YouVersion Logo
Search Icon

MATTEUS 16

16
Jesus weier weer ’n wonderteken
1Op ’n dag kom die Fariseërs en Sadduseërs na Jesus toe om die egtheid van sy aansprake te toets. Hulle vra Hom toe om aan hulle ’n Goddelike wonderteken te gee.
2Hy antwoord hulle toe: “Julle ken die gesegde: ‘Rooi lug skemeraand beteken mooi weer môre; 3toegetrekte rooi lug met vroegdag beteken slegte weer deur die dag.’ Julle verstaan die kuns om die weervooruitsig uit die tekens in die lug te lees; hoe kan julle dan nie die duidelike tekens raaksien van die besondere tyd waarin julle julle bevind nie? 4Dit is net ’n slegte en ontroue geslag mense wat ’n wonderteken wil hê. Die enigste teken wat Ek vir hulle sal gee, is die teken van die profeet Jona.” Hy het hulle toe net daar gelos en weggegaan.
Oppas vir die invloed van die Fariseërs en die Sadduseërs!
5Later, nadat hulle die see oorgesteek het, ontdek die dissipels dat hulle vergeet het om kos saam te neem. 6Jesus sê toe vir hulle: “Wees baie versigtig vir die suurdeeg van die Fariseërs en die Sadduseërs.” 7Hulle het toe onder mekaar geargumenteer: “Hy sê dit omdat ons geen brood saamgebring het nie.” 8Jesus het dit geweet en gesê: “Waarom argumenteer julle onder mekaar, dat julle nie brood het nie? Het julle so min vertroue in My? 9Verstaan julle nog steeds nie? Onthou julle nie van die vyf brode vir die 5 000, en hoeveel mandjies vol julle agterna bymekaargemaak het nie? 10En die sewe brode vir die 4 000, en hoeveel mandjies vol julle bymekaargemaak het nie? 11Hoe kan dit ooit in julle gedagtes opkom dat Ek oor gewone kos praat? Daarom sê Ek nou weer vir julle: ‘Oppas vir die suurdeeg van die Fariseërs en die Sadduseërs!’”
12Toe het hulle einde ten laaste ingesien dat Hy hulle nie waarsku teen gewone suurdeeg wat vir brood gebruik word nie, maar teen die beskouings van die Fariseërs en die Sadduseërs.
Petrus bely dat Jesus die Messias is
13Toe Jesus in die omgewing van Sesarea-Filippi kom, vra Hy sy dissipels: “Wie dink die mense is Ek, die Seun van die Mens?”
14“Wel,” antwoord hulle, “party sê U is Johannes die Doper, ander weer Elia, nog ander Jeremia, of een van die ander profete.”
15Hy sê toe vir hulle: “En wat van julle, wie sê julle is Ek?”
16Simon Petrus het geantwoord: “U is die Messias, die Seun van die lewende God.”
17Jesus het hom geantwoord: “Gelukkig is jy, Simon seun van Jona, want my hemelse Vader het dit aan jou bekendgemaak. Hierdie wete het jy nie van enige mens ontvang nie.
18“Ek verklaar nou vir jou: ‘Jy is Petrus. Op hierdie rots#16:18a Petrus beteken klip of rots. sal Ek my kerk oprig, en al die magte van die doderyk#16:18b Grondteks poorte van die doderyk. sal dit nie oorwin nie. 19Ek vertrou die sleutels van God se koninkryk aan jou toe. Wat jy ook al op aarde toesluit, sal ook by God#16:19 Grondteks in die hemel. toegesluit bly, en wat jy ook al oopsluit, sal ook by God oopgesluit bly.’”
20Hy gee toe streng opdrag aan sy dissipels om vir niemand te vertel dat Hy die Messias is nie.
Jesus kondig sy komende dood vir die eerste keer aan
21Van toe af het Jesus dit vir sy dissipels begin duidelik maak dat God wil hê Hy moet na Jerusalem toe gaan. Daar moet Hy baie ly onder die familiehoofde, die priesterhoofde en die skrifkenners, en doodgemaak word, maar God sal Hom op die derde dag opwek.
22Petrus het Hom egter eenkant toe gevat en ernstig begin bestraf: “Mag God dit verhoed, Here. Dit sal U nooit as te nimmer oorkom nie!”
23Maar Jesus het Hom omgedraai en vir Petrus gesê: “Gee pad agter My, jou satan#16:23 Satan beteken teenstander.! Jy maak dit vir My bitter moeilik. Jy dink soos mense dink – nie soos God nie.”
24Jesus het toe vir sy dissipels gesê: “As julle my volgelinge wil wees#16:24 Of agter My aan wil kom., moet julle julle eie ek prysgee, julle kruis op julle skouers neem, en agter My aan kom. 25As julle probeer om julle lewe vir julleself te bewaar, sal julle dit verloor. Maar as julle julle lewe ter wille van My prysgee, sal julle ware lewe vind. 26Wat sal dit jou tog help as jy alles in die lewe bereik, maar jy ly skade aan jou diepste menswees#16:26 Grondteks jou siel.? Jy sal met niks ter wêreld daarvoor kan vergoed nie. 27Ek, die Seun van die Mens, sal inderdaad kom, vergesel van God se engele. Ek sal met die heerlikheid van my Vader beklee wees, en Ek sal almal oordeel volgens hulle dade. 28Dít verseker Ek julle, sommige van julle wat hier staan, sal nie sterf voordat julle sal sien hoe Ek, die Seun van die Mens, kom en regeer in my koninkryk nie.”

Currently Selected:

MATTEUS 16: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy