
en dit is vir haar lekker
om na sy kaal liggaam te kyk.
9Julle het baie olyf-olie en wierook geneem
en julle het die afgod Molek gaan dien.
Julle het boodskappers gestuur
om nog gode te soek in ver plekke,
ook in die doderyk.
10Julle het so baie gesoek
dat julle moeg geword het,
maar julle het nie opgehou nie.
Julle was altyd lus vir nog afgode,
daarom het julle aangehou.
11Vir wie was julle bang?
Hoekom het julle aangehou
om vir My te lieg?
Hoekom dink julle nie meer aan My nie?
Hoekom is julle nie bang vir My nie?
Is dit omdat Ek so lank stilgebly het?
12Julle dink julle het reg gedoen,
maar Ek sal nou praat
oor wat julle gedoen het,
en julle gode sal julle nie kan help nie.
13Dit is julle klomp gode
wat julle moet red
wanneer dit sleg gaan met julle,
maar hulle almal beteken niks,
'n sagte windjie waai hulle weg.
Die mense wat wil hê
Ek moet hulle beskerm,
sal die land kry,
en hulle sal op my gewyde berg kom woon.”
Ek sal hulle gesond maak
14Die Here sê:
“Julle moet 'n pad bou,
julle moet 'n pad bou,
julle moet 'n pad maak vir my volk,
en julle moet alles wegvat
wat in hulle pad is wat hulle keer.”
15Ja, die Here praat.
Hy woon hoog in die hemel
en Hy lewe vir altyd.
Sy Naam is Heilige God, en Hy sê:
“Ek woon in die hoë hemel,
in die heilige hemel,
maar Ek is ook by die mense
wat nederig is,
by mense wat weet
hulle is onbelangrik en niks.
Ek gee vir hulle nuwe lewe.
16Ja, Ek sal nie aanhou
om hulle te straf nie,
Ek sal nie altyd kwaad bly nie,
want as Ek kwaad bly,
sal hulle nie kan aanhou lewe nie.
Die asem wat Ek vir hulle gegee het,
sal verdwyn.
17Ek was kwaad
omdat hulle nooit tevrede was
met die dinge wat hulle het nie.
Daarom het Ek hulle geslaan
en Ek wou hulle nie sien nie.
Hulle was opstandig,
hulle het gelewe
soos hulle self besluit het.
18Ek het gesien
hoe dit met hulle gaan,
maar Ek sal hulle gesond maak.
Ek sal hulle lei
en dit sal weer goed gaan
met hulle.
Hulle huil en treur nou,
19maar Ek sal hulle laat sing.
Dit sal weer goed gaan
met hulle,
oral waar hulle is, ver of naby.
Ek sal hulle gesond maak.”
Dit sê die Here.
20“Maar mense wat aanhou
om verkeerd te doen,
is soos die see
wanneer daar 'n storm is.
Dan is die water vuil en vol modder.
21Dit sal nie goed gaan
met mense wat aanhou
om verkeerd te doen nie.”
Dit sê my God.

Currently Selected:

Jesaja 57: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy