YouVersion Logo
Search Icon

Jesaja 51

51
Ek sal dit weer goed laat gaan met Sion
1Die Here sê:
“Julle wat wil reg doen,
julle moet luister na My.
Julle wat My wil dien,
julle moet onthou
van waar julle kom.
2Julle moet dink
aan julle voorvader Abraham
en aan Sara, julle is uit haar gebore.
Abraham was alleen
toe Ek hom geroep het,
en Ek het hom geseën,
Ek het vir hom 'n groot nageslag gegee.
3Regtig, Ek sal dit weer goed laat gaan met Sion.
Die stad is nou net hope klippe,
maar Ek sal dit weer daar goed laat gaan.
Dit lyk nou soos 'n woestyn,
maar Ek sal dit laat word soos die tuin in Eden.
Dit lyk nou soos 'n droë stuk grond,
maar dit sal word soos die tuin van die Here.
Die mense in die stad sal vrolik en bly wees.
Hulle sal sing en hulle sal vir My dankie sê.”
Dit is nou die tyd wanneer Ek julle wil red
4“My volk, julle moet luister na My.
Al die mense wat aan My behoort,
julle moet hoor wat Ek sê.
Ek wil vir julle leer wat julle moet doen
en Ek wil hê al die volke
moet weet dat Ek reg besluit.
Dit moet vir hulle die lig wees.
5Dit is nou die tyd
wanneer Ek wil doen wat reg is,
Ek wil julle nou red.
Ek regeer oor al die volke.
Die mense in die lande langs die see
wag ook dat Ek oor hulle moet regeer.
6Kyk na die lug daarbo
en na die aarde hier onder.
Die lug sal verdwyn soos rook,
die aarde sal word soos ou klere,
en die mense op die aarde
sal sterf soos muggies.
Maar Ek sal julle red,
julle sal altyd Myne wees.
Ek sal nooit ophou om reg te doen nie.
7“My volk, julle weet wat reg is,
julle weet wat Ek wil hê,
julle moet luister na My.
Julle moenie bang wees
wanneer mense julle spot nie,
julle moenie skrik
wanneer mense sleg praat van julle nie.
8Dit sal met hulle gaan
soos met ou klere en wol
wanneer motte dit vreet.
Maar Ek sal altyd reg doen,
en Ek sal mense red,
die mense van elke geslag.”
Die Israeliete sal nou terugkom
9Here, U moet wakker word,
U moet wakker word.
U moet weer sterk wees.
U moet wakker word soos in die tyd
toe alles begin het,
lank, lank gelede.
Dit is U wat vir Rahab stukkend gekap het,
dit is U wat vir Tannin doodgesteek het.
10Dit is U wat die see droog gemaak het,
die water van die groot see.
Dit is U wat deur die diep see
'n pad gemaak het
sodat die Israeliete daar kon deurgaan
toe U hulle vrygemaak het.
11So sal die Israeliete nou terugkom
wanneer U hulle vrymaak.
Hulle sal juig en aanhou om bly te wees
wanneer hulle in Sion kom.
Hulle sal vrolik wees en lag,
hulle sal nie meer bekommerd wees
en nie meer sug nie.
Ek het vir die mense van Sion gesê: Julle is my volk
12Die Here sê:
“Dit is Ek wat dit weer
goed sal laat gaan met julle.
Hoekom is julle bang vir mense
wat kan sterf?
Hoekom is julle bang vir mense
wat soos gras is en gou doodgaan?
13Julle het My vergeet,
Ek is die Here wat julle gemaak het.
Ek het die hemeldak gemaak
en Ek het die aarde op sy plek gesit.
Nou hou julle aan om te bewe
vir die mense wat kwaad is vir julle,
die mense wat vir julle verdruk en wat vir julle wil doodmaak.
Maar waar is daardie mense nou,
die mense wat kwaad was en wat vir julle verdruk het?
Hulle verdruk julle nie meer nie.
14Wanneer iemand 'n gevangene is,
dan is hy haastig om vry te word.
Hy wil nie sterf en afgaan na die doderyk nie,
hy wil nie altyd honger wees nie.
15Ek is julle God die Here wat die water in die see roer
sodat die branders wild word.
My Naam is die Here wat oor alles regeer.
16Ek het my woorde in jou mond gesit
en Ek het jou toegemaak in die skaduwee van my hand.
Ek het die hemeldak gemaak
en Ek het die aarde op sy plek gesit.
Ek het vir die mense van Sion gesê:
Julle is my volk.”
Ek vat die beker uit jou hand
17Jerusalem, jy moet wakker word,
jy moet wakker word en opstaan.
Die Here was kwaad vir jou.
Hy het jou laat drink uit die beker,
die beker van swaarkry
wat jou dronk gemaak het.
Jy moes die beker leegdrink.
18Die Here sê:
“Jerusalem, jy was soos 'n vrou
wat baie kinders gekry het,
maar nie een kind het later
haar hand geneem en haar gelei nie.
19Twee dinge het met jou gebeur,
en niemand was jammer vir jou nie.
Die vyande het jou seergemaak
en stukkend geslaan.
Die vyande het jou mense laat honger word
en het hulle doodgemaak.
Wat moet Ek doen sodat dit weer
goed kan gaan met jou?
20Jou seuns het flou geval.
Hulle het gelê waar die strate
teen die stad se mure kom,
soos wildsbokke wat in 'n vangnet gevang is.
Dit het gebeur omdat die Here kwaad was,
omdat jou God jou wou laat swaarkry.
21Jy kan jouself nie help nie,
daarom moet jy luister.
Jy is dronk, maar nie van wyn nie.
22Jou Here, jou God die Here, praat.
Hy sal sy volk help.
Hy sê: Kyk, Ek neem die beker uit jou hand,
die beker wat jou dronk gemaak het
omdat Ek kwaad was vir jou.
Jy moenie dit drink nie, jy mag dit los.
23Maar Ek gee die beker vir die mense
wat jou laat swaarkry het,
die mense wat vir jou gesê het:
‘Gaan lê, ons wil oor jou loop.’
Jy moes word soos die grond,
soos die strate waar die mense loop.”

Currently Selected:

Jesaja 51: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy