YouVersion Logo
Search Icon

1 Samuel 3

3
Die Here verskyn aan Samuel
1Die seun Samuel het vir die Here gewerk saam met Eli. In daardie tyd het die Here min met mense gepraat en Hy het nie baie maal vir hulle iets gewys nie. 2Eli het een nag op sy bed gelê. Sy oë het al dof geword, hy kon nie meer goed sien nie. 3Die lamp van God het nog gebrand. Samuel het in die tempel geslaap waar die kis van God was. 4Die Here het vir Samuel geroep, en Samuel het gesê: “Hier is ek.”
5Samuel het na Eli toe gehardloop en gesê: “Hier is ek, want jy het my geroep.”
Maar Eli het gesê: “Ek het jou nie geroep nie. Gaan slaap weer.”
Samuel het gaan slaap. 6Die Here roep toe weer: “Samuel!”
Samuel het opgestaan en hy het na Eli toe gegaan en gesê: “Hier is ek, want jy het my geroep.”
Maar Eli het gesê: “My seun, ek het jou nie geroep nie. Gaan slaap weer.”
7Samuel het nie geweet dat dit die Here is nie, want die Here het nog nie voor daardie tyd met hom gepraat nie. 8Toe die Here die derde maal vir Samuel roep, het Samuel opgestaan en hy het na Eli toe gegaan en gesê: “Hier is ek, want jy het my geroep.”
Eli het toe besef dat dit die Here is wat die seun geroep het, 9en hy het vir Samuel gesê: “Gaan lê, en wanneer Hy jou weer roep, dan moet jy sê: ‘Praat, Here, ek is u dienaar en ek luister.’ ”
Samuel het weer op sy bed gaan lê. 10Die Here het gekom en Hy het daar gestaan en weer geroep: “Samuel! Samuel!”
Samuel het gesê: “Praat asseblief, ek is u dienaar en ek luister.”
11Die Here het vir Samuel gesê: “Ek sal nou in die land Israel iets doen, elkeen wat dit hoor, sal geskok wees. 12Daardie dag sal Ek met Eli alles laat gebeur wat Ek oor sy familie gesê het, alles van die begin tot die end. 13Ek het vir hom gesê Ek sal sy familie vir altyd straf oor die sonde waarvan hy geweet het. Want sy seuns het My nie geëer nie, en hy het nie hard met hulle geraas nie. 14Daarom het Ek gesê: Ek sal die sonde van Eli se familie nooit vergewe nie, ook nie wanneer hulle offers en presente vir My bring nie. Wat Ek gesê het, sal gebeur.”
15Samuel het tot die oggend op sy bed gelê. Toe het hy die deure van die tempel oopgemaak. Hy was bang om vir Eli te vertel wat die Here vir hom kom sê het. 16Maar Eli het vir Samuel geroep en hy het vir hom gesê: “Samuel, my seun.” En Samuel het gesê: “Hier is ek.”
17Toe sê Eli: “Wat het die Here vir jou gesê? Jy moet alles vir my vertel en niks wegsteek nie. Ek bid dat die Here jou sal straf as jy enige iets vir my wegsteek. Vertel vir my alles wat Hy vir jou gesê het.”
18Samuel het vir Eli alles vertel. Hy het niks weggesteek nie. En Eli het gesê: “Hy is die Here, Hy moet doen wat Hy wil doen.”
19Samuel het grootgeword, en die Here was by hom. Die Here het alles gedoen wat Hy gesê het. 20Al die Israeliete, van die stad Dan in die noorde tot by die stad Berseba in die suide, het geweet Samuel is 'n profeet wat altyd sê wat die Here vir hom sê. 21Die Here het van toe af weer in Silo verskyn, want toe Hy in Silo met Samuel gepraat het, het Hy vir Samuel gewys wie Hy is. Samuel het met al die Israeliete gepraat.

Currently Selected:

1 Samuel 3: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy