YouVersion Logo
Search Icon

JEREMIA 40

40
Jeremia in Gedalja se sorg
1Die Here het weer vir Jeremia ’n boodskap gegee nadat Nebusaradan, hoof van die koning se lyfwagte, hom by Rama vrygelaat het. Hy het Jeremia gekry waar hy geboei gesit het tussen ’n groep gevangenes van Jerusalem en Juda wat in ballingskap op pad was na Babel.
2Die hoof van die lyfwagte het Jeremia na hom toe laat kom en gesê: “Die Here jou God het bepaal dat onheil hierdie plek sal tref. 3Dit is presies wat nou gebeur. Die rede hiervoor is omdat hulle teen die Here gesondig het en Hom nie gehoorsaam het nie. 4Ek gaan nou jou boeie afhaal en dan is jy vry. Jy is welkom om saam met my na Babel toe te gaan. Ek sal goed vir jou sorg. Maar as jy verkies om hier in Jerusalem te bly, is dit ook goed. Jy is nou vry om te gaan net waar jy wil in die land. 5As jy kies om te bly, gaan dan na Gedalja seun van Agikam, die kleinseun van Safan. Hy is deur die koning van Babel as goewerneur van die dorpe in Juda aangestel. Jy kan daar by hom bly tussen die mense oor wie hy aangestel is. Maar dit is jou keuse, jy kan gaan net waar jy wil.”
Nebusaradan het toe vir Jeremia kos en geld gegee. Daarna het hy hom laat gaan. 6Jeremia het toe na Gedalja in Mispa gegaan. Hy het saam met hom tussen die paar mense van Juda wat in die land agtergebly het, gaan bly.
Gedalja bestuur Juda
7Daar was nog offisiere en soldate van Juda wat in die plattelandse gebiede agtergebly het. Hulle het gehoor dat die koning van Babel vir Gedalja seun van Agikam as goewerneur van Juda aangestel het. Hy moes toesig hou oor die mans, vroue en kinders, die arm mense wat nie uit Juda na Babel weggevoer is nie. 8Hulle het na Gedalja toe gekom waar hy in Mispa was. Hulle was Ismael seun van Netanja, Joganan en Jonatan, seuns van Kareag, Seraja seun van Tangumet, die seuns van Efai uit Netofa en Jaäsanja uit Maäka.
9Gedalja seun van Agikam, kleinseun van Safan, het die offisiere en hulle manskappe verseker: “Julle hoef nie bang te wees om die Babiloniërs te dien nie. Bly hier in die land en dien die koning van Babel, en dit sal goed gaan met julle. 10Ek sal hier in Mispa bly en namens julle met die Babiloniërs wat ons kom besoek, onderhandel. Bly in die dorpe wat julle oorgeneem het en oes julle druiwe, vrugte en olywe en stoor dit in houers.”
11Die Judeërs wat in Moab, Ammon en Edom en ook in ander buurlande was, het gehoor dat die koning van Babel ’n groep mense in Juda agtergelaat het. Toe hulle verder ook gehoor het dat hy Gedalja as goewerneur van Juda aangestel het, 12het hulle uit al die plekke waarheen hulle gevlug het, na die land Juda teruggekeer. Hulle het eers na Gedalja in Mispa gegaan. Daarna het hulle ’n groot oes van druiwe en somervrugte begin insamel.
’n Komplot teen Gedalja
13Kort hierna het Joganan seun van Kareag en die ander offisiere van die manskappe in die platteland na Gedalja in Mispa gekom. 14Hulle het vir hom gesê: “Weet u dat die Ammonitiese koning Baälis vir Ismael seun van Netanja gestuur het om u te vermoor?” Maar Gedalja wou hulle nie glo nie.
15Kort hierna het Joganan in die geheim met Gedalja in Mispa gaan praat. Hy het aangebied om Ismael dood te maak sonder dat iemand daarvan sal weet. Hy het gesê: “Hoekom sal ons hom toelaat om u te vermoor? As dit gebeur, sal al die Judeërs wat teruggekom het, net weer uitmekaargedryf word en die groep mense wat in Juda agtergebly het, sal tot niet gaan.”
16Maar Gedalja het vir Joganan gesê: “Jy mag Ismael nie gaan vermoor nie. Wat jy oor hom sê, is nie die waarheid nie.”

Currently Selected:

JEREMIA 40: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy