YouVersion Logo
Search Icon

Galasiërs 3

3
Die wette kan 'n mens nie red nie
1Julle in Galasië moenie so dom wees nie! Ek het vir julle gepreek en so goed verduidelik dat Jesus Christus gekruisig is. Maar dit lyk vir my iemand het julle getoor en julle koppe deurmekaar gemaak. 2Daar is een baie belangrike ding wat julle moet onthou: God het vir julle die Heilige Gees gegee. Hoekom? Nie omdat julle doen wat die wette sê nie, maar omdat julle die goeie boodskap gehoor en geglo het. 3Julle moenie so dom wees nie! Toe julle begin glo het, het die Heilige Gees in julle begin werk, maar nou wil julle die werk met julle eie krag klaarmaak. 4Daar het so baie dinge met julle gebeur, en nou lyk dit of dit alles niks gehelp het nie. Ek hoop nie so nie! 5God gee vir julle die Heilige Gees en God doen wonderwerke in julle gemeentes. Hoekom doen Hy dit? Hy doen dit omdat julle die goeie boodskap gehoor het en dit glo, nie omdat julle doen wat die wette sê nie.
Christene moet doen soos Abraham
6Dit het ook met Abraham gebeur:
Hy het God geglo
en God het hom vrygespreek
van sy sonde.
7Daarom moet julle dit weet: Die kinders van Abraham is die mense wat in Christus glo.
8Die Ou Testament het lank gelede gesê dat God die heidene sal vryspreek van hulle sonde omdat hulle glo. Daarom het God hierdie goeie boodskap vir Abraham gegee:
Ek seën jou,
en daarom sal Ek
ook al die heidene seën.
9Daarom moet julle dit weet: God het vir Abraham geseën en God seën almal wat glo soos Abraham glo.
10Daar is mense wat dink God spreek hulle vry omdat hulle doen wat die wette sê, maar God vervloek hulle. Want in die Ou Testament is geskryf:
God vervloek elkeen
wat nie alles doen
wat in die wette geskryf is nie.
11Ja, dit is waar. God spreek nie mense vry omdat hulle doen wat die wette sê nie. As mense doen wat die wette sê, dan spreek God hulle nie vry nie. Want in die Ou Testament is geskryf:
Wanneer God mense vryspreek
omdat hulle glo,
dan sal hulle lewe.
12Die wette vra nie dat mense moet glo nie, die wette vra dat die mense moet doen wat die wette sê. Want in die Ou Testament is geskryf:
Elkeen wat doen
wat die wette sê,
sal lewe omdat hy
dit gedoen het.
13Ja, God vervloek almal wat nie doen wat die wette sê nie. Maar God het ons nie vervloek nie, Hy het Christus vervloek in ons plek. Want in die Ou Testament is geskryf:
God vervloek elkeen
wat aan 'n houtpaal hang.
En so het Christus ons vrygemaak. 14Daarom kon die heidene God se seën kry, die seën wat Hy vir Abraham belowe het en wat Hy nou vir hulle gee omdat hulle aan Christus Jesus behoort. Daarom kon ons wat glo, die Heilige Gees kry, die Gees wat God vir ons belowe het.
'n Testament is 'n voorbeeld van die verbond
15Vriende, ek gaan nou 'n voorbeeld gebruik om te verduidelik wat ek sê: Wanneer 'n mens 'n testament gemaak het, dan kan iemand anders dit nie verander of sê dit beteken niks nie. 16Dit is dieselfde met die verbond. In die Ou Testament is geskryf dat God 'n belofte gemaak het aan Abraham en aan sy nageslag. Daar is nie geskryf “baie nageslagte” nie, maar “een nageslag,” en dit is Christus. 17God het eers sy verbond gemaak met sy volk en 430 jaar later het Hy die wette gegee. Nou sê ek: Die wette het baie later gekom, daarom kan die wette nie God se verbond verander en God se belofte breek nie. 18As ons eers moet doen wat die wette sê sodat ons dit kan kry wat God vir ons wil gee, dan kry ons dit omdat ons doen wat die wette sê, nie omdat God dit belowe het nie. Maar ons weet God het dit vir Abraham gegee omdat God goed was vir Abraham en omdat God dit belowe het.
Hoekom het God die wette gegee?
19Hoekom het God die wette gegee? Hy het dit gegee omdat mense sonde doen. Maar die wette was net belangrik totdat Christus gekom het. Christus is die nageslag van Abraham, en dit wat God vir Abraham belowe het, het Hy vir Christus belowe. Engele het die wette vir Moses gegee, en Moses het die wette vir die mense gegee. 20God het die wette vir Moses gegee en Moses het die wette vir die mense gegee. Dit beteken: Die wette het nie reguit van God gekom nie. Maar ons weet: God is een.
Die wette het die mense opgepas
21Is die wette en God se beloftes dan vyande van mekaar? Nee, glad nie. Maar die wette kan nie vir mense die ware lewe gee nie, daarom sal God hulle nie vryspreek wanneer hulle doen wat die wette sê nie. 22Die Ou Testament sê almal is sondaars, maar nou gee God die dinge wat Hy belowe het vir die mense wat in Jesus Christus glo.
23Die wette was vir ons soos 'n wag. Dit het ons toegesluit en opgepas totdat God gesê het dit is nou die regte tyd vir mense om in Christus te glo. 24Die wette het ons opgepas soos 'n mens 'n kind oppas wat nie vir homself kan sorg nie. Die wette het ons opgepas totdat Christus gekom het. Toe het ons in Hom geglo, en God het ons vrygespreek van ons sondes. 25Nou glo ons in Christus en daarom is dit nie nodig dat die wette ons moet oppas nie.
Kinders van God
26Julle almal is kinders van God, want julle glo in Christus Jesus. 27Julle is gedoop en julle is nou by Christus. Christus is nou so naby julle soos die klere wat julle aantrek. 28Party van julle is Jode en party is Grieke, party van julle is slawe en party is nie slawe nie, party van julle is mans en party is vroue. Maar dit alles maak nie meer saak nie, want julle behoort almal saam aan Christus Jesus, julle is een. 29En as julle aan Christus behoort, dan is julle die kinders van Abraham en dan kry julle wat God belowe het. Ja, julle kry dit omdat God dit belowe het.

Currently Selected:

Galasiërs 3: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy