YouVersion Logo
Search Icon

Handelinge 9:9-31

Handelinge 9:9-31 ABA

Saulus kon drie dae lank nie sien nie, en het hy niks geëet en ook niks gedrink nie. Daar was 'n gelowige in Damaskus. Sy naam was Ananias. Die Here het na Ananias gekom en Hy het vir hom gesê: “Ananias!” Ananias antwoord toe: “Hier is ek, Here, ek luister.” Die Here sê toe vir Ananias: “Staan op en gaan na Reguitstraat. Jy moet in die huis van Judas soek na Saulus wat van die stad Tarsus kom. Jy sal sien hy is besig om te bid. Terwyl Saulus gebid het, het Ek vir hom gewys dat 'n man na hom toe kom en dat hierdie man sy hande op hom sit sodat hy weer kan sien. Die man se naam is Ananias.” Maar Ananias het vir die Here gesê: “Here, baie mense het vir my vertel dat hierdie man baie slegte dinge in Jerusalem gedoen het aan die mense wat in U glo. En nou is Saulus hier, en die hoëpriester het gesê dat hy die mense mag vang wat vir U aanbid en dien.” Die Here sê toe vir Ananias: “Jy moet na Saulus toe gaan, want Ek het hom gekies en aangestel om vir My te werk en om vir die volke en hulle konings en ook vir die Israeliete te vertel van My. Ek sal self vir hom wys hoe baie hy moet swaarkry omdat Hy vir mense van My vertel.” Ananias het toe gegaan en hy het in die huis ingegaan. Hy het sy hande op Saulus gesit en gesê: “Saulus, my vriend, jy het die Here Jesus gesien op die pad hiernatoe, en dit is Hý wat my gestuur het na jou toe sodat jy weer kan sien en sodat die Heilige Gees in jou kan wees.” Dadelik het daar iets afgeval van Saulus se oë. Dit het gelyk soos skubbe. Toe kon hy weer sien. Hy het opgestaan, en Ananias het hom gedoop. Saulus het toe geëet en hy het beter gevoel. Saulus het 'n paar dae by die gelowiges in die stad Damaskus gebly, en hy het dadelik in die sinagoges begin preek oor Jesus. Hy het gesê: “Hierdie Jesus is die Seun van God.” Al die mense wat vir Saulus gehoor praat het, was baie verbaas en hulle het gesê: “Is Saulus die man wat in Jerusalem probeer het om die mense dood te maak wat vir Jesus aanbid? Is hý die man wat hiernatoe gekom het om vir die mense wat vir Jesus aanbid, te vang en na die priesterleiers toe te neem?” Maar Saulus het beter en beter gepreek vir die Jode wat in die stad Damaskus woon en hy het só goed verduidelik dat Jesus die Christus is, dat hulle nie vir hom kon antwoord nie. Ná 'n lang tyd het die Jode planne gemaak om vir Saulus dood te maak, maar hy het gehoor van hulle planne. Hulle het elke dag en elke nag die stad se poorte dopgehou om vir Saulus te vang en dood te maak. Maar mense wat ook gelowiges was, soos Saulus, het in die nag vir Saulus geneem en hulle het hom in 'n groot mandjie laat afsak deur 'n venster in die stad se muur. Toe Saulus in Jerusalem kom, het hy aangehou om te probeer vriende maak met die gelowiges. Maar hulle het nie geglo dat hy 'n gelowige is nie, en daarom was hulle almal bang vir Saulus. Maar Barnabas het vir Saulus gehelp. Hy het vir Saulus na die apostels toe geneem en hy het vir hulle vertel dat Saulus op die pad na Damaskus die Here gesien het en dat die Here toe met Saulus gepraat het. Barnabas het ook vir hulle vertel dat Saulus nie bang was om vir die mense in Damaskus van Jesus te vertel nie. En Saulus het oral in Jerusalem saam met hulle gegaan en hy was nie bang om vir die mense te vertel van die Here nie. Hy het ook gepraat met die Jode wat Grieks gepraat het, en hy het met hulle gestry, maar hulle het probeer om hom dood te maak. Toe die gelowiges dit uitvind, het hulle vir Saulus na die hawestad Sesarea geneem en van Sesarea het hulle hom na die stad Tarsus gestuur. Die kerk in die provinsies Judea, Galilea en Samaria het 'n tyd lank in vrede gelewe. God het hulle gehelp om aan te hou glo, hulle het die Here gedien en hulle was gehoorsaam aan Hom. Die Heilige Gees het die kerk sterk gemaak en meer en meer mense het in die Here begin glo.

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy