YouVersion Logo
Search Icon

1 Johannes 5

5
Gelowiges moet glo wat God vir hulle sê oor Jesus
1Almal wat glo dat Jesus die Christus is, is kinders van God, en almal wat lief is vir God die Vader, is ook lief vir God se ander kinders. 2Ons weet dat ons lief is vir die kinders van God wanneer ons lief is vir God en ons doen wat Hy vir ons sê. 3Ja, ons is lief vir God as ons doen wat Hy vir ons sê. En dit is maklik om te doen wat God vir ons sê, want 4elke kind van God oorwin die wêreld. Ons oorwin die wêreld wanneer ons in Jesus glo. 5Ja, as ons glo dat Jesus die Seun van God is, dan oorwin ons die wêreld.
6Ons weet dat Jesus Christus die Seun van God is, want Hy is gedoop en Hy het vir ons sonde gesterf. Ja, Hy is nie net gedoop nie, Hy het ook vir ons sonde gesterf. Ons weet dit omdat die Heilige Gees dit vir ons gesê het, die Gees wat altyd die waarheid praat. 7Daarom is daar drie wat sê dit is die waarheid: 8die Heilige Gees, Jesus se doop en Jesus se dood. Al drie sê dieselfde oor Jesus.
9Ons glo wat mense vir ons sê. Maar wat God vir ons sê, is baie belangriker, en dit is God wat vir ons vertel het van sy Seun. 10Almal wat glo in die Seun van God, glo wat God vir hulle gesê het oor Jesus. Maar almal wat nie vir God glo nie, sê dat God lieg, want hulle glo nie wat Hy oor sy Seun gesê het nie. 11God het vir ons gesê dat Hy vir ons die ewige lewe gee. Ja, sy Seun gee vir ons die ewige lewe. 12Almal wat in die Seun glo, het die ewige lewe, maar almal wat nie in die Seun glo nie, het nie die ewige lewe nie.
Gelowiges is nie bang vir God nie
13Ek skryf al hierdie dinge vir julle sodat julle seker kan wees dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Seun van God glo.
14Wanneer ons by God is, dan is ons nie bang nie, want ons weet dat Hy luister wanneer ons die dinge vir Hom vra wat Hy wil hê ons moet vra. 15Hy luister wanneer ons dit vra. Daarom weet ons dat Hy al klaar vir ons iets gegee het wanneer ons dit vir Hom vra.
16Wanneer julle sien dat die ander gelowiges sonde doen, en dit is sonde wat God sal vergewe, dan moet julle bid vir daardie gelowiges. Julle moet bid vir die gelowiges wat sonde doen wat God sal vergewe. As julle vir hulle bid, dan sal God die ewige lewe vir hulle gee. Maar daar is ook sonde wat God nie sal vergewe nie, en ek sê nie dat julle daarvoor moet bid nie. 17Alles wat verkeerd is, is sonde, maar daar is sonde wat God vergewe, en daar is sonde wat God nie vergewe nie.
18Ons weet dat kinders van God nie aanhou om sonde te doen nie, want die Seun van God beskerm hulle. Daarom kan die duiwel niks aan hulle doen nie. 19Ons weet dat ons kinders van God is en dat die duiwel regeer oor al die ander mense. 20Ons weet dat die Seun van God gekom het en dat Hy ons gehelp het om die ware God te leer ken. Nou is ons by die ware God en by sy Seun, Jesus Christus. Jesus is regtig God, Hy gee vir ons die ewige lewe.
21Vriende, julle moet oppas vir die afgode!

Currently Selected:

1 Johannes 5: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy