YouVersion Logo
Search Icon

Genesis 17

17
Die verbond en die besnydenis
1Abram was 99 jaar oud toe die Here aan hom verskyn het. Die Here het vir hom gesê:
“Ek is God die Almagtige. Jy moet My dien en reg lewe. 2Dan sal Ek 'n verbond maak met jou. Ek sal vir jou 'n baie groot nageslag gee.”
3Abram het met sy gesig teen die grond gaan lê, en die Here het vir hom gesê: 4“Ek maak hierdie verbond met jou: Jy sal die voorvader wees van baie volke, 5en jou naam sal nie meer Abram wees nie. Jou naam sal nou Abraham wees, want Ek sal jou die voorvader van baie volke maak. 6Jy sal 'n baie groot nageslag hê. Jy sal die voorvader wees van baie volke en konings. 7Ek maak 'n verbond tussen My en jou en jou nageslag en hulle nageslagte. Dit is 'n verbond wat altyd sal aanhou. Ek sal jou God wees en ook jou nageslag se God. 8En Ek sal vir jou en vir jou nageslag hierdie land gee waarin jy nou 'n vreemdeling is, die hele land Kanaän. Die land sal altyd aan julle behoort, en Ek sal julle God wees.”
9God het vir Abraham gesê: “Maar jy moet my verbond hou, jy en jou nageslag en hulle nageslagte. 10Hier is die verbond wat jy en jou nageslag moet hou: Julle moet elke man en seun besny. 11Dit sal die bewys wees van die verbond tussen My en julle. 12As 'n seun ag dae oud is, dan moet julle hom besny. Julle moet dit doen met elke seun in julle huis, en met elke slaaf wat in julle huis gebore word. Julle moet dit ook doen met elke slaaf wat julle koop, elke slaaf wat nie julle nageslag is nie. 13Elke seun in julle huis en ook elke slaaf wat julle gekoop het, moet besny word, sodat daar altyd aan julle liggame 'n bewys van my verbond kan wees.
14“Julle moet elke man wat nie besny is nie, van hierdie volk afsny. Hy het nie my verbond gehou nie, hy het dit gebreek.”
15God het ook vir Abraham gesê: “Jy moet jou vrou nie meer Sarai noem nie, haar naam moet nou Sara wees. 16Ek sal haar seën en sy sal vir jou 'n seun kry. Ja, Ek sal haar seën, en uit haar nageslag sal volke en konings kom.”
17Abraham het met sy gesig teen die grond gaan lê. Hy het gelag en gedink: Kan 'n man wat 100 jaar oud is, pa word van 'n kind? Kan Sara wat 90 jaar oud is, 'n kind kry?
18Abraham sê toe vir God: “Ek bid dat U vir Ismael sal laat lewe.”
19Maar God sê: “Nee, jou vrou Sara sal vir jou 'n kind kry, en jy moet hom Isak noem. Ek sal ook met hóm 'n verbond maak, en die verbond sal altyd aanhou, ook met sy nageslag. 20Ek het gehoor wat jy oor Ismael vra. Ek sal hom seën en hy sal baie kinders hê. Hy sal die voorvader van twaalf leiers wees, en sy nageslag sal 'n groot volk word.
21“Maar Ek maak my verbond met Isak, die seun wat Sara oor 'n jaar vir jou sal kry.”
22Nadat God klaar met Abraham gepraat het, het Hy weggegaan. 23Abraham het toe sy seun Ismael geneem en al die slawe wat in sy huis gebore is, en hy het hulle besny. Hy het ook al die slawe wat hy gekoop het, almal wat manlik is in sy huis, besny, presies soos God vir hom gesê het. 24Abraham was 99 jaar oud toe hy besny is. 25Sy seun Ismael was 13 jaar oud toe hy besny is. 26Abraham en sy seun Ismael is op dieselfde dag besny. 27Al die mans in sy huis is saam met hom besny, die slawe wat in sy huis gebore is en die slawe wat hy gekoop het.

Currently Selected:

Genesis 17: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy