YouVersion Logo
Search Icon

1 Samuel 12

12
Samuel groet die volk
1Samuel het vir al die Israeliete gesê: “Kyk, ek het alles gedoen wat julle gevra het en ek het 'n koning gekies en aangestel om oor julle te regeer. 2Daarom is die koning nou hier en hy lei julle. Ek is oud, en my seuns is hier by julle. Dit is ek wat julle gelei het vandat ek jonk was tot nou toe. 3Hier is ek. Sê vir my wat ek verkeerd gedoen het, sê dit waar die Here en sy gesalfde dit kan hoor. Wie se bees of donkie het ek gevat? Aan wie het ek slegte dinge gedoen en vir wie het ek laat swaarkry? Van wie het ek omkoopgeld geneem sodat ek nie reg moet oordeel nie? Sê vir my, dan sal ek dit teruggee.”
4Die Israeliete het gesê: “Jy het nie slegte dinge aan ons gedoen nie, jy het ons nie laat swaarkry nie, jy het van niemand iets gevat nie.”
5Toe sê Samuel vir hulle: “Die Here en sy gesalfde koning is getuies. Julle kan my nie beskuldig nie, ek het niks verkeerd gedoen nie.”
Hulle het gesê: “Dit is waar.”
6Daarna het Samuel vir die volk gesê: “Die Here het vir Moses en Aäron leiers gemaak en dit is Hy wat julle voorvaders uit die land Egipte gebring het. 7Kom staan nou hier sodat ek vir julle kan vertel hoe goed die Here was vir julle en julle voorvaders, die Here moet dit hoor. 8Nadat Jakob in Egipte gekom het, het julle voorvaders tot die Here gebid en hulle het gevra dat Hy hulle moet help. Die Here het vir Moses en Aäron gestuur, en hulle het julle voorvaders uit Egipte gebring en hier laat woon. 9Maar julle voorvaders het hulle God die Here vergeet, en toe het die Here vir Sisera gebring om oorlog te maak teen die Israeliete. Sisera was die hoof van die leër van Hasor. Die Here het ook die Filistyne en die koning van Moab gebring om oorlog te maak teen die Israeliete. 10Die Israeliete het tot die Here gebid en gevra dat Hy hulle moet help. Hulle het gesê: ‘Ons het sonde gedoen, want ons het weggegaan van die Here en ons het die Baäls en die Astartes gedien. Maar U moet ons nou red van ons vyande, dan sal ons vir U dien.’ 11Die Here het toe vir Jerub-Baäl gestuur en vir Bedan en Jefta en Samuel, en Hy het julle gered van julle vyande rondom julle, sodat julle veilig kon woon. 12Maar toe julle sien koning Nagas van die Ammoniete wil oorlog maak teen julle, het julle vir my gesê: ‘Nee, daar moet 'n koning wees om oor ons te regeer.’ Maar julle Koning is julle God die Here. 13En nou, hier is die koning wat julle gekies en gevra het. En hier het die Here vir julle 'n koning gegee. 14Dit sal goed gaan met julle as julle die Here respekteer en dien en doen wat Hy wil hê, as julle nie opstandig is teen wat Hy vir julle sê nie, en as julle altyd julle God die Here volg, julle en julle koning wat oor julle regeer. 15Maar as julle nie doen wat die Here wil hê nie en as julle opstandig is teen wat Hy vir julle sê, dan sal Hy teen julle wees soos Hy teen julle voorvaders was. 16Maar nou moet julle hier kom staan sodat julle self kan sien watter groot ding die Here sal doen. 17Dit is nou die tyd om die koring af te sny, dit is nie reëntyd nie. Maar ek sal tot die Here bid, en Hy sal donderweer en reën stuur, sodat julle sal weet en sien dat julle 'n baie verkeerde ding gedoen het teen die Here toe julle gesê het julle wil 'n koning hê.”
18Samuel het tot die Here gebid, en die Here het daardie dag donderweer en reën gestuur. Die hele volk het baie bang geword vir die Here en vir Samuel. 19Al die mense het vir Samuel gesê: “Jy moet tot jou God die Here bid en vra dat ons nie sal sterf nie, want ons het baie sondes gedoen, en nou het ons ook nog hierdie verkeerde ding gedoen om 'n koning te vra.”
20Samuel het vir die volk gesê: “Julle moenie bekommerd wees nie. Julle het ál hierdie verkeerde dinge gedoen, maar julle moenie weggaan van die Here nie, julle moet Hom dien met julle hele hart. 21Julle moenie weggaan van Hom nie, want dan gaan julle na die afgode toe wat niks beteken nie en wat nie kan help en red nie. 22Want die Here sal nie sy volk los nie, Hy wil hê dat almal moet weet dat Hy die Groot God is. Ja, Hy het besluit dat julle sy volk moet wees. 23En ek, julle moenie dink dat ek sonde sal doen teen die Here nie, ek sal nie ophou om vir julle te bid nie, ek sal vir julle leer om reg te lewe. 24Maar dan moet julle die Here eer en julle moet Hom waarlik dien met julle hele hart, en julle moet onthou dat Hy groot dinge gedoen het vir julle. 25Maar as julle aanhou om verkeerde dinge te doen, dan sal die Here julle én julle koning wegvee.”

Currently Selected:

1 Samuel 12: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy