YouVersion Logo
Search Icon

NUMERI 21

21
Die oorlog teen Arad
1Die Kanaänitiese koning van Arad het in die Negevwoestyn gewoon. Hy het gehoor dat die Israeliete in aantog was met die pad wat na Atarim loop. Hy het teen Israel geveg en van hulle mense gevange geneem.
2Die Israeliete het toe ’n gelofte aan God gedoen: “As U ons help om hierdie volk te oorwin, sal ons hulle stede uitwis#21:2 Of met die banvloek tref, dit wil sê ter wille van die Here totaal vernietig..” 3Die Here het Israel se gebed verhoor. Hulle het die stede met die grond gelyk gemaak en die plek Gorma#21:3 Gorma beteken Met die banvloek vernietig. genoem.
Die bronsslang
4Hulle is van Gorma af weg met die pad na die Rietsee toe om by Edom verby te kom. Langs die pad het hulle ongeduldig begin word. 5Die volk het teenoor die Here en Moses begin kla: “Waarom het jy ons uit Egipte laat trek om hier in die woestyn te sterf? Hier is nie kos en water nie. Ons walg van die nuttelose manna!”
6Die Here het toe giftige slange onder die volk gestuur. Hulle het die volk gepik. Baie uit Israel is daarvan dood. 7Hulle het na Moses toe gekom en by hom bely: “Ons het ’n fout gemaak met wat ons teen jou en die Here gesê het. Bid tog vir die Here dat Hy die giftige slange van ons af sal wegvat.” Moses het toe namens die volk tot God gebid.
8Die Here het vir Moses gesê: “Maak vir jou ’n afbeelding van ’n giftige slang#21:8 Dieselfde Hebreeuse woord word in die meervoudsvorm serafim gebruik om engelwesens aan te dui. en sit dit bo-op ’n paal. Elkeen wat gepik is en daarna kyk, sal bly leef.” 9Moses het toe ’n slang van brons gemaak en dit bo-op ’n paal gesit. As ’n slang iemand gepik het, het hy na die bronsslang gekyk en hy het bly leef.
Die reis na Moab
10Die Israeliete het toe verder getrek tot by Obot en daar kamp opgeslaan. 11Van daar het hulle versit na Ije-Abarim in die woestyn, oos van Moab. 12Hulle is van daar af weg en het by die Seredspruit gekampeer. 13Van daar af het hulle verskuif na die Arnonrivier, wat uit die gebied van die Amoriete vloei. Die Arnon vorm die grens tussen die gebied van die Moabiete en die Amoriete. 14In Die boek van die oorloë van die Here; staan daar geskryf:
“By die dorp Waheb
in die gebied van Sufa
en die spruit van Arnon,
15en die vallei by die spruite
wat strek tot by die nedersetting
van Ar by die grens met Moab.”
16Van daar af is hulle na Beër toe. Dit is die Beër waar die Here vir Moses gesê het: “Roep die volk bymekaar dat Ek vir hulle water kan gee.” 17Daar het Israel hierdie lied gesing:
“Borrel op, put!
Ons sal daaroor sing.
18Put wat deur vorste
oopgegrawe is.
Wat die leiers van die volk
oopgemaak het,
met septers en staf.”
Hulle het toe uit die woestyn na Mattana toe vertrek. 19Van daar is hulle na Nagaliël en toe na Bamot toe. 20Daarvandaan het hulle vertrek na die vallei in die gebied van Moab onder die piek van Pisga, wat op die droë gebied van Jesimon afkyk.
Oorlog teen Sihon van Gesbon
21Die Israeliete het boodskappers na Sihon, die koning van die Amoriete, gestuur: 22“Laat ons deur jou land trek. Ons sal nie afdraai na die veld, of na jou wingerde toe nie. Ons sal nie water uit jou putte drink nie. Ons sal reguit hou met die Hoofweg van die Konings totdat ons deur jou gebied is.”
23Sihon wou Israel egter nie toelaat om deur sy gebied te trek nie. Hy het sy hele volk bymekaargekry en uitgetrek om Israel in die woestyn aan te val. Hy het by Jahas aangekom en daar teen Israel geveg. 24Die Israeliete het hom egter in die geveg verslaan. Hulle het sy land by hom afgevat vanaf die Arnonrivier tot by die Jabbokspruit teenaan die Ammoniete. Die Ammoniete het hulle gebied verdedig.#21:24 Of Die grens van die Ammoniete was versterk.
25Die Israeliete het al die stede van die Amoriete ingeneem. Hulle het in Gesbon en die dorpe rondom gaan woon. 26Gesbon was die hoofstad van koning Sihon van die Amoriete. Hy het met ’n vorige koning van Moab oorlog gemaak en sy hele land tot by die Arnonrivier van hom afgeneem. 27Dis hoekom hulle oor hom gedig het:
“Kom na Gesbon
en herbou die stad.
Herstel die stad van Sihon.
28’n Vuur het uit Gesbon gegaan,
’n vlam uit die stad van Sihon.
Dit het Ar in Moab verteer
en dié wat in beheer is
van die Arnon.
29Dis verby met jou Moab.
Jy sal tot niet gaan,
volk van Kemos.
Hy gee sy seuns prys
as vlugtelinge.
Sy dogters word gevangenes
van Sihon,
die koning van die Amoriete.
30Ons het op hulle losgetrek.
Van Gesbon tot by Dibon
is hy verwoes.
Ons het hulle uitgevee
tot by Nofag en Medeba.”
31Die Israeliete het toe in die gebied van die Amoriete gaan woon.
32Moses het mense uitgestuur om Jaser te gaan verken. Hulle het dit saam met sy omringende dorpies ingeneem en die Amoriete verjaag wat daar gebly het.
33Hulle het omgedraai en in die rigting van Basan begin marsjeer. Og, die koning van Basan, het teen hulle uitgetrek om by Edreï teen hulle te veg. 34Die Here het toe vir Moses gesê: “Moenie vir hom bang wees nie. Ek gee vir jou die oorwinning oor hom en sy volk. Ek gee sy land vir jou. Jy sal met hom maak soos jy met Sihon, die koning van die Amoriete, wat in Gesbon gebly het, gemaak het.” 35Hulle het hom en sy seuns en sy volk toe verslaan totdat daar nie een oorgebly het nie. Hulle het sy land oorgeneem.

Currently Selected:

NUMERI 21: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy