YouVersion Logo
Search Icon

MATTEUS 26

26
Die volksleiers sweer saam om Jesus dood te maak
1Nadat Jesus al hierdie uitsprake afgehandel het, het Hy vir sy dissipels gesê: 2“Julle weet dat dit oor twee dae Paasfees is. Dan sal Ek, die Seun van die Mens, oorgegee word om gekruisig te word.”
3Juis in daardie tyd het die priesterhoofde en die familiehoofde in die huis van Kajafas, die hoofpriester, vergader 4en saam beraadslaag oor hoe hulle Jesus in die geheim kon vang en uit die weg ruim. 5Hulle het egter saamgestem: “Nie in die openbaar terwyl die skares feesvier nie; anders kom daar ’n oproer onder die volk.”
’n Vrou vereer Jesus met duur olie
6Jesus was in Betanië in die huis van Simon die melaatse. 7Terwyl Hy aan tafel was, kom daar ’n vrou na Hom toe met ’n albaste fles vol duur aromatiese olie en gooi dit op sy kop uit. 8Toe die dissipels dit sien, het hulle hulle daaroor opgewerk. “Watter vermorsing,” het hulle onder mekaar gesê, 9“sy kon dit vir ’n yslike bedrag verkoop en die geld vir die armes gegee het!”
10Jesus het dit egter agtergekom en vra hulle toe: “Waarom maak julle dit so moeilik vir hierdie vrou? Sy het immers ’n weldaad aan My gedoen. 11Die armes sal julle altyd by julle hê, maar Ek sal nie meer lank by julle wees nie. 12Toe sy hierdie olie op My uitgegooi het, het sy eintlik my liggaam vir my begrafnis voorberei. 13Ek verseker julle, waar hierdie Goeie Nuus ook al oor die hele wêreld verkondig sal word, sal daar ook gepraat word van wat sy gedoen het, en so sal sy vir altyd onthou word!”
Judas onderneem om Jesus aan die volksleiers uit te lewer
14Toe het Judas Iskariot, een van die twaalf dissipels, na die priesterhoofde toe gegaan 15en gevra: “Wat is julle bereid om my te betaal as ek Jesus aan julle besorg?” Hulle het hom toe 30 silwer geldstukke aangebied. 16Van toe af was hy op die uitkyk vir ’n geskikte geleentheid om Jesus aan hulle uit te lewer.
Jesus stel die nagmaal by sy laaste paasmaaltyd in
17Op die eerste dag van die Fees van die Ongesuurde Brood het die dissipels vir Jesus kom vra: “Waar wil U hê moet ons die paasmaaltyd vir U voorberei?”
18Hy antwoord toe: “Gaan stad toe na so en so en sê vir hom: ‘Jesus die Leermeester sê: My tyd het gekom. Ek wil by jou die paasmaaltyd saam met my dissipels eet.’” 19Die dissipels het toe gedoen soos Jesus hulle beveel het en die paasete voorberei.
20Teen die aand was Jesus saam met die twaalf aan tafel. 21Terwyl hulle besig was om te eet, het Hy gesê: “Ek verseker julle, een van julle gaan My uitlewer#26:21, 23, 24, 25 Of verraai..”
22Hulle was geweldig geskok en het Hom die een na die ander gevra: “Dit is tog seker nie ek nie, Here?”
23Daarop het Jesus gesê: “Dit is die een wat sy hand hier saam met My in die skottel steek, wat My gaan uitlewer#26:21, 23, 24, 25 Of verraai.. 24Ek, die Seun van die Mens, moet sterf soos daar van My geskryf staan, maar dit sal bitter swaar gaan met daardie man wat My uitlewer#26:21, 23, 24, 25 Of verraai.. Hy moes liewer nooit gebore gewees het nie!”
25Judas, die een wat Hom sou uitlewer#26:21, 23, 24, 25 Of verraai., reageer toe en vra: “Dit is tog seker nie ek nie, Rabbi?” Hy antwoord hom: “Daar sê jy dit self.”
26Terwyl hulle besig was om te eet, neem Jesus brood en vra God se seën daarop. Toe breek Hy dit in stukke en gee dit aan sy dissipels met die woorde: “Neem en eet dit. Dit is my liggaam.” 27En Hy het die beker geneem en God daarvoor gedank. Hy het dit aan hulle gegee met die woorde: “Drink almal daaruit, 28want dit is my bloed wat die verbond tussen God en sy volk verseël. Dit word vir baie vergiet sodat hulle sondes vergewe kan word. 29Ek verklaar nou hier plegtig dat Ek van nou af nie weer wyn sal drink nie totdat Ek opnuut die feeswyn saam met julle sal drink in die koninkryk van my Vader.”
30Hulle het toe die loflied gesing en uitgegaan na die Olyfberg toe.
Jesus voorspel dat Petrus gaan ontken dat hy sy dissipel is
31Jesus het toe vir hulle gesê: “Vannag gaan julle almal aanstoot aan My neem. Daar staan immers geskryf:
‘Ek sal die skaapwagter doodmaak
en die skape van die trop
sal uitmekaargejaag word.’#26:31 Sag 13:7.
32“Maar nadat Ek uit die dood opgewek is, sal Ek vooruit na Galilea toe gaan en daar vir julle wag.” 33Petrus verseker Hom toe: “Al laat almal U in die steek – ék sal dit nooit doen nie.” 34Jesus antwoord hom: “Glo My, Petrus, vannag nog, voordat die haan kraai, sal jy drie maal ontken dat jy my dissipel is.”
35Petrus sê toe vir Hom: “Al moet ek saam met U sterf – ek sal dit beslis nooit doen nie!” Al die dissipels het dieselfde verklaar.
Jesus se gebedsworsteling in Getsemane
36Jesus kom toe saam met hulle by ’n olyftuin met die naam Getsemane en Hy sê: “Sit julle hier, terwyl Ek daar anderkant gaan bid.”
37Hy neem toe vir Petrus en die twee seuns van Sebedeus saam met Hom. Daarop oorval ’n groot ontsteltenis en benoudheid Hom. 38Hy sê toe vir hulle: “Ek is benoud tot sterwens toe.#26:38 Vgl Ps 42:6, 12. Bly julle hier, en waak saam met My.”
39Hy het toe ’n entjie verder neergeval en met sy gesig plat teen die grond gebid: “O my Vader! As dit moontlik is, neem tog hierdie lydensbeker van My weg. Doen nogtans nie soos Ék wil nie, maar soos Ú wil.” 40Hy kom toe terug by die dissipels en kry hulle aan die slaap. Hy sê vir Petrus: “So, kon julle dan nie eers een uur saam met My wakker bly nie? 41Wees waaksaam en bid sodat julle nie in die versoeking kom nie. ’n Mens se gees is wel gewillig, maar jou liggaam hou nie altyd by nie.”
42Weer het Hy van hulle af weggegaan en gebid: “My Vader! As hierdie beker nie van My kan weggaan sonder dat Ek dit moet drink nie, laat u wil dan uitgevoer word.” 43Hy het toe teruggegaan en kry hulle weer aan die slaap. Hulle was so vaak dat hulle oë eenvoudig nie wou oopbly nie.
44Hy het hulle toe daar gelos en weer weggegaan en dieselfde gebed vir die derde keer gebid. 45Toe kom Hy na sy dissipels toe en sê: “Slaap en rus julle nog steeds?#26:45 Of Slaap maar voort en rus. Die tyd het aangebreek! Ek, die Seun van die Mens, word nou oorgegee in die hande van slegte mense. 46Staan op, ons moet gaan! Kyk, my verraaier is hier.”
Jesus word gearresteer
47Jesus was nog besig om te praat, toe kom Judas, een van die twaalf dissipels, al daar aan, en saam met hom ’n groot klomp mense gewapen met swaarde en knuppels. Hulle is gestuur deur die priesterhoofde en die familiehoofde van die volk. 48Sy verraaier het vir hulle ’n uitkenningsteken gegee en gesê: “Die een wat ek met ’n soen sal groet, dit is hý. Arresteer hom!” 49Hy het toe direk na Jesus toe gekom en gesê: “Gegroet, Rabbi!” Toe soengroet hy Hom. 50Jesus het vir hom gesê: “Vriend, gaan voort met dit waarvoor jy gekom het.”#26:50 Of Waarvoor is jy hier? Die ander het toe nadergekom, Jesus gegryp en Hom gearresteer.
51Skielik het een van Jesus se mense sy swaard uitgepluk, die slaaf van die hoofpriester getref, en sy oor afgekap. 52“Bêre jou swaard,” sê Jesus vir hom. “Almal wat die swaard opneem, sal deur die swaard vernietig word. 53Besef jy nie dat Ek ’n ganse leërmag#26:53 Grondteks meer as twaalf legioene. ’n Legioen het uit 6 000 man bestaan. engele van my Vader sou kon vra en Hy sal hulle oombliklik stuur nie? 54Maar as Ek dit sou doen, hoe sou die Skrifwoord dan vervul word waarvolgens dit juis op hierdie manier moet gebeur?”
55Daarop vra Jesus vir die klomp mense: “Is Ek dan ’n gevaarlike krimineel dat julle My met swaarde en knuppels kom vang? Hoekom het julle My nie gearresteer waar Ek dag na dag by die tempel gesit en onderrig gee het nie? 56Maar dit alles gebeur sodat wat die profete geskryf het, vervul kan word.”
Dit was toe dat al Jesus se dissipels Hom net daar gelos het en gemaak het dat hulle wegkom.
Jesus word deur die Joodse Raad verhoor
57Die groep wat Jesus gearresteer het, het Hom toe na die woning van Kajafas, die hoofpriester, gebring waar die skrifkenners en die familiehoofde bymekaar was. 58Intussen het Petrus Hom op ’n veilige afstand gevolg totdat hy uiteindelik in die binnehof van die hoofpriester se woning beland het. Daar het hy by die dienspersoneel gaan sit om te sien wat gaan gebeur.
59Die priesterhoofde, trouens die hele Joodse Raad, het vals getuienis teen Jesus probeer kry wat tot sy doodstraf sou lei. 60En, alhoewel baie hulle kom aanmeld het om vals getuienis teen Jesus te gee, kon hulle geen afdoende getuienis teen Hom kry nie. Eindelik het daar twee gekom 61en getuig: “Hierdie man het beweer: ‘Ek kan die tempel afbreek en binne drie dae weer opbou.’”
62Daarop het die hoofpriester opgestaan en vir Jesus gevra: “Het jy niks te sê op hierdie aanklag nie? Wat is hierdie ding wat hulle teen jou getuig?” 63Maar Jesus het bly swyg.
Toe sê die hoofpriester: “Ek eis nou van jou in die Naam van die lewende God dat jy vir ons moet sê of jy die Messias, die Seun van God is.”
64Jesus het geantwoord: “Ja, dit is soos u sê. Ek verseker julle:
Julle sal My, die Seun van die Mens,
sien sit aan die regterhand
van God, die Magtige,
en hoe Hy terugkom
op die wolke van die hemel.”#26:64 Vgl Ps 110:1; Dan 7:13.
65Toe skeur die hoofpriester sy klere om te wys hoe geskok hy is en hy roep uit: “Lasterlik! Watter ander getuies het ons nog nodig? Julle het tog nou self hierdie lastering teen God gehoor. 66Wat is julle bevinding?”
“Hy is skuldig,” antwoord hulle, “hy verdien die doodstraf.”
67Daarop spoeg hulle Hom in die gesig en slaan Hom met hulle vuiste. Party het Hom geklap en 68gesê: “Profeteer vir ons, geagte Messias! Wie is dit wat jou nou net geslaan het?”
Petrus ontken dat hy Jesus se dissipel is
69Petrus het nog steeds buite in die binnehof gesit. ’n Diensmeisie kom toe nader en sê: “Jy was mos ook saam met Jesus die Galileër?”
70Hy het dit egter voor almal ontken. “Ek weet nie waarvan jy praat nie,” het hy verklaar. 71Later, toe hy op pad was na die uitgang, sien ’n ander diensmeisie hom raak en sê vir die omstanders: “Hierdie man was ook saam met Jesus van Nasaret.”
72Weer het hy dit ontken, hierdie keer met ’n eed: “Ek ken hierdie man glad nie!”
73Nog ’n klein rukkie later kom sê dié wat daar rondstaan vir Petrus: “Jy is definitief een van hulle; jou aksent#26:73 Die Galileërs het met ’n eie aksent gepraat. verklap jou.”
74Daarop het Petrus hewig begin vloek en gesê: “Ek sweer voor God, ek ken hierdie man hoegenaamd nie!” Onmiddellik het die haan begin kraai. 75Skielik het Jesus se woorde deur Petrus se gedagtes geflits: “Voordat die haan kraai, sal jy drie maal ontken dat jy my dissipel is.” Daarop het hy buitentoe gegaan en hartstogtelik gehuil.

Currently Selected:

MATTEUS 26: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy