YouVersion Logo
Search Icon

JEREMIA 41

41
Gedalja word vermoor
1In die middel van herfs#41:1 Grondteks die sewende maand van die Hebreeuse kalender. daardie jaar het Ismael en tien van sy mense by Gedalja in Mispa aangekom. Ismael was die seun van Netanja en die kleinseun van Elisama. Hy was van koninklike afkoms en een van die koning se offisiere. Terwyl hulle in Mispa saam met Gedalja geëet het, 2het Ismael en sy manskappe opgespring en Gedalja met ’n swaard doodgesteek. Die koning van Babel het Gedalja seun van Agikam, kleinseun van Safan, as goewerneur oor die land aangestel. 3Ismael het al die Jode wat daar by Gedalja in Mispa was, doodgemaak. Hy het ook die Babiloniese soldate wat by Gedalja was, vermoor.
4Die volgende dag, nog voordat iemand iets van Gedalja se moord gehoor het, 5het 80 mans uit Sigem, Silo en Samaria aangekom. Hulle baarde was afgeskeer, hulle klere in repies geskeur en hulle het hulleself gesny soos hulle gerou het. Hulle was op pad na die tempel toe om vir die Here graanoffers te bring en ook wierook te brand. 6Ismael het uit Mispa gegaan om hulle te ontmoet terwyl hy droewig gehuil het. Toe hy by hulle kom, sê hy: “Kom kyk wat het met Gedalja seun van Agikam gebeur!”
7Toe hulle in die middel van die stad aankom, het Ismael en die manne saam met hom 70 van die 80 doodgemaak. Hulle het die lyke in ’n put gegooi.
8Die tien wat oorgebly het, het Ismael gesmeek om hulle nie dood te maak nie. Hulle het belowe dat hulle vir hom die koring, gars, olie en heuning sou gee wat hulle in die veld versteek het. Hy het hulle toe nie doodgemaak nie. 9Koning Asa het Mispa destyds versterk om homself teen koning Baesa van Israel te beskerm. Hy het toe ’n groot put gegrawe om water op te vang. Ismael seun van Netanja het al die lyke van die mense wat hy by Gedalja vermoor het, in hierdie put gegooi. Die put was vol lyke.
10Ismael het ook die res van die mense in Mispa gevang. Onder hulle was die koning se dogters. Nebusaradan, hoof van die koninklike lyfwag, het al hierdie mense onder die sorg van Gedalja in Mispa gelaat. Ismael het hulle saam met hom gevat en in die rigting van die Ammoniete begin trek.
11Maar Joganan seun van Kareag en die groep soldate wat saam met hom was, het gehoor van die gruwels wat Ismael gedoen het. 12Hulle het toe al die mans saam met hulle geneem om teen Ismael te veg. Hulle het hom by die groot dam naby Gibeon aangetref. 13Toe die mense wat Ismael gevang het Joganan en sy offisiere sien, was hulle baie bly. 14Al die mense wat Ismael in Mispa gevange geneem het, het ontsnap en na Joganan toe oorgeloop. 15Intussen het Ismael en agt van sy volgelinge Joganan ontglip en na die Ammoniete gevlug.
16Joganan en sy offisiere het al die mense weggelei wat hulle uit Ismael se hande gered het. Hierdie was mense wat in Mispa oorleef het nadat Ismael Gedalja seun van Agikam doodgemaak het. Onder hulle was soldate, vroue, kinders en paleisamptenare wat hy uit Gibeon saamgebring het. 17Hulle het vertrek en by Gerut-Kimham naby Betlehem oorgebly. Van daar sou hulle na Egipte toe gaan.
18Hulle was bang vir wat die Babiloniërs sou doen omdat Ismael Gedalja vermoor het. Dit was dan juis die Babiloniese koning wat vir Gedalja as goewerneur van Juda aangestel het.

Currently Selected:

JEREMIA 41: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy