LUKAS 8
NLV
8
Vrouedissipels van Jesus
1Nie lank hierna nie het Jesus begin met ’n reis deur al die dorpe en kleiner plekkies om die Goeie Nuus oor die koningsheerskappy van God bekend te maak. Hy het sy twaalf dissipels saamgeneem, 2asook ’n paar vroue wat Hy gesond gemaak het en uit wie Hy bose geeste gedryf het. Onder hulle was Maria Magdalena uit wie Hy sewe bose geeste gedryf het, 3Johanna, die vrou van Gusa, Herodes se sakebestuurder, Susanna en baie ander wat uit hulle eie middele bygedra het om Jesus en sy dissipels te onderhou.
Die gelykenis van die boer en sy
saad
4Eendag het Jesus hierdie gelykenis vertel aan ’n groot skare wat uit baie dorpe gekom het om na Hom te luister:
5“’n Boer het uitgegaan om saad te saai. Terwyl hy dit oor die land gestrooi het, het ’n deel op ’n voetpad geval waarop getrap word en die voëls het dit kom eet. 6’n Ander deel het in vlak grond op ’n klipbank geval. Hierdie saad het begin groei, maar het gou verlep en verdroog omdat daar nie vog was nie. 7Nog ’n deel het geval waar dorings opgeskiet en die nuwe blare versmoor het. 8En ’n ander deel het in vrugbare grond geval. Hierdie saad het gegroei en het ’n oes gelewer 100 maal soveel as wat geplant is.” Toe Hy dit sê, roep Hy uit: “Enigeen wat wil hoor, moet luister en verstaan!”
9Sy dissipels het Hom gevra wat die gelykenis beteken. 10Hy het geantwoord: “God het dit aan julle gegee om die geheime van sy koningsheerskappy te verstaan. Maar vir buitestanders is die gelykenisse raaisels, sodat dit waar word wat die Skrif sê:
‘Hulle sien wat Ek doen,
maar eintlik sien hulle nie;
hulle hoor wat Ek sê,
maar hulle verstaan nie.’
11“Die betekenis van die gelykenis is dit: Die saad is God se boodskap. 12Die saad wat op die harde pad geval het, is die mense wat die boodskap hoor, maar dan kom die duiwel en steel dit en verhoed hulle om te glo en verlos te word.
13“Die klipperige grond is mense wat die boodskap met blydskap aanhoor. Maar soos jong plantjies in sulke grond het hulle nie diep wortels nie. Hulle glo wel vir ’n rukkie, maar hulle verlep wanneer die warm winde van beproewing waai.
14“Die saad tussen die onkruid is mense wat die boodskap hoor en ook aanvaar, maar tog te gou word dit verdring deur die sorge en rykdom en plesiere van hierdie lewe. En só groei hulle nooit tot volwassenheid nie.
15“Maar die saad wat in goeie grond val, is mense met ’n goeie en opregte hart wat God se boodskap hoor, daaraan vashou en konstant ’n groot oes oplewer.”
Wat geheim is, sal bekend word
16“Niemand steek ’n lamp op en maak dit dan met iets toe of sit dit onder ’n bed nie. Nee, lampe word op ’n lampstaander geplaas waar mense wat ’n huis binnekom, dit kan sien. 17Want alles wat weggesteek is, sal sigbaar word en alles wat geheim is, sal uiteindelik aan die lig kom vir almal om te sien. 18Gee daarom aandag aan wat jy hoor. Aan dié wat hulle oopstel vir my lering, sal groter begrip gegee word. Maar dié wat nie luister nie, van hulle sal selfs dit wat hulle dink hulle het, weggeneem word.”
Die nuwe geestelike gesinslede
van Jesus
19Eenkeer toe Jesus se ma en broers gekom het om Hom te besoek, kon hulle vanweë die skare nie by Hom uitkom nie. 20Iemand het vir Jesus gesê: “U ma en broers is hier buite en wil U graag sien.”
21Jesus het geantwoord: “My ma en broers is al die mense wat die boodskap van God hoor en dit gehoorsaam.”
Jesus kalmeer ’n storm
22Eendag het Jesus vir sy dissipels gesê: “Kom ons vaar oor na die ander kant van die meer.” Hulle het in ’n skuit geklim en begin oorvaar. 23Op pad oorkant toe het Jesus gaan lê om te slaap, en terwyl Hy slaap, het die wind begin opsteek. ’n Hewige storm het losgebars wat hulle wou laat ondergaan. Hulle was in lewensgevaar.
24Die dissipels het Hom wakker geskud en geskree: “Leermeester, ons is besig om onder te gaan!”
Jesus het die siedende wind en golwe bestraf. Die storm het bedaar en alles was weer kalm. 25Toe vra Hy vir hulle: “Waar is julle geloof?”
En hulle was vervul met ontsag en verbasing. Hulle het vir mekaar gesê: “Wie is hierdie Man tog dat Hy selfs die wind en die golwe opdrag gee en hulle Hom gehoorsaam?”
Jesus genees ’n duiwelbesete
man
26Hulle het toe in die land van die Geraseners aangekom, aan die oorkant van die See van Galilea. 27Terwyl Jesus uit die skuit klim, het ’n man wat van duiwels besete was en vroeër in die plaaslike dorp gewoon het, na Hom toe gekom. Hy was kaal en het nie ’n huis gehad nie; hy het vir ’n lang tyd in ’n begraafplaas gebly. 28Net toe hy Jesus sien, het hy gegil en op die grond voor Hom geval en geskreeu: “Waarom steur U my, Jesus, Seun van die allerhoogste God? Asseblief, ek smeek U, moet my nie martel nie!” 29Want Jesus het alreeds die bose gees beveel om hom te verlaat. Die gees het hom dikwels beetgepak. Selfs al was hy met kettings geboei, het hy dit eenvoudig gebreek en in die woestyn ingehardloop, heeltemal in die mag van die bose gees.
30“Wat is jou naam?” het Jesus gevra.
“Legio,” het hy geantwoord, want hy was van baie bose geeste besete. 31Die bose geeste het Jesus aanhou smeek om hulle nie na die onderaardse diepte te stuur nie. 32’n Groot trop varke het teen die berghang daar naby gewei, en die bose geeste het gesmeek om in die varke in te vaar. Jesus het hulle toegelaat. 33Die bose geeste het toe uit die man uitgekom en in die varke gevaar, en die hele trop het teen die hang afgestorm die see in en versuip.
34Toe die wagters dit sien, het hulle na die dorp daar naby en sy omliggende gebiede gehardloop en die nuus versprei so ver hulle gehardloop het. 35Daar het gou ’n skare rondom Jesus vergader, want hulle wou self sien wat gebeur het. Hulle het die man wat voorheen van duiwels besete was, by Jesus se voete sien sit, geklee en by sy volle verstand; en die hele skare het bang geword. 36Toe het die mense wat gesien het wat gebeur het, die ander vertel hoe die duiwelbesete man genees is. 37En al die mense in daardie omgewing het Jesus gesmeek om weg te gaan en hulle uit te los, want groot vrees het hulle beetgepak.
Jesus het toe in die skuit geklim en na die oorkant van die meer teruggekeer. 38Die man wat van duiwels besete was, het gesoebat om ook saam te gaan, maar Jesus het gesê: 39“Nee, gaan terug na jou familie toe en vertel vir hulle al die wonderlike dinge wat God vir jou gedoen het.”
Hy het toe deur die hele dorp loop en vertel watter groot ding Jesus vir hom gedoen het.
Jesus maak ’n vrou gesond wat
aan chroniese bloeding ly, en
wek ’n dogtertjie op
40By sy terugkeer het die skares Jesus met ope arms ontvang omdat hulle vir Hom gewag het. 41’n Man met die naam Jaïrus, ’n leier van die plaaslike sinagoge, het gekom en voor Jesus se voete neergeval en Hom gesoebat om saam met hom na sy huis te gaan. 42Sy enigste kind, ’n dogter van twaalf, was sterwend.
Terwyl Jesus saam met hom gegaan het, is Hy deur skares omring. 43Daar was ’n vrou in die skare wat twaalf jaar lank aan chroniese bloeding gely het. Sy het alles wat sy gehad het, aan dokters bestee, maar kon nie genees word nie. 44Sy het van agter na Jesus gekom en die soom van sy kleed aangeraak. Onmiddellik het die bloeding gestop.
45“Wie het My aangeraak?” het Jesus gevra.
Almal het dit ontken, en Petrus het gesê: “Meneer, die hele skare stoot en druk voortdurend teen U.”
46Maar Jesus het vir hom gesê: “Nee, iemand het My opsetlik aangeraak, want Ek het genesende krag uit My voel vloei.”
47Toe die vrou besef dat Jesus weet, het sy begin bewe en op haar knieë voor Hom neergeval. Die hele skare het haar hoor vertel waarom sy Hom aangeraak het en hoe sy onmiddellik gesond geword het. 48“Dogter,” het Hy vir haar gesê, “jou geloof het jou genees. Gaan in vrede.”
49Terwyl Hy nog met haar praat, het ’n boodskapper van Jaïrus se huis af gekom met die nuus: “Jou dogter is dood. Dis nie meer nodig om die Leermeester te pla nie.”
50Maar toe Jesus hoor wat gebeur het, sê Hy vir Jaïrus: “Moenie jou ontstel nie. Vertrou My net en dit sal goed gaan met haar.”
51Toe hulle by die huis aankom, wou Jesus niemand saam met Hom laat ingaan nie, behalwe Petrus, Jakobus en Johannes, en die dogtertjie se pa en ma. 52Die huis was vol mense wat gehuil en getreur het, maar Jesus sê: “Hou op huil! Sy is nie dood nie; sy slaap net.”
53Die skare het Hom uitgelag, want almal het geweet sy is dood. 54Jesus vat haar toe aan die hand en sê hardop: “Staan op, my kind!”
55En op daardie oomblik het die lewe in haar teruggekom, en sy het onmiddellik opgestaan! Jesus vra hulle toe om haar iets te ete te gee. 56Haar ouers was oorstelp, maar Jesus het daarop aangedring dat hulle niemand vertel wat gebeur het nie.

2006 Christlike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930, Eerste uitgawe 2006, Tweede uitgawe 2011

Learn More About Nuwe Lewende Vertaling