YouVersion Logo
Search Icon

SAGARIA 1

1
Keer terug na die Here
1Gedurende die middel van herfs#1:1 Grondteks In die agtste maand., in die tweede jaar van koning Darius se regering, het die Here hierdie boodskap aan die profeet Sagaria, die seun van Berekja, die kleinseun van Iddo, gegee.
2“Ek, die Here, was baie kwaad vir julle voorgeslagte. 3Sê daarom vir die volk: ‘Dit is wat die Here, die Almagtige, sê: Draai om na My toe en Ek sal na julle toe omdraai, sê die Here, die Almagtige.’
4“Moenie soos julle voorgeslagte wees wat nie wou luister nie toe die profete van vroeër vir hulle gesê het: ‘Dit is wat die Here, die Almagtige, sê: Draai om van julle verkeerde pad en hou op met al julle slegte dade.’
5“Julle voorgeslagte en hulle profete is nou lankal reeds dood. 6Al die dinge wat Ek deur my dienaars die profete gesê het, het met julle voorgeslagte gebeur, net soos Ek gesê het dit sou gebeur. As gevolg hiervan het hulle tot bekering gekom en gesê: ‘Ons het van die Here, die Almagtige, ontvang wat ons verdien het. Hy het gedoen wat Hy gesê het Hy sal doen.’”
Die eerste visioen: perderuiters oor die aarde
7Op 15 Februarie#1:7 Grondteks Op die 24ste dag van die elfde maand, die maand Sebat. van die tweede jaar van koning Darius se regering, het die Here nog ’n boodskap aan die profeet Sagaria, die seun van Berekja, die kleinseun van Iddo, gestuur. Sagaria het gesê:
8In ’n visioen gedurende die nag het ek ’n man op ’n rooibruin perd sien sit. Hy was tussen mirtebome in ’n laagte. Agter hom was daar rooibruin, bruin en wit perde. 9Ek het toe die engel wat met my gepraat het, gevra: “Meneer, wat beteken al hierdie perde?”
“Ek sal jou wys,” het die engel geantwoord.
10Die man wat daar tussen die mirtebome gestaan het, het verduidelik: “Die Here het hulle uitgestuur om die hele aarde te patrolleer.”
11Die ruiters het toe verslag gedoen aan die engel van die Here wat tussen die mirtebome gestaan het: “Ons het die aarde deurkruis en die hele aarde is rustig en stil.”
12Toe die engel van die Here dit hoor, het hy hierdie gebed gebid: “O Here, die Almagtige, vir 70 jaar is U nou reeds kwaad vir Jerusalem en die dorpe van Juda. Hoe lank nog voordat U hulle weer genadig sal wees?” 13Die Here het toe vriendelike en vertroostende woorde gehad vir die engel wat met my gepraat het.
14Die engel het vir my gesê: “Laat hierdie boodskap weerklink#1:14 Grondteks Roep dit uit. sodat almal dit kan hoor: ‘Dit is wat die Here, die Almagtige, sê: Ek het nog steeds ’n brandende liefde vir Jerusalem en Sion. 15Maar Ek is woedend kwaad vir die ander nasies wat vrede en sekuriteit geniet. Ek was nie so kwaad vir my volk nie, dit is die heidennasies wat die ramp aangehelp het.’
16“Daarom, dit is wat die Here sê: ‘Ek keer in genade weer terug na Jerusalem toe. My tempel sal herbou word, sê die Here, die Almagtige, en planne sal gemaak word vir die heropbou van Jerusalem#1:16 Grondteks en ’n maatlyn sal oor Jerusalem gespan word..’ 17Sê dit ook: ‘Dit is wat die Here, die Almagtige, sê: Die stede van Israel sal weer met voorspoed oorstroom word en die Here sal weer vir Sion vertroos en Hy sal Jerusalem weer kies as sy eie.’”
Die tweede visioen: vier horings en vier ystersmede
18Ek het opgekyk en vier horings gesien. 19“Wat is dit?” het ek aan die engel wat met my gepraat het, gevra. Hy het geantwoord: “Hierdie horings verteenwoordig die wêreldmagte wat Juda, Israel en Jerusalem verstrooi het.”
20Die Here het my toe vier ystersmede gewys. 21“Wat kom hierdie manne doen?” het ek gevra. Die engel het geantwoord: “Die ystersmede kom om die vier horings wat Juda verstrooi en verneder het, te verskrik. Hulle sal die vier horings neergooi en tot ’n val bring.”

Currently Selected:

SAGARIA 1: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy