YouVersion Logo
Search Icon

Handelinge 17

17
Paulus en sy vriende in Tessalonika
1Paulus en Silas het deur die stede Amfipolis en Apollonië gegaan, en toe het hulle in die stad Tessalonika gekom. Daar was 'n sinagoge van die Jode in Tessalonika. 2Paulus het na die sinagoge gegaan, hy het dit altyd gedoen. Daar het hy drie weke lank elke Sabbatdag met die Jode gepraat. Hy het in die Ou Testament gelees 3en hy het dit vir hulle verduidelik. Hy het ook vir hulle verduidelik dat die Christus moes swaarkry en sterf en dat Hy weer moes lewe. Hy het ook gesê: “Ek vertel vir julle van Jesus. Hý is die Christus.”
4Party van hulle het gedink dit is reg wat Paulus vir hulle gesê het, en hulle het begin glo soos Paulus en Silas glo. Baie van die Grieke wat vir God gerespekteer het, en baie van die belangrike vroue, het ook begin glo in Jesus. 5Maar die Jode het jaloers geword en hulle het 'n klomp slegte mense wat nie werk nie, saam met hulle geneem en hulle het die mense in die stad kwaad gemaak. Toe het hulle Jason se huis aangeval, want hulle het vir Paulus en Silas gesoek om hulle voor die vergadering van die volk te bring. 6Maar die Jode het nie vir Paulus en Silas gekry nie, en daarom het hulle vir Jason en party van die gelowiges na die leiers van die stad geneem en geskree: “Dit is hierdie mense wat al die mense se koppe deurmekaar gemaak het, en hulle is nou hier. 7Jason het hulle genooi om in sy huis in te kom. Al hierdie mense breek die wette van die keiser, hulle sê daar is 'n ander koning, en sy naam is Jesus.”
8Die leiers en baie mense in die stad wat hierdie dinge gehoor het, het bekommerd geword. 9Ander gelowiges het vir Jason gehelp en hulle het vir hom borg gestaan. Toe die leiers genoeg geld gekry het, het hulle vir Jason en die ander gelowiges vry laat weggaan.
Paulus en Silas in Berea
10Toe dit donker geword het, het die gelowiges dadelik vir Paulus en Silas na Berea gestuur. Toe hulle daar aankom, het hulle na die sinagoge van die Jode gegaan. 11Hierdie Jode was anders as die Jode in Tessalonika, hulle wou graag leer en hulle het baie graag geluister na wat Paulus en sy vriende vertel het. Hulle het elke dag die Ou Testament baie goed gelees om te kyk of die dinge waar is wat Paulus en sy vriende vertel het. 12Baie van die Jode en van die belangrike Griekse vroue en mans het in die Here Jesus begin glo. 13Maar toe die Jode van die stad Tessalonika hoor dat Paulus ook in die stad Berea vir die mense die boodskap van God gebring het, het hulle ook daarnatoe gekom en hulle het baie mense opstandig en kwaad gemaak. 14Die gelowiges het toe dadelik vir Paulus weggestuur na die see toe, maar Silas en Timoteus het altwee in Berea gebly. 15Die mense wat saam met Paulus gegaan het, het hom na die stad Atene gebring. Paulus het vir hulle gesê dat hulle vir Silas en Timoteus moet gaan sê om dadelik na hom toe te kom. Hulle het toe van daar teruggegaan na Berea.
Paulus in Atene
16Terwyl Paulus in die stad Atene vir Silas en Timoteus gewag het, het Paulus baie kwaad en ontsteld geword toe hy sien dat die stad vol beelde van afgode was. 17Paulus het in die sinagoge gepraat met die Jode en die Grieke wat vir God respekteer. Hy het ook elke dag op die mark met almal gepraat wat daar gekom het. 18Party filosowe, Epikureërs en Stoïsyne, het met Paulus gestry. Party van hulle het gesê: “Hierdie man is 'n grootmond, hy spog baie. Wat wil hy vir ons leer?”
Ander mense het gesê: “Ons dink hy is 'n boodskapper van gode wat ons nie ken nie.”
Hulle het dit gesê omdat Paulus vir die mense vertel het van die goeie boodskap van Jesus en dat God mense weer sal laat lewe. 19Hulle het toe vir Paulus na die vergadering op die Areopagus geneem en vir hom gesê: “Ons wil nou weet wat die nuwe dinge is wat jy vir die mense leer. 20Want party dinge wat jy sê, het ons nog nie voorheen gehoor nie. Daarom wil ons weet wat hierdie dinge beteken.”
21Hulle het dit gevra, want al die mense wat in die stad Atene gewoon het, en ook die vreemdelinge wat daar gewoon het, het altyd baie tyd gehad om te praat oor iets wat hulle nog nie voorheen gehoor het nie, of om daarna te luister.
22Paulus het toe voor die vergadering op die Areopagus gaan staan en hy het gesê: “Mense van Atene, ek sien dat julle aanhou om julle gode te dien saam met alles wat julle in julle lewe doen. 23Ek het deur julle stad geloop en ek het gekyk na die plekke waar julle al julle gode aanbid. Toe het ek ook 'n altaar gekry en op die altaar is daar geskryf: ‘Hierdie altaar is vir die god wat ons nie ken nie.’ Ek wil vir julle vertel van hierdie God, julle ken Hom nie, maar julle aanbid Hom. 24Hierdie God het die wêreld gemaak en ook alles wat daarin is. Hý is die Here van die hemel en die aarde, en Hy woon nie in tempels wat mense gemaak het nie. 25Mense moenie vir hierdie God sorg nie, dit is nie nodig nie. Hy is die Een wat vir al die mense lewe gee, Hy laat hulle asemhaal, en Hy gee alles vir hulle. 26God het een mens, Adam, gemaak, en al die volke kom van Adam. God het gesê die mense moet op die hele aarde woon en Hy het besluit hoe lank en waar hulle sal woon. 27God het dit gedoen sodat die mense vir Hom sal probeer soek soos mense wat rondvoel in die donker om Hom te probeer kry. Maar Hy is nie ver van elkeen van ons nie.
28“Want
“ God laat ons lewe,
Hy laat ons doen wat ons doen,
Hy laat ons aanhou lewe.
“Party van julle skrywers het ook gesê:
“ Ook ons is sy nageslag.
29“Omdat ons die nageslag van God is, moet ons nie dink dat God lyk soos 'n beeld van goud of silwer of klip nie. Mense dink God lyk so, en dan maak hulle so 'n beeld. 30Dit is waar dat God nie die mense gestraf het in die tyd toe hulle Hom nie geken het nie, maar Hy sê vir al die mense op al die plekke dat hulle nou hulle lewe moet verander en moet lewe soos Hy wil hê. 31Hulle moet dit doen omdat Hy gesê dat daar 'n dag sal kom wanneer Hy sal doen wat reg is, Hy sal al die mense van die wêreld dan oordeel. God het vir Jesus gekies om dit te doen. God het ook vir almal gewys dat dit waarlik sal gebeur, want Jesus het gesterf, maar God het Hom weer laat lewe.”
32Toe hulle hoor dat Paulus sê dat God mense wat dood is, weer laat lewe, het party mense vir Paulus begin lag en spot, maar party het gesê: “Ons sal weer wil hoor wat jy hieroor sê.”
33Nadat dit gebeur het, het Paulus toe weggegaan uit die vergadering van die Areopagus. 34Maar party mense het gedink Paulus is reg en hulle het in Christus begin glo. Dionisius, een van die mans in die vergadering van die Areopagus, en 'n vrou, haar naam was Damaris, en nog ander mense het saam met hulle in Christus begin glo.

Currently Selected:

Handelinge 17: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy