YouVersion Logo
Search Icon

NUMERI 32

32
Die belofte van die stamme van Ruben, Gad en die halwe stam van Manasse
1Die stamme van Ruben en Gad het groot troppe vee gehad. Hulle het gesien dat die streke by Jaser en Gilead goeie weidingsgebied was vir hulle vee. 2Die mense van Gad en Ruben het toe na Moses, die priester Eleasar en die leiers gekom en vir hulle gesê: 3“Die Here het die streke Atarot, Dibon, Jaser, Nimra, Gesbon, Elale, Sibma, Nebo en Baäl-Meon 4vir die volk van Israel verower. Dit is goeie veewêreld. Ons het baie vee. 5As julle saamstem,” het hulle gesê, “gee dan eerder vir ons hierdie gebied as grond in plaas daarvan dat ons deurtrek en grond aan die oorkant van die Jordaan gaan beset.”
6Moses sê toe vir die Gadiete en Rubeniete: “Moet julle broers dan gaan oorlog maak en julle bly ewe rustig hier? 7Waarom wil julle die ander Israeliete terughou om oor te trek na die land wat die Here vir hulle sal gee? 8Dit is presies wat julle voorouers gedoen het toe ek hulle van Kades-Barnea af gestuur het om die land te gaan bekyk. 9Nadat hulle deur die Eskolspruit gegaan het en die land verken het, het hulle die Israeliete probeer terughou om na die land toe te gaan wat die Here vir hulle sou gee. 10Die Here het toe baie kwaad geword vir hulle en gesweer 11dat niemand bo twintig jaar oud wat uit Egipte getrek het, die land sou sien wat Hy met ’n eed aan Abraham, Isak en Jakob beloof het nie. Hulle was nie getrou aan die Here nie. 12Net Kaleb, die seun van Jefunne, die Kenassiet, en Josua, die seun van Nun, sou die land sien. Hulle was getrou aan die Here. 13Die Here was so kwaad vir Israel dat Hy hulle 40 jaar lank deur die woestyn laat rondtrek het, totdat daardie hele geslag wat teen Hom oortree het, uitgesterf het. 14Hier kom julle nou, julle sondige mense, en julle maak net soos julle voorouers! Julle maak die Here selfs nog meer kwaad vir Israel. 15As julle nou die rug op Hom draai en Hy laat die volk nog langer in die woestyn bly, gaan julle hierdie hele nasie vernietig.”
16Hulle het Moses geantwoord: “Ons wil maar net intussen krale hier bou vir ons vee en veilige blyplek vir ons gesinne. 17Ons sal egter dadelik ons wapens vat en voor die Israeliete uittrek totdat ons hulle by hulle blyplek gebring het. Intussen kan ons gesinne veilig wees teen die inwoners van die land in die plekke wat ons gebou het. 18Ons sal nie na ons blyplekke toe terugkom voordat elke Israeliet sy deel gekry het nie. 19Ons wil nie saam grond aan die ander kant van die Jordaan hê nie. Ons wil eerder grond hier aan die oostekant van die Jordaan hê.”
20Toe sê Moses vir hulle: “As julle julle woord hou en saam voor die Here optrek om te gaan veg 21en gewapend deur die Jordaan trek totdat die Here sy vyande uitgewis het, 22en die land aan die Here onderwerp is, dan eers kan julle terugkom. Julle sal dan vrygestel wees van julle plig teenoor die Here en teenoor Israel. Dit sal eers dan die land wees wat die Here vir julle gee. 23As julle egter nie doen wat julle beloof het nie, doen julle sonde teen die Here. Weet dan dat julle sonde aan die lig sal kom. 24Gaan bou nou die veilige plekke vir julle gesinne en die krale vir julle vee. Onthou net om te doen wat julle beloof het.”
25Die mense van Gad en Ruben het vir Moses gesê: “Ons is u dienaars. Ons sal doen wat u vir ons gesê het. 26Ons vroue en kinders, ons vee en ons beeste sal hier in die dorpe van Gilead agterbly. 27U dienaars sal almal gewapend optrek om vir die Here te gaan veg soos u gesê het.”
28Moses het toe ’n opdrag vir die priester Eleasar, vir Josua seun van Nun en vir die leiers van die stamme van Israel gegee. 29Moses het vir hulle gesê: “Wanneer al die gewapende mans van Gad en Ruben saam met julle deur die Jordaan getrek het om vir die Here te gaan oorlog maak en die land aan julle onderwerp is, moet julle die gebied van Gilead vir hulle gee as hulle eiendom. 30As hulle gewapende manne nie saam met julle optrek nie, moet hulle tussen julle in Kanaän grond kry.”
31Die mense van Gad en Ruben het toe weer gesê: “Ons sal presies alles doen wat die Here vir u dienaars gesê het. 32Ons sal ten volle gewapen voor die Here optrek na die land Kanaän toe. Ons grond sal egter hier aan die duskant van die Jordaan wees.”
33Moses het toe die gebied van Sihon, die koning van die Amoriete, en die gebied van Og, die koning van Basan, die hele streek met al sy stede en die dorpe daar rondom, vir die stamme Gad en Ruben en die halwe stam van Manasse, die seun van Josef, gegee.
34Die mense van Gad het toe Dibon, Atarot, Aroër, 35Atrot-Sofan, Jaser, Jogboha, 36Bet-Nimra en Bet-Haram gebou. Dit was almal versterkte blyplekke met krale vir hulle vee.
37Die mense van Ruben het die volgende stede herbou: Gesbon, Elale, Kirjatajim, 38Nebo, Baäl-Meon, en Sibma. Hulle het sommige van die plekke wat hulle herbou het se name verander.
39Die nageslag van Makir, die seun van Manasse, het teen Gilead gaan oorlog maak. Hulle het dit verower en die Amoriete wat daarin gebly het, daar uitgedryf. 40Moses het Gilead vir die nageslag van Makir, die seun van Manasse, gegee. Hulle het daarin gaan woon.
41Jaïr, ook een van Manasse se nageslag, het die tentdorpe aangeval. Hulle het hulle verower, en hulle name verander na die tentdorpe van Jaïr.
42Nobag het Kenat en die dorpies rondom aangeval en verower. Hy het die plek Nobag, na homself, vernoem.

Currently Selected:

NUMERI 32: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy