YouVersion Logo
Search Icon

Esegiël 47

47
Die rivier wat alles sal laat lewe
1Die man het my teruggebring na die deur van die tempel, en daar kom toe water uit onder die tempel se drumpel! Die water het oos gevloei, want die tempel se voorkant was by die oostekant. Die water het regs van die tempel weggevloei, suid van die altaar. 2Toe bring die man my deur die buitenste noord-poort en hy laat my buite-om loop na die buitenste oos-poort. En daar, regs van die poort, het 'n klein bietjie water gevloei. 3Die man het na die oostekant geloop. Hy het 'n maatlyn in sy hand gehad en hy het 1 000 el gemeet. Toe het hy my deur die water laat loop. Die water het tot by my enkels gekom. 4Toe meet die man nog 1 000 el en hy laat my deur die water loop. Die water het tot by my knieë gekom. Toe meet hy nog 1 000 el en hy laat my deur die water loop. Die water het tot by my heupe gekom. 5Toe meet hy nog 1 000 el, en toe was dit 'n rivier, ek kon nie daardeur gaan nie. Die water was so diep dat ek sou moes swem. Dit was 'n rivier, 'n mens kon nie daardeur loop nie. 6Die man sê toe vir my: “Mens, het jy dit gesien?”
Hy het my op die wal van die rivier laat terugloop. 7Terwyl ek terugloop, het ek gesien daar is baie groot bome op die wal van die rivier, langs altwee kante. 8Die man het vir my gesê: “Hierdie water vloei na die oostekant van die land, dit vloei af na die Jordaan-vallei en dit sal in die Dooie See vloei. Die Dooie See se water vloei nie weer uit nie. Die rivier se water sal die Dooie See se water vars laat word, dit sal nie sout wees nie. 9Oral waar die rivier vloei, sal daar baie diere wees, al die soorte diere en baie visse. Wanneer hierdie water in die see kom, dan sal die see se water vars word. Waar die rivier se water kom, daar sal alles lewe. 10Vissermanne sal langs die see staan van En-Gedi tot by En-Eglajim. Dit sal 'n plek wees waar hulle die visnette droogmaak. Daar sal so baie verskillende soorte visse wees soos in die Middellandse See, en daar sal báie visse wees. 11Maar die water in die vleie en die watergate langs die see sal nie vars word nie. Daardie water moet sout bly. 12Op die walle langs altwee kante van die rivier sal al die verskillende soorte vrugtebome groei. Hulle blare sal nie droog word en verlep nie en daar sal altyd vrugte aan die bome wees. Die bome sal elke maand nuwe vrugte dra, want hulle staan by water wat van die tempel kom. Die mense sal die vrugte eet en hulle sal die blare gebruik, dit sal medisyne wees vir hulle.”
Die grense van die land
13Die Here, Hy wat Here is, sê: “Hier is die grense van die land wat julle tussen die twaalf stamme van Israel moet verdeel. Die Josef-stam moet twee dele kry. 14Elke ander stam moet een deel kry. Ek het belowe dat Ek die land vir julle voorvaders sal gee. Daarom moet julle die grond in hierdie land kry. 15Hier is die grense van die land: By die noordekant begin die grens by die Middellandse See en dan gaan dit verby die stad Getlon tot by die stad Sedad, 16en dan verder na die stede Hamat, Berota en Sibrajim, wat op die grens tussen die land Damaskus en die land Hamat is, en dan na die stad Middel-Gaser op die grens van die land Gauran. 17Hierdie grens is van die Middellandse See tot by die stad Gasar-Enan op die grens van die land Damaskus, en by die noordekant is die grens van die land Hamat. Dit is die noordgrens. 18By die oostekant begin die grens tussen die land Gauran en die land Damaskus, en dit gaan langs die Jordaan-rivier tussen die land Gilead en die land Israel. Julle moet die grens meet van die kant van die Dooie See. Dit is die oosgrens. 19By die suidekant begin die grens suid van die stad Tamar en dit gaan tot by die stad Waters-van-Meribot-Kades, en dan langs die rivier na die Middellandse See. Dit is die suidgrens. 20By die westekant is die Middellandse See die grens, van die suidgrens tot oorkant die stad Lebo-Hamat. Dit is die wesgrens.”
Vreemdelinge moet ook grond kry
21“Julle moet hierdie land verdeel vir die stamme van Israel. 22En wanneer julle lootjies trek om te sien wie grond moet kry, dan moet dit wees vir julleself en vir die vreemdelinge wat lank tussen julle woon en wat in julle land kinders gekry het. Daardie vreemdelinge moet vir julle soos regte Israeliete wees. Hulle moet saam met julle grond kry tussen die stamme van Israel. 23Julle moet vir 'n vreemdeling grond gee by die stam waar hy woon.”
Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.

Currently Selected:

Esegiël 47: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy