YouVersion Logo
Search Icon

Esegiël 32

32
'n Klaaglied oor die farao
1Die Here het met my gepraat. Dit was die twaalfde jaar, in die twaalfde maand, op die eerste dag van die maand. Ek het gehoor die Here sê vir my: 2“Mens, jy moet 'n klaaglied sing oor die farao, die koning van Egipte. Jy moet vir hom sê:
“Jy het gedink jy is 'n leeu tussen die volke,
maar Ek het jou stilgemaak.
Jy was soos die watermonster,
jy het in jou waterstrome rondgetrap,
jy het die water vuil en vol modder
gemaak met jou pote,
jy het die waterstrome vuil gemaak.”
3Die Here, Hy wat Here is, sê: “Ek sal my vangnet oor jou gooi en Ek sal baie volke bymekaar laat kom. Hulle sal jou vang en optrek in my vangnet 4en Ek sal jou uitgooi op die grond. Ek sal jou in die oop veld gooi en Ek sal sê al die voëls moet op jou kom sit. Ek sal vir al die diere van die aarde sê hulle moet jou eet totdat hulle vol is. 5Ek sal jou vleis op die berge neersit en Ek sal die valleie volmaak met die stukke wat oorgebly het van jou. 6Jou bloed sal op die berge uitvloei, en Ek sal die aarde nat laat word met jou bloed, die waterslote sal vol bloed word. 7Wanneer Ek jou laat sterf, dan sal Ek die lug toemaak en Ek sal die sterre donker laat word. Ek sal die son met 'n wolk toemaak, en die maan sal nie meer sy lig laat skyn nie. 8Ek sal al die sterre donker laat word, die sterre wat in die lug skyn, en Ek sal dit donker maak in jou land.”
Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.
9“Ek sal baie volke hartseer en ontsteld maak wanneer Ek jou by die volke stukkend breek in lande wat jy nie ken nie. 10Ek sal baie volke groot laat skrik oor wat met jou gebeur. Hulle konings sal bewe oor jou wanneer Ek my swaard voor hulle swaai. Hulle almal sal aanhou bewe op die dag wanneer jy sterf.”
11Ja, die Here, Hy wat Here is, sê: “Die swaard van die koning van Babel sal na jou toe kom. 12Ek sal jou baie soldate laat doodmaak. Ek sal manne stuur wat goed oorlog kan maak. Hulle almal is wrede mense, hulle sal alles verwoes waarop Egipte trots is, hulle sal al Egipte se soldate doodmaak. 13Ek sal al die diere van Egipte laat verdwyn, die diere by die baie water. 'n Mens se voet of 'n dier se poot sal nie weer die water vuil maak nie. 14Dan sal Ek die water weer stil laat word, die riviere sal soos strome olyf-olie vloei. 15Ek sal Egipte 'n land maak waar niemand kan woon nie en Ek sal alles wegvat wat in die land is. Ek sal almal laat sterf wat in die land woon, dan sal hulle weet dat Ek die Here is. 16Hierdie lied is 'n klaaglied. Die vroue van die volke moet dit sing. Hulle moet 'n klaaglied sing oor die farao en al sy soldate.”
Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.
17Die Here het met my gepraat. Dit was in die twaalfde jaar, op die vyftiende dag van die maand. Ek het gehoor die Here sê vir my: 18“Mens, jy moet huil en treur, jy moet sing oor die soldate van Egipte wat sal sterf. Jy moet hulle en die vroue van belangrike volke laat gaan na die land daar onder, saam met die mense wat afgaan in die graf. 19Jy moet vir Egipte sê: ‘Jy is nie beter as die ander lande nie, jy moet afgaan en by die mense daar onder gaan lê, niemand respekteer daardie mense nie.’ 20Egipte en al sy soldate sal val tussen die mense wat in oorlog gesterf het. Ek het hulle vir die swaard gegee. Die vyande sal hulle wegsleep. 21Die belangrike manne wat oorlog gemaak het, sal uit die doderyk praat, hulle sal oor Egipte en oor almal wat vir Egipte gehelp het, sê: ‘Hulle gaan af, hulle gaan lê by die mense wat dood is. Daardie mense het in oorlog gesterf, niemand respekteer hulle nou nie.’
22“Assirië en al sy soldate is daar. Hulle grafte is rondom hom. Hulle het almal in oorlog gesterf. 23Die grafte van Assirië is in die verste plekke van die doderyk. Sy mense lê rondom hom in hulle grafte. Toe hulle gelewe het, was almal bang vir hulle, maar hulle het almal in oorlog gesterf.
24“Elam en al sy soldate is daar. Hulle grafte is rondom hom. Hulle het almal in oorlog gesterf. Niemand respekteer hulle nou nie. Hulle moes afgaan na die land daar onder. Toe hulle gelewe het, was almal bang vir hulle, maar nou is hulle nie meer belangrik nie, hulle is by die mense wat in die graf afgaan. 25Elam moet gaan lê tussen die mense wat in oorlog gesterf het. Al sy soldate se grafte is rondom hom. Niemand respekteer hulle nou nie. Toe hulle gelewe het, was almal bang vir hulle, maar hulle het in oorlog gesterf en hulle is nie meer belangrik nie, hulle is by die mense wat afgaan in die graf, hulle is tussen die dooie mense.
26“Mesek-Tubal en al sy soldate is ook daar. Hulle grafte is rondom hom. Niemand respekteer hulle nou nie. Toe hulle gelewe het, was almal bang vir hulle, maar die vyande het hulle doodgemaak. 27Mesek-Tubal en al sy soldate lê nie saam met die dapper soldate wat gesterf het en wat apart lê nie. Die dapper soldate lê nie by die mense vir wie niemand respekteer nie. Die dapper soldate het afgegaan na die doderyk, hulle wapens is by hulle. Hulle swaarde lê onder hulle koppe en hulle skilde lê oor hulle bene. Toe hulle gelewe het, was almal bang vir hulle.
28“Egipte, jy sal ook stukkend breek, en jy sal moet gaan lê saam met die ander wat in oorlog gesterf het.
29“Edom en sy konings en die ander mense wat oor hom regeer het, is ook daar. Hulle was sterk, maar hulle het in oorlog gesterf. Hulle lê by die dooie mense, niemand respekteer daardie mense nou nie, hulle is by die mense wat afgaan in die graf.
30“Al die leiers van die noorde is daar, en al die mense van Sidon wat afgegaan het saam met die mense wat in oorlog gesterf het. Hulle was sterk, hulle het ander mense bang laat word, maar nou is hulle verneder. Niemand respekteer hulle nie, hulle het gaan lê by die mense wat in oorlog gesterf het. Hulle is nou nie meer belangrik nie, hulle is by die mense wat in die graf afgaan. 31Wanneer die farao hulle sien, dan sal hy nie meer sleg voel oor al sy soldate nie, al sy soldate wat saam met hom in oorlog gesterf het.”
Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.
32“Toe die farao gelewe het, het Ek almal bang laat word vir hom, maar hy moes ook gaan lê tussen die mense wat dood is, niemand respekteer hulle nou nie. Die farao en al sy soldate moes gaan lê by die mense wat in oorlog gesterf het.”
Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.

Currently Selected:

Esegiël 32: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy