YouVersion Logo
Search Icon

1 Korintiërs 8

8
Mag gelowiges vleis eet wat die heidene in hulle tempels vir 'n afgod offer?
1Julle het vir my gevra of gelowiges afgod-offervleis mag eet. Ek wil nou daaroor praat. Ons weet dat almal dink hulle weet alles hiervan. Maar julle moet onthou, wanneer 'n mens dink hy weet alles, dan maak hy ander mense maklik hartseer. Maar wanneer hy lief is vir ander mense, dan kan hy hulle help. 2Iemand dink miskien hy weet alles, maar so iemand het nog nie alles geleer wat hy moet leer nie. 3Iemand wat lief is vir God, ken vir God. Maar die belangrikste is dat God ook vir daardie persoon ken.
4Ek wil nou praat oor die afgod-offervleis. Ons weet almal dat daar nie regtig afgode in die wêreld is nie. Ons weet dat daar net een ware God is. 5Ja, baie mense sê dat daar gode in die hemel of op die aarde is, en ons weet mense aanbid daardie baie gode en noem hulle ook “Here.” 6Maar vir ons is daar net één God. Hy is die Vader wat alles gemaak het. Ons moet vir Hom lewe. En daar is een Here. Hy is Jesus Christus. Jesus het saam met die Vader gewerk om alles te maak, Hy het vir ons die ware lewe gegee. 7Maar al die gelowiges verstaan nie goed dat daar net een God is nie, want hulle het baie jare lank die afgode gedien voordat hulle gelowiges geword het. Hulle dink dat wanneer hulle afgod-offervleis eet, dan dien hulle ook die afgod. En omdat hierdie gelowiges maklik skuldig voel, glo hulle dat hulle sonde gedoen het. 8Maar julle moet weet dat kos nie kan help dat God minder of meer van ons sal hou nie. As ons nie die afgod-offervleis eet nie, dan beteken dit nie dat ons geloof swak is nie, en as ons dit eet, dan beteken dit nie dat ons geloof sterk is nie. 9Julle wat dink dit is nie verkeerd om afgod-offervleis te eet nie, julle moet versigtig wees, want julle kan ander gelowiges sonde laat doen. 10Miskien dink jy dit is nie verkeerd om afgod-offervleis te eet nie. Maar miskien is 'n ander gelowige se geloof swak, en wanneer hy sien dat jy in 'n tempel afgod-offervleis eet, dan sal hy dink hy kan dit ook eet, en miskien sal hy dan weer afgode begin dien. 11Sy geloof is swak, en omdat jy dink dit is nie verkeerd om afgod-offervleis te eet nie, sal hy miskien verlore gaan. Maar jy moet onthou, hy is 'n gelowige, Christus het vir hom gesterf. 12Onthou, wanneer julle iets doen wat ander gelowiges skuldig laat voel, dan doen julle sonde teen hulle en ook teen Christus. 13Daarom, as kos iemand sonde laat doen, iemand wat soos ek in Christus glo, dan sal ek nooit weer vleis eet nie. So sal ek seker maak dat ander gelowiges nie sonde doen nie.

Currently Selected:

1 Korintiërs 8: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy