MATTEUS 25
NLV
25
Die gelykenis van die tien
meisies
1“In daardie tyd sal dit met die koninkryk van God gaan soos met tien meisies wat met hulle lampe die bruidegom gaan inwag het. 2Vyf van hulle was dwaas, maar die ander vyf was verstandig. 3Die vyf dwase meisies het wel hulle lampe saamgeneem, maar geen ekstra olie nie. 4Die ander vyf daarenteen was verstandig genoeg om, afgesien van hulle lampe, ook nog ekstra olie in houers saam te vat. 5Toe die bruidegom lank wegbly, het almal vaak geword en aan die slaap geraak. 6Dit was al teen middernag toe ’n geroep hulle wakker maak: ‘Hier kom die bruidegom! Gaan verwelkom hom!’
7“Daarop het al die meisies opgespring en hulle lampe begin regkry. 8Die dwases vra toe vir die verstandiges: ‘Help ons asseblief met ’n bietjie van julle olie, want ons lampe is aan die doodgaan.’ 9Maar die verstandiges het geantwoord: ‘Nee, ons kan nie. Daar is nie genoeg vir ons almal nie. Gaan koop liewer vir julle by die winkel.’
10“Terwyl die onverstandiges weg was om olie te gaan koop, het die bruidegom opgedaag. Dié wat gereed was, het saam met hom ingegaan na die bruilofsfees en die deur van die feesvertrek is gesluit. 11Later kom die ander meisies toe ook en roep van buite af: ‘Meneer, Meneer, maak asseblief vir ons oop!’ 12Maar hy het teruggeroep: ‘Ek ken julle glad nie!’
13“Wees dus altyd wakker en gereed, want julle ken nie die presiese datum of tyd van my koms nie.”
Die gelykenis van die drie slawe
en die goue muntstukke
14“Verder is God se koningsheerskappy soos iemand wat op reis wou gaan. Hy roep toe sy slawe bymekaar en vertrou sy geld aan hulle toe om daarmee te woeker terwyl hy weg is. 15Vir die eerste slaaf het hy vyf kosbare goue muntstukke gegee, vir die tweede slaaf twee, en vir die derde slaaf een – vir elkeen volgens sy spesifieke bekwaamheid – en toe het hy vertrek. Dadelik 16het die een wat die vyf goue muntstukke ontvang het, daarmee aan die werk gespring en dit spoedig verdubbel. 17Net so het die een wat twee goue muntstukke ontvang het, ook sy geld verdubbel. 18Maar die een wat net een goue muntstuk ontvang het, het ’n gat in die grond gaan grawe en sy eienaar se geld daarin weggesteek.
19“Na ’n lang tyd het daardie slawe se eienaar van sy reis teruggekeer en hulle gevra om te rapporteer wat hulle met sy geld gedoen het. 20Die slaaf wat die vyf goue muntstukke ontvang het, verskyn toe voor hom en bring die vyf ekstra goue muntstukke saam. ‘Meneer,’ sê hy, ‘u het vir my vyf goue muntstukke gegee. Kyk, ek het die bedrag verdubbel!’ 21Die eienaar het hom geprys en gesê: ‘Uitstekend! Jy is ’n voortreflike slaaf; een op wie ek kan staatmaak. In die kleine het jy jou betroubaar bewys. Daarom gaan ek nog baie groter verantwoordelikhede aan jou toevertrou. Kom vier saam met my fees!’
22“Die een wat die twee goue muntstukke ontvang het, verskyn toe ook voor hom en sê: ‘Meneer, twee goue muntstukke het u aan my gegee. Kyk, ek het die bedrag verdubbel!’ 23Die eienaar het hom geprys en gesê: ‘Uitstekend! Jy is ’n voortreflike slaaf; een op wie ek kan staatmaak. In die kleine het jy jou betroubaar bewys. Daarom gaan ek nog baie groter verantwoordelikhede aan jou toevertrou. Kom vier saam met my fees.’
24“Daarna verskyn die een wat die een goue muntstuk ontvang het ook voor hom en sê: ‘Meneer, ek het besef dat u ’n veeleisende persoon is wat wil oes waar u nie self gesaai het nie en wil insamel waar u niks ingesit het nie. 25Daarom was ek te bang om iets te waag en het maar liewer u muntstuk in die grond gaan wegsteek. Hier is u geld nou.’
26“Maar sy eienaar het hom geantwoord: ‘Jou slegte slaaf! Jou lamsak! So, jy het geweet dat ek ’n veeleisende mens is wat wil oes waar ek nie self gesaai het nie en wil insamel waar ek niks ingesit het nie? 27Dan moes jy mos my geld in die bank belê het en ek sou by my terugkoms ten minste my geld met rente kon terugkry.’
28“Hy sê toe vir die ander: ‘Vat die muntstuk by hom en gee dit vir die een wat die tien muntstukke het. 29Aan hulle wat dit wat aan hulle toevertrou is goed gebruik, sal nog meer gegee word. Ja, hulle sal oorvloed hê. Maar van hulle wat niks kan wys nie, sal selfs die bietjie wat hulle het, ook nog weggeneem word. 30En daardie nikswerd slaaf – gooi hom uit in die donkerte daar buite. Dáár sal hulle bitterlik huil en van selfverwyt op die tande kners.’”
Die gelykenis van die bokke en
skape by die eindoordeel
31“Wanneer die Seun van die Mens in sy heerlikheid kom en al sy engele saam met Hom, sal Hy op sy koninklike troon gaan sit.
32“Al die nasies sal voor Hom bymekaargebring word en Hy sal hulle van mekaar skei soos ’n skaapwagter die skape van die bokke skei. 33Hy sal die skape aan sy regterkant laat staan en die bokke aan sy linkerkant. 34Daarop sal die Koning vir dié aan sy regterkant sê: ‘Kom julle, want my Vader het julle geseën. Kom ontvang julle erfenis – die koninkryk wat my Vader reeds van voor die begin van die wêreld af vir julle gereed gemaak het. 35Want toe Ek honger was, het julle vir My kos gegee; toe Ek dors was, het julle vir My iets gegee om te drink; toe Ek ’n hawelose vreemdeling was, het julle My in julle huise ontvang; 36toe Ek niks gehad het om aan te trek nie, het julle vir My klere gegee; toe Ek siek was, het julle na My omgesien; toe Ek in die tronk was, het julle My opgesoek.’
37“Daarop sal dié wat God se wil uitgevoer het Hom antwoord: ‘Maar wanneer het ons U dan honger gesien, en vir U kos gegee? Of dors, en vir U iets gegee om te drink? 38En wanneer het ons gesien dat U ’n hawelose vreemdeling was, en U in ons huise ontvang? Of dat U niks gehad het om aan te trek nie, en ons het vir U klere gegee? 39En wanneer het ons U siek gesien of in die tronk, en U opgesoek?’ 40En die Koning sal vir hulle antwoord: ‘Ek verseker julle: As julle iets hiervan vir een van my broers of susters gedoen het, selfs al was dit vir die heel eenvoudigste onder hulle, het julle dit vir Mý gedoen.’
41“Dan sal die Koning vir dié aan sy linkerkant sê: ‘Gaan weg van My af, want God het julle vervloek! Gaan na die ewige vuur wat gereed gemaak is vir die duiwel en sy bose engele! 42Want toe Ek honger was, het julle nie vir My kos gegee nie; toe Ek dors was, het julle nie vir My iets gegee om te drink nie; 43toe Ek ’n hawelose vreemdeling was, het julle My nie in julle huise ontvang nie; toe Ek niks gehad het om aan te trek nie, het julle nie vir My klere gegee nie; toe Ek siek en in die tronk was, het julle nie na My omgesien nie.’
44“Daarop sal hulle vra: ‘Here, wanneer het ons U ooit honger of dors of haweloos of sonder klere of siek of in die tronk gesien, en nagelaat om U te versorg?’ 45Dan sal Hy hulle antwoord: ‘Ek verseker julle, as julle versuim het om een van die eenvoudigstes van my broers of susters te help, het julle versuim om Mý te help.’
46“Hulle sal dan in die ewige straf ingaan, maar dié wat God se wil uitgevoer het, in die ewige lewe.”

2006 Christlike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930, Eerste uitgawe 2006, Tweede uitgawe 2011

Learn More About Nuwe Lewende Vertaling