YouVersion Logo
Search Icon

Eksodus 19

19
By Sinai-berg
1Presies drie maande nadat die Israeliete weggegaan het uit Egipte, het hulle in die Sinai-woestyn gekom. 2Nadat hulle weggegaan het van Refidim, het hulle in die Sinai-woestyn gekom en hulle het daar by die berg hulle tente opgeslaan. 3Moses het teen die berg opgegaan na God toe. Die Here het van die berg af na Moses geroep en Hy het gesê Moses moet vir die nageslag van Jakob, die Israeliete, sê:
4“Julle het self gesien wat Ek
met die Egiptenaars
gedoen het.
Ek het julle beskerm en gedra
soos 'n arend haar kleintjies
op haar vlerke dra.
Ek het julle na My toe gebring.
5As julle nou gehoorsaam is
en doen wat Ek sê,
en as julle
my verbond hou,
dan sal julle my eie volk wees,
want die hele aarde is Myne.
6Julle sal die priesters wees
oor wie Ek regeer,
'n gewyde volk.
Dit is wat jy vir die Israeliete
moet sê.”
7Moses het afgekom van die berg en hy het die leiers van die Israeliete geroep. Hy het alles vir hulle vertel wat die Here vir hom gesê het. 8Al die mense het saamgestem en gesê: “Ons sal alles doen wat die Here gesê het.”
Moses het vir die Here gaan vertel wat die volk gesê het. 9Die Here het vir Moses gesê: “Ek sal na jou toe kom in 'n donker wolk sodat die mense kan hoor wanneer Ek met jou praat. Dan sal hulle jou altyd glo.”
Toe het Moses vir die Here vertel wat die volk gesê het. 10Die Here het vir Moses gesê: “Gaan na die volk toe. Reinig hulle vandag en môre en sê hulle moet hulle klere was. 11Hulle moet oormôre gereed wees, want Ek sal oormôre afkom op Sinai-berg. Almal sal My daar sien. 12Maar jy moet vir die mense sê tot waar hulle mag gaan. Hulle mag nie teen die berg opgaan of aan sy kant raak nie. As iemand aan die berg raak, dan moet hy sterf. 13Die ander mense mag nie met hulle hande raak aan iemand wat dit gedoen het nie. Hulle moet hom met klippe doodgooi of met 'n pyl en boog doodskiet. Julle moet dieselfde doen met 'n dier wat aan die berg raak, hy mag ook nie lewe nie. Maar wanneer die mense hoor dat iemand die ramshoring blaas, dan mag hulle opgaan teen die berg.”
14Moses het afgekom van die berg en hy het na die mense toe gegaan. Hy het hulle gereinig en gesê hulle moet hulle klere was. 15Hy het vir die mense gesê: “Julle moet oormôre gereed wees, en julle moenie by 'n vrou slaap nie.”
16Op die derde dag, toe dit oggend word, was daar donderweer en weerlig en 'n donker wolk op die berg. Die Israeliete het gehoor iemand blaas die ramshoring baie hard. Almal in die kamp was baie bang en hulle het gebewe. 17Moses het die mense uit die kamp gebring om God te ontmoet, en hulle het by die voet van die berg gaan staan. 18Die hele Sinai-berg was vol rook omdat die Here in 'n vuur afgekom het op die berg. Die rook het in die lug opgetrek soos die rook van 'n oond, en die hele berg het baie gebewe. 19Die ramshoring het aangehou raas, en die geraas het baie hard geword. Moses het gepraat, en God het hom geantwoord, sy antwoord was soos donderweer. 20Die Here het afgekom op Sinai-berg. Hy was op die berg en Hy het vir Moses na Hom toe geroep. Moses het gegaan, 21en die Here het vir hom gesê: “Gaan af en waarsku die mense. Sê hulle moenie opklim na My toe nie. Die mense wat na My kyk, sal sterf. 22Ook die priesters wat vir My offers bring, moet hulleself reinig, anders sal Ek hulle laat sterf.”
23Moses het vir die Here gesê: “Die mense mag nie opgaan teen Sinai-berg nie. U het ons gewaarsku om nie op te gaan teen die berg nie, want die berg is gewyd.” 24Die Here het vir Moses gesê: “Gaan nou af en bring vir Aäron saam met jou terug. Maar die priesters en die ander mense mag nie opklim na My toe nie, want dan sal Ek hulle laat sterf.”
25Moses het toe afgegaan na die mense toe en hy het alles vir hulle vertel.

Currently Selected:

Eksodus 19: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy