YouVersion Logo
Search Icon

Jesaja 29

29
Dit sal sleg gaan met Jerusalem
1Die Here sê:
Dit sal sleg gaan met Jerusalem,
die stad waar Ek wil vuurmaak,
die stad waar Dawid sy tente
opgeslaan het.
Die jare kom
en die jare gaan verby,
en die mense in die stad
hou aan om fees te vier.
2Maar Ek sal die stad laat swaarkry,
en die mense sal huil en treur.
Die stad sal vir My die plek wees
waar Ek vuurmaak.
3Ek sal die tente van my soldate
opslaan rondom die stad,
en Ek sal torings bou
en groot hope grond teen die stad
se mure gooi
sodat die soldate oor die muur
in die stad kan kom.
4Die vyande sal die stad verwoes.
Die mense in die stad sal sterf.
Hulle sal sag uit die grond praat
soos 'n spook wat fluister.
5Die wrede mense wat ander mense
verdruk het in die stad,
sal soos fyn stof word,
soos kaf wat wegwaai.
Dit sal skielik gebeur,
so vinnig soos 'n mens sy oog knip.
6Dit is die Here wat dit sal doen,
die Here wat oor alles regeer.
Hy sal die mense in die stad straf.
Daar sal donderweer wees
en aardbewings.
Dit sal raas.
Daar sal storms en donderweer wees,
en daar sal baie vure wees.
7Die mense in die stad
sal dink hulle droom
wanneer die baie volke Jerusalem aanval,
wanneer hulle van al die kante
die sterk mure van die stad aanval.
8Maar dit sal sleg gaan
met hierdie baie volke
wat die Sionsberg aanval.
Dit sal met hulle gaan soos met 'n man
wat honger en dors is:
Hy droom dat hy eet,
maar wanneer hy wakker word,
dan is hy nog honger.
Hy droom dat hy water drink,
maar wanneer hy wakker word,
dan is hy nog dors en swak.
Julle kan nie verstaan wat die Here vir julle sê nie
9Leiers van Jerusalem,
julle weet nie wat om te sê nie,
julle is stom.
Julle weet nie wat julle sien nie,
julle is blind.
Julle het nie wyn of bier gedrink nie
maar julle is dronk
en julle loop val-val.
10Julle is so,
want die Here het julle gemaak
soos mense wat slaap.
Hy het julle oë en julle koppe toegemaak.
Julle oë was die profete
en julle koppe was die sieners.
11Nou kan julle nie verstaan
wat die Here vir julle sê nie.
Dit is soos 'n boek
wat toegemaak en verseël is.
Jy gee dit vir iemand wat kan lees,
en jy sê vir hom:
“Lees asseblief wat in die boek
geskryf is,”
en hy sê: “Ek kan dit nie lees nie,
want die boek is verseël.”
12Of jy gee die boek vir iemand
wat nie kan lees nie,
en jy sê vir hom:
“Lees asseblief,”
en hy sê: “Ek kan nie lees nie.”
Die slim mense sal nie verstaan nie
13Die Here het gesê:
“Hierdie volk kom dien My
met hulle mond, met hulle woorde.
Hulle eer My met die woorde
wat hulle sê,
maar hulle hart is ver van My.
Daarom probeer hulle My dien
met wette wat mense gemaak het,
dit is nie Ek wat daardie wette gemaak het nie.
14Dit is hoekom Ek nou
met hierdie volk iets sal doen
wat hulle sal skok.
Hulle sal nie weet wat gebeur nie.
Die slim mense wat dink
hulle weet alles,
sal nie verstaan nie.”
Julle dink verkeerd
15Dit sal sleg gaan met mense
wat dink hulle kan hulle planne
wegsteek sodat die Here dit nie uitvind nie.
Dit sal sleg gaan met mense
wat dinge in die donker doen
en wat dink die Here sien hulle nie,
hulle dink die Here weet nie wat hulle doen nie.
16Julle dink verkeerd!
Julle dink die pottebakker is die klei.
Die kleipot kan nie vir die pottebakker sê:
“Jy het my nie gemaak nie,
en jy verstaan my nie.”
Alles sal verander oor 'n kort tydjie
17Dit sal nie lank wees nie,
dan sal alles verander:
Die bome in die Libanon-bos
sal vrugtebome word
en op die Karmel-berg
sal 'n bos bome groei.
18Daar is mense wat nou doof is,
maar daardie dag sal hulle die woorde hoor
wat geskryf is in die boek
wat verseël was,
en die blindes sal kan sien,
hulle sal nie meer
in die donker wees nie.
19Die arm mense wat nou swaarkry,
sal dan weer bly wees
omdat die Here by hulle is,
die Heilige God van Israel.
20Want daar sal nie meer
wrede mense wees wat spot
en wat aanhou verkeerd doen nie.
Hulle sal sterf.
21Dit is die mense wat sê iemand
wat niks verkeerd gedoen het nie,
het verkeerd gedoen.
Hulle keer wanneer iemand
die mense wil straf
wat verkeerd doen,
hulle wil mense straf wat reg lewe.
22Daarom praat die Here
met die nageslag van Jakob.
Die Here wat vir Abraham gered het, sê:
“Die volk Israel sal nie meer skaam wees nie,
hulle sal weet wat om te doen.
23Ja, wanneer hulle sien
hoe baie hulle geword het,
dan sal hulle my heilige Naam eer.
Hulle sal My eer en dien.
Ek is die heilige God,
die God van Israel.
24Party mense se koppe is nou deurmekaar,
maar hulle almal sal dan verstaan,
almal wat nou ontevrede is en kla,
sal dan graag wil leer.”

Currently Selected:

Jesaja 29: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy