MARKUS 10
NLV

MARKUS 10

10
Jesus verduidelik God se wil oor
die huwelik
1Daarna het Jesus Kapernaum verlaat en suidwaarts vertrek na die omgewing van Judea en die gebied aan die oostekant van die Jordaan. Weereens het daar ’n groot skare mense by Hom vergader en soos altyd het Hy hulle weer onderrig.
2’n Paar Fariseërs wat Jesus in ’n strik wou laat trap, kom toe na Hom toe met die volgende vraag: “Laat die wet ’n man toe om van sy vrou te skei?”
3“Wat het Moses julle beveel?” was Jesus se reaksie.
4Hulle het geantwoord: “Moses het dit wel toegelaat. ’n Man moes net eers ’n egskeidingsdokument opstel en dan kon hy van sy vrou skei.”
5Maar Jesus het vir hulle gesê: “Moses het hierdie reëling bloot getref as ’n toegewing aan die sondige verhardheid van julle harte. 6God se bedoeling is egter duidelik van die begin van die skepping af, want daar staan geskryf: ‘Manlik en vroulik het Hy hulle geskep.’ 7En: ‘Daarom sal ’n man sy pa en ma agterlaat en hom by sy vrou voeg. 8So sal hulle tot een liggaam verenig word.’ Hulle is dus nie meer twee nie, maar een liggaam. 9Wat God so saamgevoeg het, mag ’n mens nie uitmekaar haal nie.”
10Toe hulle later weer alleen tuis is, het sy dissipels Hom verder oor hierdie onderwerp uitgevra. 11Hy sê toe vir hulle: “’n Man wat van sy vrou skei en met iemand anders trou, pleeg egbreuk teenoor sy vrou. 12En as sy van haar man skei en met iemand anders trou, pleeg sy egbreuk.”
Jesus seën kindertjies
13Ouers het hulle kindertjies na Jesus toe gebring sodat Hy hulle kon aanraak en seën, maar sy dissipels het hulle daaroor aangespreek.
14Toe Jesus dit sien, was Hy verontwaardig en het vir hulle gesê: “Laat die kindertjies toe om na My toe te kom. Moenie hulle keer nie. Want God se koninkryk is juis bedoel vir almal wat soos hulle is. 15Ek verseker julle, wie God se koninkryk nie soos ’n kindjie ontvang nie, sal beslis nie daar ingaan nie.” 16Toe het Hy sy arms om die kindertjies gesit, sy hande op hulle koppe gelê en hulle geseën.
’n Ryke sien nie kans vir die eis
van dissipelskap nie
17Toe Jesus weer op pad was, hardloop iemand Hom tegemoet, val voor Hom op sy knieë en vra Hom: “Goeie leermeester, wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?”
18“Waarom noem jy My goed?” het Jesus hom gevra. “Net God is werklik goed. 19Maar wat jou vraag betref – jy ken die gebooie: ‘Jy mag nie moord pleeg nie; jy mag nie egbreuk pleeg nie; jy mag nie steel nie; jy mag nie vals getuienis gee nie; jy mag niemand benadeel nie; respekteer jou pa en ma.’”
20“Leermeester,” was sy reaksie, “ek het al hierdie gebooie van my kinderdae af nagekom.”
21Jesus het hom aandagtig aangekyk en liefgekry. “Jy kom net een iets kort,” het Hy vir hom gesê. “Gaan verkoop alles wat jy het en gee die geld vir die armes. Dan sal jy ’n skat in die hemel hê. Kom dan en word my volgeling.”
22Hy was heeltemal verslae en het ontsteld weggegaan, want hy het baie besittings gehad.
23Jesus het toe rondgekyk en vir sy dissipels gesê: “Hoe moeilik is dit nie vir ryk mense om in God se koninkryk te kom nie!”
24Sy dissipels was verbaas hieroor. Jesus reageer toe en sê weer vir hulle: “Kinders, dit is bitter moeilik om in die koninkryk van God te kom. 25Dit is makliker vir ’n kameel om deur ’n naald se oog te kom as vir ’n ryke om in God se koninkryk te kom.”
26Die dissipels was heeltemal verbysterd hieroor en het vir mekaar gesê: “As dit só is, wie kan dan verlos word?”
27Jesus het hulle aangekyk en gesê: “Menslik gesproke is dit onmoontlik, maar tog nie by God nie. Alles is by God moontlik!”
28Petrus begin toe ophaal wat hulle alles opgeoffer het: “U besef dat ons alles agtergelaat het om U te volg.”
29Daarop het Jesus geantwoord: “Ek verseker julle, elkeen wat ’n huis of broers of susters of ma of pa of kinders of eiendom ter wille van My en die Goeie Nuus prysgegee het, 30sal in hierdie tyd honderd maal soveel aan huise en broers en susters en ma’s en kinders en eiendom ontvang; ook nog vervolging, maar in God se nuwe wêreld die ewige lewe! 31Baie wat nou so vernaam lyk, sal eendag heeltemal onbelangrik wees. En dié wat nou nie gereken word nie, sal eendag die belangrikste wees.”
Vir die derde keer kondig Jesus
sy komende dood aan
32Hulle was nou op pad na Jerusalem. Jesus het voor hulle uit geloop, en sy dissipels was vol angs. Ook die mense wat agter hulle aan gekom het, was met vrees vervul. Jesus het weer die twaalf eenkant geneem en vir hulle begin vertel wat met Hom sou gebeur: 33“Luister nou goed. As ons in Jerusalem kom, sal Ek, die Seun van die Mens, uitgelewer word aan die priesterhoofde en die skrifkenners. Hulle sal My tot die dood veroordeel. En hulle sal My uitlewer aan die nie-Jode. 34Hulle sal My bespot en op My spoeg; hulle sal My gésel en doodmaak. Maar ná drie dae sal Ek opstaan.”
Wie ’n leier wil wees, moet
ander dien
35Daarop het Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedeus, na Jesus toe gekom en vir Hom gesê: “Leermeester, ons wil van U ’n guns vra.”
36“Wat moet Ek vir julle doen?” het Hy gevra.
37“In u koninklike heerlikheid – mag ons op die ereplekke regs en links van U sit?” het hulle gevra.
38Jesus het vir hulle gesê: “Julle besef nie wat julle vra nie. Sien julle kans om die bitter lydensbeker te drink wat Ek binnekort gaan drink? Sien julle kans vir die lydensdoop waarmee Ek gedoop moet word?”
39Hulle sê vir Hom: “Ja, ons sien daarvoor kans.”
“Dis waar,” sê Hy vir hulle. “Julle sal inderdaad van my beker drink en met my doop gedoop word, 40maar Ek beskik nie oor wie langs My op my troon sal sit nie. Daardie plekke is bestem vir hulle vir wie God dit gereedgemaak het.”
41Toe die ander tien dissipels hoor wat die twee wou hê, het hulle bitterlik verontwaardig teenoor Jakobus en Johannes geword.
42Jesus roep hulle toe bymekaar en sê vir hulle: “Julle weet in hierdie wêreld tiranniseer die sogenaamde maghebbers die nasies, en die magtiges domineer hulle. 43Maar onder julle moet dit heeltemal anders wees. Wie onder julle ’n leier wil wees, behoort almal te dien. 44En wie eerste onder julle wil wees, moet almal se slaaf wees. 45Selfs Ek, die Seun van die Mens, het immers nie gekom om gedien te word nie, maar om diens te lewer en so selfs my lewe te gee as ’n losprys vir baie mense.”
Jesus maak die blinde
Bartimeus gesond
46So het hulle Jerigo bereik. Later, toe Jesus en sy dissipels vergesel van ’n groot skare Jerigo verlaat, het ’n blinde bedelaar met die naam Bartimeus, die seun van Timeus, langs die pad gesit.
47Toe hy hoor dat dit Jesus van Nasaret is, het hy begin uitroep: “Jesus, Seun van Dawid, ontferm U tog oor my!”
48Baie mense het hom toe aangespreek en gesê hy moet stilbly, maar hy het net nog harder aanhou roep: “Seun van Dawid, ontferm U tog oor my!”
49Jesus het toe gaan staan en gesê: “Roep hom.” Hulle roep toe die blinde en sê vir hom: “Wees bly! Staan op, Jesus roep jou.” 50Hy het sy bo-kleed eenkant gegooi, opgespring en na Jesus toe gekom.
51“Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?” het Jesus gevra. Hy het gesê: “O Leermeester, dat ek kan sien!”
52Toe het Jesus vir hom gesê: “Gaan maar. Omdat jy so vas geglo het, het jy gesond geword.” Dadelik kon hy sien en hy het op die pad agter Jesus aan gegaan.

2006 Christlike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930, Eerste uitgawe 2006, Tweede uitgawe 2011


Learn More About Nuwe Lewende Vertaling