YouVersion Logo
Search Icon

OPENBARING 16

16
1Ek het toe uit die rigting van die tempel ’n kragtige stem vir die sewe engele hoor sê: “Gaan nou, en gooi die sewe bakke, vol van God se toorn, op die aarde uit!”
2Toe het die eerste engel gegaan en sy bak op die aarde uitgegooi. Daar het toe kwaadaardige en bose sere op dié mense ontstaan wat die merk van die monster dra en sy standbeeld aanbid het.
3Die tweede engel het sy bak op die see uitgegooi. Dit het bloed geword soos dié van ’n lyk, en elke lewende organisme wat in die see is, het doodgegaan.
4Die derde engel het sy bak op die riviere en waterfonteine uitgegooi. Ook dit het bloed geword. 5Toe het ek die engel wat gesag oor die waters voer, hoor sê:
“U is regverdig,
U wat is en wat was,
U, die Heilige,
omdat U oor hierdie dinge u straf
voltrek het;
6want hulle het die bloed
van dié wat aan U toegewy is#16:6 Grondteks van die heiliges.
en van die profete vergiet,
en U het nou ook aan húlle
bloed gegee om te drink.
Hulle verdien dit.”
7Ek het toe vanuit die rigting van die altaar iemand hoor sê:
“Ja, Here God, die Almagtige,
betroubaar en regverdig
is u oordele.”
8Die vierde engel het toe sy bak op die son uitgegooi. Die son is in staat gestel om die mense met vuur te skroei. 9Die mense is deur ’n hewige gloed geskroei en hulle het die Naam van God gevloek wat mag het oor hierdie plae. Hulle het egter nie tot inkeer gekom en aan Hom eer betoon nie.
10Die vyfde engel het sy bak op die troon van die monster uitgegooi, en sy koninkryk is in duisternis gedompel. Die mense het hulle tonge begin byt van die pyn 11en het die God van die hemel gevloek oor hulle pyne en sere. Hulle het hulle egter nie bekeer van hulle verkeerde dade nie.
12Die sesde engel het toe sy bak op die groot Eufraatrivier uitgegooi. Sy vloei het opgedroog om ’n pad gereed te maak vir die konings wat van die ooste af kom.
13Toe merk ek op dat uit die bek van die draak en uit die bek van die monster en uit die bek van die vals profeet drie onrein geeste kom, net soos paddas. 14Dié geeste wat wondertekens doen, is van bose geeste#16:14 Of demone. afkomstig. Hulle gaan uit na die konings oor die hele bewoonde aarde heen om hulle bymekaar te maak vir die oorlog op die beslissende dag van God, die Almagtige.
15“Wees bedag, Ek kom onverwags, net soos ’n dief. Geseënd is elkeen wat wakker loop en sy klere gereed hou sodat hy nie kaal hoef te loop en die mense sy verleentheid sien nie.”
16Die geeste het die konings bymekaargemaak op die plek wat in Hebreeus Armageddon genoem word.
17Die sewende engel het toe sy bak in die lug uitgegooi. ’n Kragtige stem het uit die rigting van die tempel, waar die troon ook is, gekom en gesê: “Dit is afgehandel.”
18Toe het daar weerligstrale, dreunings en donderslae gekom. Daar was ook ’n reuse aardbewing soos wat daar nog nie was vandat die mens op die aarde gekom het nie – só ’n groot aardbewing was dit. 19Die groot stad#16:19 Babilon. is in drie dele geskeur, en die stede van die nasies het ineengetuimel. God het dus hoegenaamd nie vergeet om vir die grote Babilon die beker met die wyn van sy woedende toorn te gee nie.
20Elke eiland het eenvoudig weggeraak, en berge was ook nie meer te vind nie. 21Groot haelstene, elkeen ongeveer 34 kilogram#16:21 Grondteks een talent. swaar, het van die hemel af op die mense gereën. Die mense het God egter gevloek oor die haelplaag omdat dit uitermate groot was.

Currently Selected:

OPENBARING 16: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy